
"If you dream it, you can have it!" sê hulle.
Wel, "hulle" lieg vir jou. Droom is lekker, droom is goed, droom is belangrik en droom is nodig. Maar dis nie genoeg nie.
“As a child I never knew the huge amount of work it will take to accomplish anything in life,”
sê Jason Pargin, die skrywer van John dies at the End.
Hoeveel keer moes ek al ’n tiener hoor sê, ek gaan eendag 'n vlieënier word, 'n CA,'n ingenieur, 'n dokter … En dan wil ek uitroep: Maar jy kom nie eens graad 9-wiskunde deur nie! En jy kry 31% vir LO? Die lewe is nie so sag nie.
Dikwels is dit nie omdat dié jongmense dom is nie, inteendeel, 'n paar uur se swot is net te veel gevra. Iemand het gelieg vir die kind en gesê, droom net groot!
Let's face it, dit maak nie saak hoe baie jy droom nie, as jy nie elke dag 'n uur lank kan sit en jou wiskundehuiswerk doen nie, gaan jy waarskynlik nie 'n professor in toegepaste wiskunde, 'n CA of 'n ingenieur of 'n vlieënier word nie. (Maar jy kan nog altyd 'n dominee word, soos ek . . .)
Hoeveel jy bereid is om op te offer, wys die eintlike waarheid. Dis die groot toets vir ons eintlike ware diepste drome!
Ek het lank kitaarklasse gegee, en gesien hoe baie kinders wat droom van kitaarspeel, eenvoudig nooit ontdek of hulle kan of nie. Nie as gevolg van die gebrek aan talent nie, maar as gevolg van seer vingers.
Die mense met die moeilike werke en die groot salarisse wat ons dikwels so vreeslik bewonder, het gewoonlik een ding gemeen: Hulle kan hard en lank en aanhoudend werk.
Soms gee hulle voor dit was maklik. So, asof dinge half natuurlik vir hulle gebeur. Maar moenie jou laat bluf nie! Hulle probeer net afshow.
Waarvan hulle jou nié vertel nie, is die lang ure se werk, tot laat in die nag, terwyl die res van ons al lekker geslaap (en gedroom) het. Van al die partytjies wat hulle misgeloop het. Van wat hulle gedoen het terwyl die res van ons TV gekyk, op ons fone rondgescroll het op Instagram en nonsens op Whatsapp gepraat het.
As dit maklik was, het almal dit gedoen.
Dink maar aan die musiekwêreld. Daar is dikwels mense met minder talent wat meer suksesvol is. En dikwels bloot omdat dié met die eintlike talent te lui is, of te besig is met iets anders, om die nodige werk in te sit — en nou ly ons almal daaronder. Hoe tragies!
Talente en gawes floreer nie vanself nie, dit moet ontwikkel word. Malcolm Gladwell sê dit kos minstens 10 000 uur se harde werk om 'n ekspert in iets te word. Dis amper sewe jaar as jy elke liewe dag vier uur lank oefen — ook op Kersfees en op jou verjaarsdag — en méér as tien jaar as jy elke week 'n dag of twee sou skip.
Kom ons sê jy wil 'n professionele pianis word. Jy het die eerste keer van jou musiektalent bewus geword toe die grootmense uitgefreak het omdat jy "Chopsticks" self uitgefigure het toe jy vyf was.
Aanvanklik was die versoeking groot om jouself te bluf en net nou en dan YouTube-video's te kyk en Saterdae 'n halfuur lank interessante melodieë op die klavier te probeer speel. Maar jy sien deur die leuen; en jy hét die talent en die vasberadenheid - én die nodige hardkoppigheid. Voor jou lê daar nou 'n wilde pad. Van dit rof, en van dit erg vervelig.
Eers sal jy deur die pynlike fase moet gaan waarin jy die mees basiese dinge sal moet aanleer. Die rabbit-hole lei dalk na 'n wonderlike wêreld, maar dis 'n donker, goor en ongemaklike tonnel om deur te beweeg. Jy gaan tot vervelens toe toonlere moet oefen. Plat op jou boude moet sit en leer note lees.
Later sal jy 'n paar eenvoudige stukke kan speel. En dan, namate jy al meer tyd voor die klavier deurbring, sal jy meer ingewikkelde komposisies kan bemeester. Op die ou end sal jy so goed wees dat jy kan improviseer. (Lets face it: niks klink so erg soos iemand wat probeer improviseer, maar nie die musiekstuk ken nie . . .)
En só werk dit met amper alles wat die moeite werd is in die lewe: nuwe vryheid kom saam met dissipline.
Droom is amper soos bid. Daar is ’n baie ou Benediktynse uitdrukking wat lui: Ora et labora. Dit beteken: Bid en werk.
Dis asof ons drome heeltyd getoets word. Jou diepste, diepste, diepste ware, eintlike wens is dít waarvoor jy bereid is om die heel hardste te werk, en die heel meeste op te offer.
As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.
– Paulus in 2 Tessalonisense 3:10
Uit EENDAG IS TE VER: Geloofsgedagtes vir jong Jesusvolgelinge / ’n Boek vir tieners / Lux Verbi /
(p. 28). Kindle Edition. (Exclusive Books, Bargain Books, Graffiti, Takealot, C.U.MBooks, Grounded at Echo)
