• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Confessions oor kerkwees

Screen Shot 2018-03-02 at 8.18.16 PM.png

 

 

 

  

Cas Wepener, Stephan Joubert
en Hennie Stander oor
Confessions oor Kerkwees:

 

Hennie Stander:

ʼn Vriend sê eenkeer vir my dat die Kerk se probleme met Paulus begin het, want Paulus wou oor alles ʼn teologie skryf, terwyl Jesus, daarenteen, net vir ons kom wys het hoe ʼn Christen behoort te leef. Natuurlik is dit ʼn kortsigtige opmerking. Tog, ek het telkens aan hierdie opmerking gedink terwyl ek hierdie boek gelees het, want in hierdie boek kom vertel Jaco vir ons hoe Christenskap in die praktyk behoort te lyk. Dit beteken nie dat Jaco se beskrywing van praktiese Christenskap “sonder teologie” is nie. Inteendeel! Maar Jaco kom wys vir ons hoe ons Christenskap (en ons teologie!) voete behoort te kry, sonder om in abstrakte teologie te verval.

    Die voorbeelde (en die stories!) wat Jaco vertel, het ʼn manier om elke leser (konserwatief of liberaal) ongemaklik te laat voel, maar tog ook uit te daag. Screen Shot jpg confessions.jpg

    Hierdie boek is anders as baie ander Christelike boeke: dit is in die eerste plek nie voorskriftelik nie. Dit vertel nie van bo af hoe ons eintlik behoort te leef nie. Dit bevat nie vyf of sewe of tien eenvoudige wenke of geheime wat ons moet gaan toepas in ons lewe nie. Allermins. Jaco vertel eerder stories uit die daaglikse lewe, en hy vertel van eenvoudige dinge wat hy in die lewe waarneem, en telkens stuit sy storie jou teen die bors. Lank nadat jy dit gelees het, wonder jy steeds hoekom die storie jou so aangeraak het, en hoekom jy die subtiele lesse wat daarin vervat is, nie kan afskud nie.

    Die groot bonus van hierdie stories is Jaco se lekker verteltrant. Jaco praat nie soos ʼn dominee nie - omdat hy ook geen gewone dominee is nie. Net soos Jesus se gelykenisse afspeel in die stowwerige strate van Palestina, so speel Jaco se verhale ook af op aardse bodem, soms op plekke wat jy ken, soms tussen mense met wie jou lewe nie nooit kruis nie. Soms wil jy vir Jaco kwaad raak oor wat hy skryf, soms wil jy “Amen” uitroep, maar jy kry dit nie reg om die boek neer te sit nie, en telkens besluit jy om “net nog die volgende storie te lees”, tot jy dwarsdeur die boek is! 

     Ek kan nie anders as om hierdie boek wyd en syd aan te beveel nie, of jy glo of nie glo nie! Jy sal nie onveranderd die boek kan neersit nie.

 

Cas Wepener:

In hierdie boek word die leser op ʼn reis geneem om deur die oë van die skrywer na ons land en haar mense te kyk. Dis uitdagend, maar ook ʼn voorreg, aangesien Jaco Strydom deur ʼn baie spesifieke lens waarneem. Hy soek en skryf soos ʼn digter, want sy hoofstukke laat jou nie toe om net vinnig deur almal voort te snel na ʼn ontknoping soos in ʼn misdaadriller nie.

   Nee, hier is ʼn digterlike waarnemer aan die werk, een wie se hoofstukke jou soms eerder stadiger laat lees, jou plek-plek weer laat lees, soms jou heeltemal laat stop en selfs terugblaai, jou laat opkyk vanaf die bladsy om dit wat jy pas gelees het net eers vas te hou vir ʼn oomblik, of eerder dat die oomblik jou net vashou. Dikwels is die vashou ʼn wurggreep wat nogal seermaak. En dan wil jy daarna dadelik nog ʼn hoofstuk lees! 

    Let wel, die verhale wat hy deel en beelde wat hy oproep sukkel met jou en hou aan sukkel met jou lank nadat jy klaar gelees het. Daar word niks doekies omgedraai nie en hoofstuk na hoofstuk voel jy as leser asof jy in een van daai preke sit waar die dominee vanoggend met jou praat! In hierdie boek ontmoet jy mense wat jy al gesien het, maar moontlik nie ken self nie en deur hulle ontmoet jy telkens weer jouself.

