Elke nou en dan hoor ek iemand sê Kersfees is beïnvloed deur heidense feeste en daarom mag volgelinge van Jesus dit nie vier nie.

Ek is self nie altyd mal oor Kersfees nie. Dit pla my byvoorbeeld dat Kersvader vir die ryk kinders duur speelgoed bring en dat die arm kinders tevrede moet wees met daai skoenbokse met die tennisballe en die tandeborsels in.

Maar ek dink nie Kersfees is inherent boos nie. Dit hang af wat jy daarvan maak.

Nou die dag hoor ek weer iemand krities opmerk dat “gelowiges vandag tog só visueel ingestel is”. Wel, die vroeë Christene was ook! Meeste gelowiges in die eerste eeue kon nie lees nie, simbole (en kuns) het in die vroeë kerk 'n belangrike rol gespeel.

Nie net dit nie, die vroeë kerk het dikwels aan simbole en feeste van buite die Christendom nuwe betekenis gegee (’n mens sou amper kon sê hulle het simbole tot bekering gebring!).

Vandag is die kruis sekerlik díé simbool vir volgelinge van Jesus. Die eerste Christene sou egter nie eens daaraan dink om die kruis as simbool te gebruik nie. Die kruis was te verskriklik! Dit was 'n martel instrument van die heidene.

Van die ‘dierbare kruis’ van die hallelujalied was daar nie sprake in die vroeë kerk nie”, sê Stephan Joubert. Gelowiges in die eerste eeue sou die vis of die druiwetros as simbool gebruik, die goeie herder of die skuitjie, maar nooit die kruis nie.
Tertullianus het wel aan die begin van die derde eeu na Jesus se volgelinge verwys as “die wat toegewy is aan die kruis”, maar eers by Konstantyn begin die Christendom die kruis as publieke simbool gebruik - aanvanklik 'n magsimbool op die skilde van Christen soldate!

Vir baie mense vandag is die kruis bloot ’n mooimaakding wat gebruik word vir juweliersware of muurbehangsels, vir ander is dit 'n baie ernstige simbool wat hulle herinner aan wat Jesus gedoen het, 'n simbool van selfopoffering, van die koste van ware liefde.

Die betekenis van simbole verander gedurig.

Simbole het nie betekenis in hulleself nie. Mense gee betekenis aan simbole.
Dis asof ons as mense 'n onvermoë het om oor God te praat, ons woorde skiet te kort, ons koppe het simbole nodig. Dwarsdeur die Bybel sien ons dit. Jesus is brood, water, lig, wingerdstok, herder . . . Elkeen van hierdie beelde beskryf iets van Jesus, maar Hy is natuurlik ook groter as die simbole.

Simbole raak net gevaarlik as 'n mens verlief raak op die simbool self.
Dit sou sekerlik vreemd wees as volgelinge van Jesus vandag op hulle knieë sou neerval en antieke heidense gode begin aanbid, maar dis iets anders as ons soos die vroeë kerk nuwe betekenis gee aan ou simbole en feeste.

Die betekenis van Kersfees verskil van mens tot mens. Vir baie besigheidsmense is dit díé tyd van die jaar om geld te maak (as daar 'n afgod is wat vandag aanbid word is dit Mammon!), vir ander gaan dit oor kersbome, Kersvader en sy bokkies. Vir die meeste Christene is dit die tyd van die jaar wanneer ons Jesus se koms vier.

Vir my is een van die mooiste simbole van Kerstyd die gee van presente. Wanneer ek geskenke sien of uitdeel (en hopelik een of twee kry) wil ek hê dit moet my herinner aan genade, aan God se groot geskenk aan ons.

Een van die eerste dinge wat ons van God lees is dat Hy iets maak uit niks, iets moois uit chaos. Mag sy mense ook hiermee besig wees. Mag ons hierdie jaar iets moois maak uit die chaos van Kersfees!

  

Beeld rubriek 24/12/2014 http://www.netwerk24.com/…/2014-12-24-geskenke-is-n-genades…