'n Nuwe kans vir Byamungu

15/04/2015
Maroela Media

 

Byamungu beteken “vir God” in Swahili. Sy ma het hom die naam gegee omdat hy 'n geskenk uit die hemel was en sy hom graag aan God wou wy.

Nou die dag ry Byamungu saam met my na 'n kamp. Toe ek by die garage stop om vir ons iets te ete te kry, sien ek hy is bang, hy wil nie alleen in die kar wag nie. Ek sê hy moet saam loop.

Toe ons weer ry, vra ek hom uit. Hy vertel my sy storie en skielik verstaan ek waarom hy bang is.

Hy het in 'n klein dorpie in die Kongo (DRC) grootgeword. Sy pa het met mielies en kasawa geboer, sy ma het die kinders groot gemaak. Deur die week het hy en sy sussies skoolgegaan in 'n klein plaasskooltjie.

Meer as eenkeer het die plaaslike weermag, die Mai-Mai, seuntjies so jonk as tien jaar oud kom vang om op te lei as kindersoldate. Byamungu vertel hoe hy dan onder sy pa se bed of in die woud gaan wegkruip het.

Een aand het 'n ander terroristegroep uit Burundi hulle dorpie aangeval. Hulle het handgrenate gegooi, mense voor die voet geskiet en met pangas gekap, selfs ou mense en kinders, die vrouens verkrag en die huise en kerke aan die brand gesteek.

Byamungu het deur die nag gevlug. Hy kon die gille kilometers ver in die donker hoor.

Op 'n manier het hy die volgende paar dae deel geword van 'n groepie vlugtelinge wat Suid gestap het. Van hulle het vertel dat hulle veilig sal wees in 'n land met die naam, “Suid-Afrika”.  Toe ek hom vra deur watter lande hulle gestap het, sê hy: “I was a small boy, I didn’t know about the names of countries.” Hy het maar net saam met die grootmense bly stap.

Na maande se gesukkel kom hy uiteindelik in Suid-Afrika aan. Dis 'n lang storie, maar op 'n manier beland hy op straat in Sunnyside in Pretoria. Hy het niemand geken nie en kon net Swahili, Frans en sy plaaslike taal praat. Later beland hy in 'n skuiling vir straatkinders, waar hy leer Engels praat en weer vir die eerste keer skoolgaan.

Byamungu het so min gekies om in daai dorpie in die Kongo gebore te word, as wat ek gekies het om in die Vrystaat gebore te word. Hy moes moeilike keuses maak in uiters moeilike tye. Ek is in geen posisie om hom te oordeel nie, ek bewonder sy moed en deursettingsvermoë (en dat hy so vinnig Engels kon leer praat!). Hy is 'n dapper jong man.

Dis nie maklik om 'n Kongolese straatkind te wees in Pretoria nie. Hy vertel die verskriklikste stories oor hoe die plaaslike Suid-Afrikaners hom al behandel het, hom uitkryt as “Makwerekwere”. Hoe dikwels die polisie hom arresteer en aanrand. Hy het al gewens hulle wil hom deporteer, maar hulle wil nie, sê hy, en hy het in elk geval niks om na terug te gaan nie. Die mense by Binnelandse Sake maak dit amper onmoontlik vir vlugtelinge soos Byamungu om wettiglik in die land te wees.

Terwyl ek na sy storie luister weet ek een ding. Een van twee groepe mense in ons land gaan vir ’n kind soos Byamungu 'n familie wees, of die misdadigers, of die kerk.

 

Jaco Strydom

Oorspronklike artikel: "EK kon sien die kind is bang" 15/04/2015 @ Maroela Media: http://maroelamedia.co.za/goeiegoed/ek-kon-sien-die-kind-is-bang/

 

 

GOEIE NUUS!!

Dinge het gebeur in Byamungu se lewe vandat die artikel hierbo geskryf is . . .

 

Byamungu gaan Kanada toe!

Byamungu is 'n vlugtelingkind met 'n merkwaardige verhaal van oorlewing. Hy het 'n bietjie meer as 'n jaar gelede op ons pad gekom via 'n skuiling vir straatkinders. Dinge het met tye onmoontlik vir hom gelyk hier, binnelandse sake het geweier om hom wettige vlugteling status te gee, van ons plaaslike mense het hom gedreig en die polisie het hom dikwels gearresteer en die bietjie geld gevat wat hy by hom gehad het . . . 
  Sané het baie moeite gedoen en uiteindelik in samewerking met die VN en 'n menseregte advokaat dit reg gekry dat die Kanadese regering bereid is om hom 'n kans op 'n nuwe lewe te gee (verblyfreg, 'n wettige werk, ’n kans om te studeer ens.). Hy vlieg Woensdag Kanada toe.

 

 IMG_5745.JPG

 

13043547_963478733747324_5335222821559285387_n.jpg

 

As die rykes moan, wat moet die armes doen?

The Intention and the Community in Intentional Community 

 

 

 

Borg 'n kind in een van die ECHO-Huise