    Jaco stel jou hoofstuk na hoofstuk aan mense bekend en bring die leser en die keiharde Suid-Afrikaanse werklikheid baie naby aan mekaar. Tussen die blaaie raak die grense tussen die middestad en die voorstede baie dunner en is daar gereeld oomblikke wat hy jou gemakstoel waarin jy sit en lees baie ongemaklik laat voel en jou lekker filterkoffie deur die skrywer effens bederf word. Die boek sukkel met jou terwyl jy lees en hou aan karring aan jou lank nadat jy klaar gelees het. Moeilikheid is inderdaad die besigheid van die boek. Juis daarom is ek van mening dat hierdie boek ʼn besonder belangrike teologiese bydrae in ons eie dag is.

    Baie mense se idee van kerk- en Christen-wees lyk dikwels soos ʼn stuk sistematiese teologie wat in ʼn hardeband gebonde Dogmatiek neergepen is – netjies uitgewerk en finaal afgerond volgens die voorgeskrewe lysie temas. Hierdie boek en die wyse waarop dit aangebied word, is die teenoorgestelde, om die waarheid te sê is dit eintlik ʼn bietjie deurmekaar en ʼn mengelmoes van verhale en belewenisse, soos die ondertitel tereg onder andere lui “rubrieke, artikels, drome en confessions”, maar dit is juis baie nader aan die harde werklikheid van kerk- en Christen-wees in Suid-Afrika vandag.

   Soos jy egter verder lees, word die deurlopende lyne in die boek baie duidelik en dit is deurgaans ʼn beskrywing van wat ‘back to the basic’ ten opsigte van Christenskap in Suid-Afrika vandag behels. Dis geleefde teologie, dis eintlik ʼn sterk stuk profetiese teologie, maar wat werklik besonders is van die boek, is Jaco se benadering - he speaks the truth in love. Hierdie boek is profetiese teologie in ʼn pastorale toonaard.

    Dis nooit die skrywer teenoor die lesers nie, maar die skrywer in solidariteit met die buitestanders én met die binnestanders én met die lesers. Dis ʼn benadering wat beide die tollenaar én die Fariseër omhels, beide die armes én die rykes, vir Zanele wat op straat woon én vir Zuma in Nkandla.

    Bladsy na bladsy is die skokkende van hierdie boek die eenvoud daarvan, die Evangelie wat deur die jare toegerank het met ingewikkelde redenasies word hier oop gesnoei en die eenvoud en kern word blootgelê.

    Dis soos daai mooi eikehout vuurmaakplek in die sitkamer wat so toepak word met goetertjies totdat niemand meer weet waarvoor die ding nou eintlik bedoel is nie. Jaco pak in die boek al die kaggelkakkies af en maak dan vuur.

    Confessions oor Kerkwees is gewoon ook ʼn plesier om te lees, omdat dit beeldryk geskryf is, jy die karakters en hul leefwêreld in die boek herken en keer op keer ook jouself as leser.

    Die meeste van ons wat graag Jaco se rubrieke lees, sien elke week baie daarna uit, lees gulsig sy nuutste bydrae in Beeld, Maroela Media, Kerkbode of op sy blog, maar is dan vrek spyt wanneer jy dit klaar gelees het, want jy soek nog! Dis soos jou program in die reeks op tv waarvoor jy elke week nadat jy klaar gekyk het nog ʼn week moet wag. Wel, goeie nuus, hier is die Jaco Strydom – box set first series! Maar hopelik is hierdie net die eerste in die reeks, want lesers soos ek soek nog.


 Stephan Joubert:

Dié wat die moed het om stroomop te swem, skynheilige maskers af te ruk, dooie tradisies vaarwel toe te roep en die vrae van die dag aan te roer, is skaars.
    Jaco praat nie net profetiese taal nie, maar beliggaam dit ook in sy lewe en in die Echo-gemeenskap, wat grensloos, kleurloos en statusloos mense met die Here se liefde omarm.
    Hierdie aangrypende boek weerspieël Jaco se nadenke in koerante en sosiale media. Sy opregte liefde vir die Here en vir mense skyn deur op elke bladsy. Die boek sal jou uitdaag, optel, roer en diep aan die dink sit. Jy sal hierna nooit weer dieselfde dink of leef nie.

