• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Daai slapgat ou langs die pad . . .

John (skuilnaam) het al baie irritasies by my wakker gemaak. Hy lyk altyd of ander swaar ding op hom druk. Ek het al dikwels as ek hom sien gevoel, ek wens die ou wil net homself regruk.

Nou die dag vertel my sy storie.

Hy is iewers op die platteland in Mosambiek gebore. Waar weet hy tot vandag toe nie. John was nie in 'n skool nie, want hy moes op die landerye werk. Sy pa het erg gedrink en dan geweldadig geraak. Op 'n dag, toe John agt jaar oud was, het sy pa hom in die gesig gekap met 'n panga. Die bure was ontsteld en het sy broer gekontak wat in Suid-Afrika werk.

Die broer het hom oor die kind ontferm en hom hom in Mosambiek gaan haal om by hom te woon. Waar weet hy nie, want sê John, hy was net 'n kind en kon nie eens lees nie, en hy was net 'n dag by hulle.

Daar was 'n fiets by sy broer se huis en hy het 'n ent gaan ry. Binne 'n uur het hy heeltemal verdwaal. John sê hy het verbouereerd geraak toe dit donker word. Later gaan sit hy moedeloos op 'n sypaadjie.

Eers laat die aand kom 'n man en 'n vrou op die huilende kind af. Hulle probeer met hom praat, maar hy verstaan hulle nie en hulle verstaan hom nie. Die probleem was dat John geen Suid-Afrikaanse taal kon praat nie. Hy sê hy kon nie eers Portugees soos meeste Mosambiekers praat nie want hy was nooit op skool nie.

Die mense het hom na die polisiestasie geneem. Die soektog na sy broer het niks opgelewer nie. Hy kon slegs die name van sy pa, ma en broer as inligting gee, geen adres, geen woonbuurt, geen telefoonnommer.

Die welsynsdienste het betrokke geraak. Hy is na 'n skuiling vir straatkinders. Twee jaar later is hy na 'n plek van veiligheid waar hy vir die eerste keer skool toe is.

Teen die tyd was hy egter ver agter die ander kinders. Hy moes vir die eerste keer leer lees en skryf.

Daar was min van sy selfbeeld oor. Al wat hy oor homself geweet het was dat sy eie pa hom wou doodmaak, dat hy in 'n vreemde land is en dat hy nêrens inpas nie. Geen kinderhuis wou hom hê nie, want op daardie stadium was hy te oud. Toe hy agtien word moes hy uit die plek van veiligheid.

Vandag is John twintig. Suid-Afrika maak dit nie vir hom maklik om hier te bly nie en hy het geen paspoort nie. Hulle sou hom kon deporteer terug Mosambiek toe, maar hy het geen kontak met enige familie daar nie en weet die eens wat die naam van sy geboortedorp is nie. Hy doen los werkies en lees boeke om sy leesspoed te bevorder.

Terwyl ander mense van sy ouderdom droom van universiteitsgrade, huise, motors en gesinne van hulle eie is sy droom om eendag matriek te skryf, 'n paspoort te hê en 'n vaste werk.

Dis maklik om iemand soos John te oordeel as jy verby hom ry, maar laat die een wat sy eie ouers gekies het, die een wat self die tyd en plek van sy geboorte bepaal het, die eerste klip gooi.

 

("John" woon nou in een van ons Echohuise)

Jaco Strydom

 

Jaco Strydom/Beeld/Netwerk24/15/11/2017
https://www.netwerk24.com/Stemme/Sielsgoed/daai-slapgat-ou-wat-langs-die-pad-staan-20171114

 

 

Screen Shot 2017-11-28 at 9.07.50 AM.jpg

 

Screen Shot 2017-11-28 at 9.07.42 AM.jpg