Klein genoeg vir groot impak

Voor ons te ontsteld raak oor kerkgetalle wat daal, voor ons verder droom van 'n groot kerk wat floreer, is dit dalk nodig dat ons net weer onthou wie ons is.

Vriende van my was onlangs op 'n staptoer. Weer eens moes ek dieselfde ou storie hoor: “Ons het te veel goed saamgevat. . ."

Ek is nie 'n vreeslike stapper nie, maar ek het destyds met 'n kajak van die Vaaldam af see toe geroei en dieselfde ervaring gehad.

'n Klomp van die goed wat ek saamgevat het om my reis beter te maak, het presies die teenoorgestelde uitwerking gehad. My kajak was onnodig swaar en het water ingekry.

Ek moes afpak en dinge agterlaat. Om ligter te reis was 'n moeilike maar nodige besluit, 'n besluit waarsonder die reis vorentoe onmoontlik was.

Hierdie beginsel geld ook vir die kerk. Deur die jare het sy al swaarder begin reis, groter strukture gebou, al meer hulpmiddels bymekaar gemaak, dikwels met die beste motief.

In die proses het ons egter vergeet hoe min ons eintlik nodig het. Ons het die kuns van die vroeë kerk om lig te reis verleer. Die kuns om baie te doen met min.

As die vroeë kerk so baie regkry het met so min (hulle het die gesig van die magtige Romeinse ryk verander) is dit onredelik om te verwag dat 'n groot kerk met soveel strukture, geboue en ander hulpmiddels nog meer regkry?

Waarom is die impak van die groot kerk vandag minder as die impak van die klein kerk van destyds?

Waarom gaan dit nie beter in 'n gemeenskap met letterlik 'n kerk op elke hoek nie? Moet daar nie meer vrede te wees in 'n land met soveel vredemakers nie?

Daar is dorpe met meer kerkgeboue as straatkinders en steeds is die kinders op straat.

'n Kerk wat probeer floreer is met ander vrae besig as 'n kerk wat, soos Jesus, haar lewe probeer gee vir 'n stukkende wêreld.

Dalk het die kerk te veilig en te groot geword om in die donker krake van 'n stukkende samelewing in te pas. Miskien is dit nodig om weer die waarde van klein wees en lig reis herontdek.

Ek vermoed dat, of die kerk nou doelbewus gaan stop en afpak of nie, die kans goed is dat sy haar in die toekoms in elk geval in 'n al meer weerlose posisie gaan bevind, en ek is nie seker dat dit noodwendig slegte nuus is vir die evangelie nie.

Volgens Jesus word die evangelie die beste verkondig nie vanuit 'n posisie van mag nie, maar vanuit 'n posisie van weerloosheid. Liefde word geloofwaardig wanneer jy so naby kom dat die een vir wie jy sê “ek het jou lief” jou kan seermaak - in Jesus se geval kon doodmaak.

Wie weet, dalk ontdek die kerk in die proses weer die kuns om baie te doen met min.

 

Jaco strydom

Beeld/Rubriek/2019/01/28

 

68719.jpg