Kliek hier om die boek te bestel:

Screen Shot 2018-03-02 at 8.18.16 PM.png

 

Oor die boek:

Verlede jaar word ek genooi om te praat by ’n sinodale byeenkoms van ’n sekere kerk. Iemand vra na die tyd hoe dit gegaan het. “Ek is nie seker van húlle nie,” antwoord ek, “maar ék voel beter!”
   Dis in ’n sekere sin wat hier ook gebeur het. Ek het die voorreg gehad om my hart uit te praat, ’n geleentheid waarvoor ek baie dankbaar is.
   Hierdie boek bevat ’n seleksie van die frustrasies, gedagtes en drome wat die afgelope 10 jaar verskyn het in Beeld, Die Burger, Rapport, Volksblad, Maroela Media, Kerkbode, Finesse, my eie blog (Anderkant die doringdraad), selfs die Taalgenoot en ander plekke.
   Mense vra soms waarom ek instem om te skryf vir publikasies wat staan vir dinge waarmee ek hoegenaamd nie saamstem nie, wie se teologie en politieke siening van myne verskil. My antwoord is dat as ons net gaan praat met die mense met wie ons saamstem, daar te min gepraat gaan word in hierdie land.
   Dis juis nodig om met rassiste oor rassisme te praat, met materialiste oor materialisme, met homofobe oor homofobie, met seksiste oor seksisme en met kerkmense oor wat van die kerk geword het. Die alternatief is om net altyd in ons eie groepies met mekaar te gesels oor die mense van wie ons so vreeslik verskil. Om te skinder eerder as om in gesprek te tree.
   Ons mág nie net krities wees nie, ons móét. Veral op onsself, ons eie mense en ons eie tradisies – solank ons nie die mooi en die goeie dinge aspris miskyk nie.
   Die waarheid oor Suid-Afrika vandag (en oor kerkwees in ons tyd) is bruin én wit én swart, mooi én lelik, goed én sleg. In die woorde van Diane Ackerman: “It began in mystery, and it will end in mystery, but what a savage and beautiful country lies in between.” My hoop is dat jy iets hiervan sal raaklees.
   My grootste inspirasie was nog altyd die vreemde wesens wat ek deur die jare op onwaarskynlike plekke raakgeloop het - selfs in my drome. Baie van hulle waag dit selde op “tradisioneel godsdienstige plekke”, maar hulle ken geheime oor God, daarom wy ek graag ’n groot deel van hierdie boek daaraan om hulle stories te vertel.
   Ek het agtergekom dat ek nie altyd met myself saamstem nie, en soms weerspreek ek myself. Ek vermoed ek is geestelik ietwat bipolêr, veral met betrekking tot die kerk. Soms laat sy my huil, soms laat sy my lag, soms wonder ek of as Jesus vandag sou lewe, Hy ons ook van die Christendom sou wou verlos.
   Die inhoud van die boek is eerder in die vorm van ’n stir-fry as ’n sewegangmaaltyd. Die boek is dus effens deurmekaar – soos die res van my lewe – maar hopelik nie te vervelig nie!

Jaco Strydom

 

______________________________________

 

 

 

Aanhalings uit die boek

 

Die gevaar van georganiseerde godsdiens is dat dit God probeer vasvang sodat die mense kan kom kyk. Jy kan natuurlik ’n lewe maak uit ’n vreemde wese in ’n hok. Jy kan geld maak met God . . .

___________

 

Ek wil glo daar is iets groters hier aan die gang. ’n Meer algemene tendens. ’n Skuif. ’n Nuwe openheid gebore uit ’n eerlike, innerlike honger, uit ’n gatvolheid vir goedkoop antwoorde. ’n Dieper dors. Mense weet die kerk het in die verlede vir hulle gelieg en hulle is moeg daarvoor. Hulle kan nou Google.

