Van jeugbewaring na jeugbeweging...

 

Dit is sonde om jongmense met die evangelie te verveel. Die vervelige evangelie mag die evangelie van sommige kerkooms wees, maar dit is nie die evangelie van Jesus Christus nie.

   Baie jongmense beleef die boodskap van die kerk as 'n tipe godsdienstige wettisisme van moets en moenies wat net daarop ingestel is om hulle binne veilige grense te hou en te bewaar teen die aanslae van "'n donker bose wêreld".

   Die evangelie is eintlik baie meer opwindend as dit! Dit bewaar nie, dit beweeg. Dit vra dat ons minder soos 'n netjiese visvangmuseum sal lyk en meer soos 'n ruwe vissersboot.

   Jesus het nie gekom om ons in te perk nie, maar te bevry - nie om ons te beskerm teen die wêreld nie, maar juis om ons  in die wêreld in te stuur. Die wêreld is so min die vyand van die kerk as wat die see die vyand is van vissermanne.

   Wanneer ons praat oor jeugbediening, waarna streef ons? Jongmense wat getrou inskakel by kerkaktiwiteite, nie rook en drink nie, nie rondslaap nie, uitblink in sport en hulle huiswerk doen? Dit is alles mooi en goed, maar ek dink ons is tevrede met te min. Jongmense wat net voldoen aan die bogenoemde gaan dalk nie vreeslik skade aanrig nie, maar hulle gaan ook nie impak maak op `n stukkende wêreld nie.

   Die kerk se roeping is nie in die eerste plek om jongmense te beskerm teen die donker wêreld nie, maar eerder om hulle voor te berei, uit te daag en uit te stuur - om soos Jesus dit te waag om lig te reis en deur mensgemaakte grense te breek in 'n revolusie van hoop. Die kerk mag nooit die plek wees waar jongmense net gewaarsku, gepaai en vermaak word nie.

   Die evangelie roep ons tog nie op om rustige stil passiewe landsburgers te wees wat maar net krities sit en toekyk nie, maar om dapper te wees, op te staan teen ongeregtigheid, betrokke te raak waar daar nood is en die donkerste hole van die wêreld op te soek om juis daar 'n lig te wees.

   Vir volgelinge van Jesus gaan medemenslikheid nie net daaroor om mekaar te verdra en nie te beledig, te vloek of te kroek nie. Dit breek deur die grense tussen ryk en arm, swart en wit, goed en sleg, bekend en onbekend... Dit is veronderstel om een van die wonderlikste avonture agter Jesus aan in die vreemde wêreld van "ander mense" in te wees - en die kerk moet juis die plek wees waar ontdekkingsreise na onbekende plekke gestimuleer en aangemoedig word.

   Jesus se evangelie was opwindend en gevaarlik, in sterk kontras met die boodskap van die godsdienstiges van sy tyd. Jesus verkondig 'n nuwe manier van lewe, `n hoë risiko avontuur vry van gemaksug en materialisme, vol uitdagings en opwinding.

    Ek en 'n paar vriende is verlede jaar met motorfietse om die Okavango Delta. Ons het elke aand buite geslaap - hyenas wat pla, leeus wat brul, muskiete wat byt... Dae lank moes ons deur dik sand en modderige moerasse sukkel. Sou jy my vra: Was jy moeg? Is die antwoord: Doodmoeg! Was jy seer? Op plekke wat ek nie geweet het ek het nie. Was dit gevaarlik? Motorfietse, krokodille, olifante...?! Wou jy moed opgee? Meer as een keer. Sal jy ooit weer gaan? So gou as wat my vrou my toestemming gee!!!

   Dit is hoe avonture werk. Die pyn en die ongemak is die moeite werd.

   Ek is oortuig daarvan dat as ons vandag vir Petrus of Paulus kon e-mail en uitvra oor hulle avonture agter Jesus aan, dat hulle baie dieselfde sou antwoord (behalwe die toestemming by die vrou natuurlik...). Hulle sou vertel van woes moeilike tye, baie pyn en onsekerheid, maar dit sou net die een deel van hulle storie wees. Die ander deel sal gaan oor hoe "die moeite werd" dit was om dag na dag die pad van Jesus te stap. Hulle sou vertel van 'n avontuur wat ons Botswana trippie soos `n boring sondagskool piekniek in die parkie laat lyk.

  Jesus belowe nêrens 'n rustige stil lewe vir sy volgelinge nie, maar eerder `n "die moeite werd" avontuur.
Die boodskap van Jesus was revolusionêr en uitdagend in die tyd van die Nuwe Testament en dit is nodig dat ons jongmense help (of dalk moet hulle ons help!) om dit ook vandag te ontdek.

  Ons het jongmense nodig wat meer soos Jesus lyk en om dit reg te kry sal die kerk meer soos Jesus moet lyk en klink.

(Kerkbode 08/2009 )

Jaco Strydom


 

 . . . want alles draai mos om my - en my mense . . .

Liefde vra meer as liefdadigheid (Beeld)

'n Reguit hou met 'n krom stok (Finesse)

As die rykes moan, wat moet die armes doen? (Maroel Media)

Die illusie van “goeie teologie” (Rapport)