Gedigte/Poems
vir my Ma
die rooi sand vlek my broek
en ek vloek God
vir jou wat in daardie graf lê
wat nie genade geken het nie
ek huil nie meer nie
ek treur aan my binneste met skreeue
ek word wakker en ek weet jy is daar
in my kop, in my gang, in my bloed
ek is so kwaad, ek haat myself
ek moes terug gegaan het, ek moes
ek hardloop deur fotos op haar foon
en daar is jy en ek en jy glimlag
nie soos daardie dag met jou gille
met jou pyn wat gesmeek het na die dood
so dalk was Hy genadig
miskien net te laat en op verkeerde manier
ek mis jou, maar ek mis iets wat nie daar was nie
ek mis die kans wat nooit daar sal wees nie
om dinge beter te he, om reg te maak
om jou gelukkig te sien sonder die wete
ek sukkel met vergifnis vir myself, God
jy wat nooit anders kon wees nie
ek sukkel met jou weggaan, jou doodgaan
die goed wat nou net ronddwaal en soek
die rooi sand vlek my broek verewig
en ek vloek God
-Tassha 2010-01-07