___________

 

Die woorde van die vreemde man op straat het my herinner aan ’n droom wat ek eenkeer gehad het. Dit was oor een van die vrolike Indiese kinders in die vuil strate van Kalkutta.
   Die dogtertjie het uit ’n donker stegie verskyn – soos ’n engel. Sy het nader gestap en vreemd na my gekyk. Iets het haar duidelik ontstel. Eers toe sy naby genoeg was, kon ek sien dat sy my jammer kry.
   Sy wou huil. Dit het gelyk asof sy iets wou sê, maar haar oë het gehuiwer. Die kind wou my help, het ek met ’n skok besef, maar sy het duidelik nie geweet waar om te begin nie.
   Dit was asof sy geweet het dat ek nooit gelukkig sou wees sonder ’n klomp materiële goed nie. Haar eenvoudige blydskap, in daardie vuil stegie, was onmoontlik vir iemand soos ek.
   Toe glimlag sy maar net vriendelik vir my en ek glimlag terug, in ’n swak poging om my verleentheid weg te steek …

___________

 

Jy kan nie jou lewe vir Jesus gee sonder om dit vir die wêreld te gee nie.


___________

 

Terwyl ek na sy storie luister, weet ek een ding. Een van twee groepe mense in ons land gaan vir ’n kind soos Byamungu ’n familie wees: óf die misdadigers, óf die kerk.

___________

 

Miskien is dit juis in ons tyd dat die profetiese woorde van Karl Rahner waar word: “The Christian of the future will be a mystic or he will not exist at all.”
Vir die mistici gaan geloof eerder oor verwondering, toewyding en empatie as oor teoretiese sekerhede.

___________

 

“Die kerk is soos ’n olietenkskip wat stadig draai,” het ’n kerk-oom my eenkeer verduidelik. (Gaan gee daai kompliment vir jou vrou, Oom, en kyk of sy gevlei voel!)
Kyk, ek verwag nie dat sy op haar ouderdom gimnastiektoertjies moet doen nie, maar dit sou baie help as sy so ’n bietjie vinniger was – dit sou byvoorbeeld wonderlik gewees het as die susters op ’n dag in 1980 al opgespring het en met passie aangekondig het: “Apartheid is sonde!”
Hoekom is die susters altyd laat? Kan iemand so stadig wees?

___________

 

Allerhande reëls met strawwe is nodig om ons teen onsself te beskerm: om veiligheidsgordels te dra, nie te vinnig te ry nie, nie te drink en bestuur nie, nie te veel hoesmedisyne te koop nie, nie in jou eie drinkwater te piepie nie, nie uit jou kar te klim in die Wildtuin nie, nie aan hoogspanningsdrade te vat nie, nie jou eie kinders se skool af te brand nie ... Is daar enige ander wese op aarde wat meer self-destructive is?

___________

 

Ek het al dikwels gesien hoe mense wat ons Echo-gemeenskap besoek, aanvanklik heel beïndruk is, maar gou ’n mate van ontnugtering beleef as hulle ons eers beter leer ken. Daar is dalk liefde en selfopoffering, maar daar is ook baie chaos en konflik. Ek wonder soms, wat het hulle verwag, St Franciscus se happy band of brothers? I wish!

___________

 

Persoonlik hou ek ook nie daarvan dat mense aan my karring nie, dis ongemaklik om mense so naby aan jou te hê (veral as jy ’n dominee is), maar ek kom agter dat ek eerlike spieëls in my lewe nodig het. Die uitdaging is om nie vir die spieëls kwaad te wees as ek dinge sien waarvan ek nie hou nie.

___________

 

Dis maklik om iemand soos John te oordeel as jy verby hom ry, maar laat die een wat sy eie ouers gekies het, die een wat self die tyd en plek van sy geboorte bepaal het, die eerste klip gooi.

___________

 

Ek is eintlik baie Evangelies, sou byvoorbeeld bly wees as die Moslems en die Hindoes op ’n dag besluit om vir Jesus te volg. En die Christene! Kan jy dink hoe anders die wêreld sou wees as die Christene sou besluit om vir Jesus te volg?

___________

 

As jy ’n volgeling van Jesus is en jy wonder hoe God se plan vir hierdie stukkende wêreld lyk, neem ’n selfie.


___________

 

’n Welgestelde kerktannie het sekerlik iets om te gee vir ’n oumatjie in die plakkerskamp wat na ’n klomp weeskinders omsien. Maar sy het veral baie om by haar te leer.

