• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Wie is die “geringste van hierdie broers” in Mattheus 25:31-46 nou eintlik?

G_De_Jode_Last_Thread_Margins_2012.jpeg

 

In Mattheus 25:40 sê Jesus:

En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

Wie is die geringste van hierdie “broers” van wie Jesus praat? Daar is veral drie sienings:

 

Die eerste is die mees populêre gebruik van die die teks waar “die geringstes” gesien word as weerlose mense oor die algemeen. Moeder Teresa het dit byvoorbeeld so verstaan soos duidelik in hierdie aanhaling van haar:

"At the end of life we will not be judged by how many diplomas we have received, how much money we have made, how many great things we have done. We will be judged by "I was hungry, and you gave me something to eat, I was naked and you clothed me. I was homeless, and you took me in." Hungry not only for bread - but hungry for love. Naked not only for clothing - but naked of human dignity and respect. Homeless not only for want of a home of bricks - but homeless because of rejection.”

Of in die woorde van Fulton J. Sheen: “He identified every act of kindness as an expression of sympathy with Himself."

Binne hierdie beskouing is Mattheus 25:31-46 'n bevestiging van die samevatting van die wet: dat om jou naaste lief te hê gelyk is daaraan om God lief te hê (Mattheus 22:39).

By die samevatting van die wet in Lukas word daar 'n baie direkte lyn getrek tussen barmhartigheid teenoor iemand in nood as uitvoering van die van die samevatting van die wet - Jesus vertel die verhaal van die barmhartige Samaritaan.

'n Ander teks is Mattheus 18 waar Jesus sê dat iemand wat 'n “geringe kindjie” (die mense met min status in die antieke samelewing) ontvang, ontvang Hom.

Binne dié verstaan van Mattheus 25:31-46 gebruik Jesus die woord “broers” as beklemtoning dat Hy homself vereenselwig met die mees weerlose mense op aarde oor die algemeen.

Hulle is deel van sy groep. As jy een van hulle verwerp verwerp jy Hom.

Jy kan nie sê jy is lief vir God, maar jy stap verby iemand wat swaarkry sonder om te help nie. Dit sal duidelik wees op die oordeelsdag dat God barmhartigheid gevra het en nie offers nie (Mattheus 9 en 12). 

 

 

Die tweede siening is dat, omdat Mattheus geskryf is na die val van Jerusalem (ongeveer 70nC), Jesus met die woord “broers” bedoel het “mede Jode in nood”. Duisende Jode is in die openbaar tereggestel, toegesluit, haweloos gelaat in die Romeine se reaksie op die Joodse opstand in Jerusalem.

Volgens hierdie siening is die Jode God se mense en watter goeie daad jy ook al aan een van hierdie mede Joodse broers van Hom doen, sou in jou guns tel op die oordeelsdag, want Jesus was ook 'n Jood.

Hierdie siening het die minste aanhang in die vroeë tradisies van die Christendom asook onder hedendaagse teoloë.

 

Die derde siening is dat Jesus eintlik in Mattheus 25:31-46 gepraat het van sy dissipels. Hy het na dié mense wat alles opgeoffer het om Hom te volg en sy goeie nuus te versprei verwys. Hulle sou dikwels honger, siek, sonder blyplek, in die tronk wees, omdat hulle sy volgelinge is.

Sommige Nuwe-Testamentici maak 'n onderskeid tussen volgelinge van Jesus en sy gestuurdes, meeste egter nie - iemand wat selfs 'n geringe kindjie ontvang van hierdie groep ontvang Hom (Mattheus 18:5).

Ter bevestiging van hierdie siening verwys meeste Nuwe-Testamentici (van Marcus Borg tot N.T. Wright) na Jesus se uitspraak in Mattheus 12:32-35 oor wie sy familie is ('n uitspraak wat baie skokkend moes wees vir die eerste hoorders in die antieke tyd, omdat jou totale identiteit afgehang het van jou familie):

"Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

Die sterkste argument vir hierdie verklaring van Mattheus 25:31-46 is Jesus se uitspraak in Mattheus 10:

"Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal 'n profeet se beloning ontvang; en wie 'n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal 'n goeie mens se beloning ontvang. Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”

Van die drie beskouings laat hierdie een sekerlik die mees radikale appel op 'n volgeling van Jesus wat Mattheus 25:31- 46 lees. Dit sê nie alleen dat volgelinge van Jesus mense sal wees wat uitreik na mense in nood nie, maar dat hulle self só naby aan die aarde sal lewe dat hulle dikwels self weerloos sal wees.

Dit herinner aan Paulus se woorde in Filippense 2, dat die gesindheid van Jesus ook die gesindheid van sy volgelinge moet wees, Jesus “wat in die gestalte van God was” en gekies het om die minste status op aarde te hê, “die gestalte van 'n slaaf”, sodat die wêreld die goeie nuus van die Evangelie sou glo.

In Eugene Peterson het gesê: “The poor are not a problem to be solved but a people to join.”

Die vraag is, wat sou Johannes, Petrus en die ander dissipels dink toe hulle hierdie woorde van Jesus hoor?

As die eerste siening waar is sou hulle bloot hoor: “reik uit na mense in nood”, maar as dit die derde siening is, sou dit hulle sekerlik erg ongemaklik maak!

Hulle sou iets hoor van wat vir hulle voorlê - wat Jesus se plan met hulle is. Dat hulle so sou leef dat hulle dikwels self honger en dors sou wees, vreemdelinge, siek in die tronk . . . deel van die groep mense met die minste status in die samelewing.

Die verhaal van die vinnige groei van die vroeë kerk het afgespeel terwyl die kerk gesien is as deel van dié groep mense wat volgens Gerhard Lenski se tabel van die hiërargie in die antieke tyd “the expedibles” genoem word. Volgelinge van Jesus was veral in die eerste twee eeue deur dié met status en mag in die samelewing as die “groot probleem” beskou - die mense van wie daar eintlik ontslae geraak moet word ter wille van 'n beter samelewing. Dit het hulle dikwels in 'n weerlose posisie gelaat - in solidariteit met die ander weerloses in die samelewing.

Die waarheid, volgens Mattheus 25:31-46, wat op die oordeelsdag gaan uitkom is dat, al het hulle duidelik min of geen status in hiérdie wêreld gehad nie, hulle eintlik God se verteenwoordigers was en dat dié wat barmhartigheid teenoor hulle bewys het, dit ook teenoor Jesus gedoen het - want hulle is sy broers en wanneer iets met sy broers gebeur, raak dit Hom persoonlik.

 

 

Hoe ook al jy die gebruik van die woord “broers” in Mattheus 25:31-46 verstaan, jy kan nie verkeerd gaan deur barmhartig op te tree nie, veral nie in 'n land waar daar soveel nood is nie - en waar meeste Suid-Afrikaners en vlugtelinge hulleself in elk geval beskou as Christene (volgelinge van Jesus). Ek dink nie die idee van Mattheus 25 was ooit dat ons eers die “leer en die lewe” van iemand in nood moet ondersoek voor ons help nie.

Jesus het oor die grense van mense gestap en die mense in nood wat op sy pad kom, die Samaritaanse vrou, Saggeus die hoof tollenaar, die melaatses . . . soos broers en susters hanteer - een van die dinge wat die konserwatiewes en godsdienstiges van sy tyd die meeste uitgefreak het. Ons hoef nie te veel te wonder wat sy antwoord sou wees as ons Hom sou raakloop en vra vir wie ons soos familie moet bahandel nie. Hy het sy lewe vir die wêreld gegee, nie net vir die Christene nie - en Hy verwag dit ook van ons.

 

Jaco Strydom