Galileo was ’n wiskundige, sterrekundige en fisikus, een van die heel eerste mense wat die hemelruim met ’n teleskoop bestudeer het. Dit het daartoe gelei dat hy Copernicus se teorie aanvaar het, wat sê dat die aarde om die son wentel en nie andersom nie.

Die gedagte dat ons planeet nie die middelpunt van die heelal is nie, het die kerkmense van sy tyd erg ontstel. In 1633 verskyn Galileo voor die Inkwisisiehof. Hy word gedwing om sy opvattings te laat vaar en gevonnis tot tronkstraf. Sy straf word op die ou einde versag tot lewenslange huisarres - waar hy later blind word en sterf.

Vandag sal enige redelike mens erken dat Galileo reg was en die kerkleiers nie net verkeerd nie, maar ook wreed. Dat die waarheid vir hulle minder belangrik was as die kerkpolitiek waarin hulle vasgevang was.

Die geskiedenis leer ons dat die geskiedenis ons niks leer nie...

Dieselfde ontsteltenis van kerkmense in Galileo se tyd vind ons dikwels op ander maniere ook in onsself. Dis nooit lekker om uit te vind dat jy nie die middelpunt is nie - en boonop te erken dat jy al die tyd verkeerd was.

Miskien is dit omdat elkeen van ons van binne onsself uitkyk na die wêreld. Ons kan nie anders nie, ons is vasgevang in ons eie subjektiewe brille van eie belang.

Luister jy na mense om die braaivleisvure kry jy dikwels die gevoel dat die hele wêreld, die politiek, die ekonomie, selfs die natuur, eintlik maar om “ons” en “ons mense” draai. Die kans is goed dat jy dieselfde aand by ander vure op ander plekke in ander tale dieselfde ding sal hoor, maar dat die “ons” nou bloot iemand anders is.

Dis nie uniek aan gelowige mense nie. Gaan kyk maar na die lewens van ateïstiese leiers soos Napoleon, Stalin, Mussolini, Pol Pot, Mao Zedong . . . hulle was nie minder genadig met mense wat hulle daarop gewys het dat hulle en hulle groepie nie die middelpunt van alles was nie. Inteendeel.

Wat wel uniek is van (te veel) Christene is dat 'n mens die idee kry dat hulle dikwels voel dat ook die geestelike wêreld om hulle draai.


God werk eintlik vir ons. Die lewe gaan oor ons eie gemak en rykdom - en God is maar een van die rolspelers wat moet help om dit moontlik te maak.

As daar nou een ding is wat God se mense dwarsdeur die Bybel moes uitvind, is dit dat hulle nié die middelpunt was nie. Jona moes uitvind dat dit eintlik oor die mense van Nineve gaan -  en oor die diere!

Abraham moes uitvind dat God hom wou seën om 'n seën te wees vir die nasies.

Dis 'n groot dag wanneer God se mense ontdek dat hulle maar van die rolspelers is in God se groter plan.

Jesus waarsku dat die wat Hom wil volg hulle kruise moet opneem: dat jy eers as jy iets groot genoeg ontdek om voor te sterf, jy iets groot genoeg sal hê om voor te lewe. Dat daar 'n groter droom is as onsself, God se droom vir hierdie wêreld.

Ek onthou hoe ek as tiener op ’n kerkkamp was. Ons is aangesê om Johannes 3:16 te memoriseer, maar ons moes eers die versie so ’n klein bietjie verander: ons moes “wêreld” vervang met “my” en “ek”.

“God het MY so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat EK, wat in Hom glo . . .”

Die feit is daar staan “wêreld” (nie "My" en "Ek" nie).

Ek is nie die middelpunt nie, ek is maar 'n klein deeltjie van die groter prentjie in God se oë. Juis daarom kan my en jou vryheid nie losgemaak word van die res van die wêreld nie.

“Your freedom is my freedom” sê iemand nou die dag. Christene is veronderstel om die eerste mense te wees wat dit erken.

Wanneer Jesus ons uitstuur om ook ons lewens te gee vir 'n stukkende wêreld, om ook ons “kruise te dra”, “soos skape tussen wolwe in”, om die evangelie te verkondig, hoop te bring vir die wat weerloos is, om vredemakers te wees . . . word ons bewus daarvan dat die gebrokenheid van hierdie wêreld vir God belangriker is as die gemak, en selfs die veiligheid, van sy kinders.

Hy stuur ons uit “want so lief het Hy die wêreld” steeds.

 

Jaco Strydom

(Finesse Rubriek April 2018)

 

Screen Shot 2018-04-09 at 1.50.46 PM.jpg

Finesse April 2018 Uitgawe