___________

Om kerk te wees vandag het jy ten minste vyf of ses van die volgende goed nodig: ’n kerkgebou of ouditorium, teologiese opleiding, ’n koster, belydenisskrifte, kerkreg, ’n sinode, ’n saakgelastigde, ’n jaarlikse ringsitting, ’n kalender, ’n Bybel, ’n website, ’n konsistorie, ’n klanksisteem, ’n pastorie, ’n letterbord, liturgiese handleidings, ’n dataprojektor, ’n klomp geld, ’n orkes, beligting, kontrakte, kommissies, ’n preekstoel, en deesdae selfs ’n vurkieheining!

___________

 

Van nature streef ons as mense daarna om goed te lyk en goed te voel, eerder as om goed te wees. Die meeste van ons energie gaan dan daarin om te beïndruk of te verdoof, eerder as om te groei.

___________


Katinka en Mathilda kom aangehardloop en vertel ’n bul het hulle gejaag. Later die oggend ontmoet ek die skuldige bees. Ek wou nie hulle bubble bars nie, maar voel tog ek moet die kans gebruik vir ’n belangrike lewensles.
“Wanneer ’n bul vier totties het, is daai bul ’n koei en nie ’n bul nie,” sê ek . . .

___________

 

Die mediese bedryf is een van die mees onetiese bedrywe in die wêreld. Jy kan skatryk word as jou kliënte desperaat is en hulle lewens aan ’n draadjie hang – en kan betaal vir jou hulp.
   Wat my amper meer ontstel, is die baie Christene wat dit verdedig, so asof ’n ryk man se lewe meer werd is as dié van ’n arm kind . . .

___________

 

Net daar op my knieë begin ek wonder: Hoe sou die wêreld lyk as elke Christen die evangelie soos Moeder Teresa en hierdie nonne sou verstaan? Miskien was die idee nooit dat hulle hierdie wonderlike “wow-uitsonderings” van die Christenwêreld moes wees nie.
Sê nou dít was maar net “hoe Christene is”. Onselfsugtige mense. Mense wat iets groters as materiële rykdom – iets groters as hulleself – ontdek het om voor te lewe. Sê nou almal sou, soos hierdie nonne, kies om hulle lewens te gee vir ’n stukkende wêreld (soos Jesus?).

___________

 

Ek moes al dikwels in my lewe tot bekering kom (baie mense wat my ken, sal dalk sê dis weer tyd).


___________

 

Die kerk is eintlik maar net ’n baie vreemde klomp mense wat op verskillende maniere na God se wil soek. As jy my vra, is ons almal ewe confused – met dalk een of twee uitsonderings (wat meer confused is). Dankie tog vir genade van bo.

___________

 

Een van die kerk se grootste uitdagings in die poging om ’n vredemaker te wees, is om ruimte te skep vir konflik. As ons regtig wil luister (en hoor), sal ons moet leer om nie net spanning te probeer oplos nie, maar ook om spanning te verdra.

 

___________

 

’n Bietjie harder werk is nodiger as om bloot ’n paar versies oor ’n saak te Google en dan aan te haal. Die kerkgeskiedenis is vol stories van wreedhede wat met Bybelversies verdedig is. Elke ketter het sy letter.

___________

 

Ek is nie seker wat die antwoord is nie, maar ek dink dit sal baie help as ons kan leer om kerk te wees saam met dié wat MIV-positief is, die werkloses en die weeskinders – en nie net uitreik na hulle nie . . .

___________

 

Marina is ’n fascinating hoof, baie dankie, sy is slimmer (het byvoorbeeld ’n PhD), werk harder, is meer selfbeheersd, het beter onderskeidingsvermoë, is mooier (rêrig!), is besonder well-spoken en kan dinge doen waarmee ek sukkel, soos uit haar kop uit reg spel (selfs in Engels sonder spell-check) en sy kan goed in ’n groep saamwerk.
I submit, not by force, but by the natural order of things! Die meeste van die tyd (so nou en dan het ek ’n glipsie).
   Ek kan nou nie namens Paulus praat nie, maar ek vermoed dat, as hy met my vrou getroud was, hy anders oor die saak sou gevoel het. Dan was daar vandag vrouedominees in die Dopperkerk en was die pous dalk ’n vrou – al hou ek nogal van die een wat ons nou het.

