Die goed wat ons die meeste ontstel, sê baie oor ons eie moraliteit - en teologie.


Tony Campolo, die bekende Amerikaanse Sosioloog en prediker, is ’n paar jaar gelede gevra om ’n erediens by ’n konserwatiewe gemeente waar te neem. Niemand sou daardie oggend se boodskap vergeet nie. 

Dit het so begin: "I have three things I'd like to say today. First, while you were sleeping last night, 30,000 kids died of starvation or diseases related to malnutrition. Second, most of you don't give a shit. What's worse is that you're more upset with the fact that I said shit than the fact that 30,000 kids died last night."

’n Tannie sê nou die dag sy kan alles in Deon Meyer se boeke vat, behalwe die gevloek. Met ander woorde die moord, marteling, bedrog en verkragting pla nie te veel nie, solank die polisieman nou net nie vloek nie.

Meyer se boeke is waarskynlik juis so gewild omdat dit ons ’n akkurate blik op die werklikheid gee, ’n wêreld waar: moordenaars moor, verkragters verkrag, politici lieg en polisiemanne vloek (dikwels).

Sê ek nou vloek is reg? Nee - my ma het altyd gesê net gomtorre en fietas praat so lelik.

Vloekwoorde is eintlik ’n snaakse fenomeen.

In Engels is amper alle vloekwoorde, woorde wat eintlik gebruik word vir een van drie goed: ontlasting; seks; seksuele liggaamsdele. Dieselfde in Afrikaans (behalwe vir een of twee wat gaan oor donderweer?!).

Dit is egter nie deurlopend so nie. “Poefies,” is byvoorbeeld nie ’n vloekwoord nie - en ek het nog nooit gehoor dat een ou ’n ander beledig, deur hom ’n “totie” te noem nie. Dit is asof ’n gemeenskap sekere woorde uitkies en verhef tot vloekwoorde.

Ek moet eerlik wees, die gelaster in die flieks pla my ook - hoekom nou God se naam, van alle moontlike woorde, kies as jy iets kras wil sê?

Tog is dit interessant hoe selektief ons is wanneer dit kom by moraliteit. In Amerika is die “Pro-Life” mense byvoorbeeld ten gunste van die doodstraf en die “Pro-Choice” mense uitgesproke teen die doodstraf, hoe ironies is dit!

En hier by ons het die Anti-gay aktiviste soms ’n baie skewe moraliteit - nog meer ironies. Hulle voel baie sterk oor die paar Bybel verse wat skynbaar met homoseksualiteit verband hou, maar lees die verse oor “moenie oordeel nie” of teen kwaadpraat, aspris mis. Hulle het ’n groter probleem met gays as met kwaadpraters en geldgieriges (wat terloops in die selfde sin genoem word in 1 Korintiers 6:9,10), want hulle is darem nie gay nie.

Ek het nou al ’n paar keer gehoor hoe mense wat kamstig baie sensitief is vir enige moontlike vorm van ’n vloekwoord, geen probleem het met die vertel van rassistiese grappies nie - en hoe gemaklik hulle saam skinder oor die buurvrou se skewe seun of die ou met die drankprobleem by die werk.

 ʼn Mens kan vloek sonder vloekwoorde.

Wanneer Paulus in sy briewe sê gelowiges moenie vuil taal gebruik nie, gaan dit oor meer as die blote geruik van sekere woorde. Dit gaan daaroor om nie afbrekend of beledigend te praat nie - om liefde en respek te betoon ook teenoor die wat anders as jy is, die met wie jy nie saamstem nie, selfs jou vyande.

Dit is Paulus, wat van Jesus? Nogal interessant dat Jesus niks te sê gehad het oor baie van die goed wat kerkmense vandag so maklik ontstel nie: vloekwoorde, tatoeëermerke, gays . . .  om net ’n paar te noem - en kerkmense moet sekerlik wanneer dit by moraliteit kom in die éérste plek by Jesus leer?

Hy wys ons dat dit belangrik is, dat die belangrikste goed in die lewe belangrik is.

Wat het Jesus ontstel? Liefdeloosheid. Dit het Hom erg omgekrap.

Hy was ontsteld oor die las wat die godsdienstige leiers op mense plaas en het ’n groot probleem gehad met rykes wat armes verdruk.

Sy moraliteit kon nie losgemaak word van sy liefde vir mense nie, veral die sondaars en die armes - die mense op die grense van die samelewing.

Jy kan geen vloekwoord ooit gebruik nie, nooit dronk word nie, nie steel nie, nie rondslaap nie, kerk toe gaan, Bybel lees en bid, en nog steeds God se hart mis, as jy nie liefhet nie - soos die Fariseërs.

Dalk is dit ook tyd dat ons begin ontsteld raak oor die goed wat regtig saak maak. Iemand het een keer gesê, jy kan nie die muggies wil vang, maar jy sluk die kamele nie!

Dat Suid-Afrika byvoorbeeld die hoogste HIV sterftesyfer in die wêreld het; dat hier meer as twee miljoen weeskinders is; dat van die mees uitgesproke rassiste ook kerkmense is - en so kan ons aangaan, is nie net ’n groot tragedie nie . . .  dis ’n fokken groot tragedie.

(Hoop die tragedie ontstel jou meer as die vloekwoord)

 

Jaco Strydom