___________

 

Eers het ek die arme diertjies wat skynbaar nie op hulle eie kon loop nie en gedra moes word, jammer gekry. Maar toe merk ek op dat die meeste van hulle eintlik besonder gelukkig lyk – veral die skilpadjies het gelyk of hulle glimlag.
   Die titel van die boek was The mating game. Toe ek uiteindelik besef waaroor dit gaan, het ek die boek gaan wegsteek, uit vrees dat my pa sou probeer verduidelik – en dat ek sou moes maak of ek vir die eerste keer in my lewe van seks hoor.

___________

 

“Die strate is al weer pikswart vanoggend,” het ek dikwels my pa, oupa of ooms hoor sê as hulle van die dorp af kom. Later het ek baie hieroor gewonder. Waarom is ons verbaas as ’n dorp in Afrika swart is? 99% van die mense van Afrika is tog swart. Sê die mense in Europa ooit: “Sjoe! Die dorp is darem maar baie wit vandag”?
   Besef ons dat ons in Afrika woon?
   Nou die dag hoor ek hoe ’n boer vir sy plaaswerker sê: “As daar minder van julle was, het ek nou in ’n paradys gebly.” Kan ’n mens werklik betekenisvol leef op ’n kontinent as jy lief is vir die grond, maar nie vir die mense nie?

___________

 

Uiteindelik is dit belangriker om te bid as om gebed te probeer verstaan en verduidelik. ’n Mens hoef nie ’n misterie uit te figure om dit te kan waardeer nie. Ons bid mos in elk geval nie omdat ons in gebed glo nie, maar omdat ons in God glo . . .

___________

 

Klein kindertjies kan ons belangrike dinge leer. Soos om nie snobs te wees nie. Hulle weet nog nie lekker aan watter nasie hulle behoort nie, watter kleur hulle is en of hulle ryk of arm is nie. Hulle diskrimineer nie. Hulle is ewe lelik met alle kinders wat met hulle speelgoed wil speel, ongeag of die kind wit of swart of Chinees is.

___________

 

Ons vrees vir kaal-wees weerhou ons daarvan om die tuin van Eden in ons tyd te ontdek – om uit te vind hoe min ons eintlik nodig het om gelukkig te wees.


___________

 

Die Fariseërs en ander godsdienstiges in Jesus se tyd kon God hanteer solank Hy iewers in die geskiedenis was, in ’n boek of in ’n tempelboks, op godsdienstige feesdae ... maar nie ’n God wat asemhaal en rondloop nie – veral op minder godsdienstige plekke – en allermins nie ’n kaal God aan ’n kruis nie.

___________

 

Die kerk het die manier om die Evangelie onnodig ingewikkeld te maak, veral deur belewenisse van God se teenwoordigheid te probeer skeduleer en formaliseer.
   Vreemde dinge gebeur wanneer mense bewus word van God se heilige teenwoordigheid ook op minder godsdienstige plekke – ons gedra onsself mos oor die algemeen beter op heilige plekke.

___________

 

Lelike dinge het al gebeur in die naam van goeie teologie.


___________

 

Ek voel skuldig oor luiwees en worry en voorgee en ongeloof en oor mense sonder geleenthede, oor armes en haweloses (veral as dit reën) en vuil gedagtes en te min stiltetyd en geld geblaas op vakansies, kos, kajakke en reise en selfsug en te min moeite met eensames en my eiegeregtigheid, oor ander se toewyding en my blote praatjies, oor my linkerhand se trots oor wat my regterhand doen, oor wat mense van my dink teenoor wie ek werklik is, oor my hoogmoed teenoor rassiste, oor lugbesoedeling en oor visse wat ek doodgemaak het – en nog gaan doodmaak – en te veel eet en drink, voorgee en lieg, vloek en oordeel en begeer en my ego se ewig onvervulde dors ... ek het genade vandag nodiger as ooit!

 

___________

 

Die teologie het deur die eeue ’n manier om vir die teoloog belangriker te word as mense. Dit is ironies, want Jesus het sy lewe gegee vir mense.


___________

 

Empatie is ’n unieke vorm van geestelike bewustheid. Dit staan teenoor die ego, dit vra dat ek myself agterlaat, dat ek my eie belewenis verruil vir iemand anders s’n. Empatie is ’n bril van liefde waarsonder ons blind is vir God se teenwoordigheid in ons eie tyd . . .

___________

 

Iemand het eenkeer gesê: “Ek sal wees soos ’n rubberbal, hoe harder die lewe my gooi, hoe hoër sal ek hop!” Soos ’n lig wat al helderder skyn soos dit al donkerder word.
   Hierdie gesindheid het ons vandag in Suid-Afrika nodiger as geld, gemak, alarmstelsels en vurkieheinings. Niks is gevaarliker as die goed wat in ons eie koppe aangaan nie.

___________

 

Jesus het nie gekom om ons in te perk nie, maar te bevry. Nie om ons te beskerm teen die wêreld nie, maar juis om ons in die wêreld in te stuur. Die wêreld is so min die vyand van die kerk as wat die see die vyand is van vissermanne.

___________

 

Seks is lekker en seks is nodig, maar seks is ook gevaarlik. Hormone wen dikwels in die geveg teen breinselle. Dink maar aan die hottentots-gotmannetjie wat met ’n gogga-glimlag sy vrou gryp, al weet hy sy gaan na die daad letterlik sy kop afbyt en hom opvreet (what a way to go!).
   Sy seksdrang is selfs groter is as sy vrees vir sy psigopatiese vrou. Sy lus is groter as sy vrees, selfs sy vrees vir die dood.

___________

 

As Paulus ’n rassis was, was nie een van ons vandag ’n Christen nie.


___________

 

Van die base op die plase tot die direkteure van maatskappye, van kerkleiers tot regeringsamptenare ... ons wêreld het leiers nodig wat die voorbeeld van Jesus volg.

___________

 

Shane sê vandat hy vir Jesus probeer volg, is hy meer in die moeilikheid as ooit tevore!

 

___________

 

Die drome hierbo is van die rustiger drome wat ek as laerskoolseun gedroom het. Van die ander is so rof dat hulle vir ewig geheim sal moet bly – al het ek destyds met my hele wese gewens hulle word eendag waar.
   Kan jy dink hoe die wêreld sou lyk as ons almal se drome altyd waar sou word?

___________

 

Die mense wat so kerm dat dit vandag erger gaan as ooit tevore, weet nie waarvan hulle praat nie. Hoekom moet ek en jy dit beter hê? Wat maak ons so spesiaal? Christenwees is en was nog nooit vir sissies nie!
   As ’n Eskom-kragonderbreking jou histeries aan die moan sit, wees bly jy leef vandag, want ’n Babiloniese ontvoering of Assiriese aanval sou jou in ’n totale senuweewrak verander het.
   God se mense het regdeur die geskiedenis juis hulle merk in die donkerste tye gemaak. Die moeilikheid het hulle gemaak wie hulle was. Dink jou in: ’n Moses sonder ’n woestyn, ’n Dawid sonder ’n Goliat, ’n Daniël sonder ’n leeukuil of Stefanus sonder klippe (Jesus sonder ’n kruis).
   As jy dan iets wil sít en doen, bid eerder. Onthou net, gebed is nie in die eerste plek ’n poging om God se wil te verander nie, maar om sy wil te leer ken. Dit is ’n manier om aan te meld vir diens. Opregte gebed mobiliseer die een wat bid . . .

Kliek hier om die boek te bestel:

Screen Shot 2018-03-02 at 8.18.16 PM.png

 

 

Confessions oor kerkwees
uitgegee deur Carpe Diem Media
© 2018 Carpe Diem Media
Eerste uitgawe, eerste druk 2018
ePub ISBN 978-1-4322-0822-6
Setwerk • Willemien Barnard
Redigeerder • Ilze Ludick
Proefleser • Emmerentia Steyn
Omslagontwerp • Zelda Botha
© Skrifaanhalings uit Die Bybel (1983-vertaling) met verlof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Hierdie versameling rubrieke is byeengebring met die vriendelike vergunning van die volgende publikasies waarin dit oorspronklik verskyn het: Anderkant die doringdraad (Jaco se eie blog), Beeld, Die Burger, Echo Youth Webtuiste, Finesse, Kerkbode, Maroela Media, Rapport, Taalgenoot en Volksblad.
© Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag gereproduseer word in enige vorm of op enige manier sonder die skriftelike toestemming van die uitgewer nie.
KONTAKBESONDERHEDE
Carpe Diem Media
Posbus 5801 Vanderbijlpark 1900
Tel • (016) 982 3617 Faks • (016) 982 3618