• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Jammer voel is nie omgee nie

 

In Centurion staan ʼn maer vrou met ʼn kind en bedel. Die kind huil en lyk ondervoed. Ek voel kwaad vir die ma wat bereid is om so ver te gaan, vir die land se kindersorgsisteem wat dit toelaat en vir myself wat hierdie verskriklike ding voor my sien afspeel en niks doen nie.
   Op die hoek by die winkelsentrum in Brooklyn staan ʼn oom, ek skat hom iewers in die sewentig, netjies aangetrek, hoed op die kop, bord in die hand. Ek wonder wat nou eintlik sy probleem is? Hoekom werk hy nie? Drink hy dalk? As daar ʼn geldjie naby was sou ek dit gee, maar nou staan hy in die ander baan en die muntstukke lê onder in my rugsak, en ek is haastig. Wat het hy in elk geval gedoen dat sy eie familie hom nie wil help nie en dat hy geen vriende oor het waar hy kan eet of slaap nie?
   Die kind op die straathoek naby Hatfield is vuil en duidelik onopgevoed, sy oë al weer rooi, hoog op iets. Ek weet hy lieg, want hy is duidelik nie regtig gestremd nie. Wanneer ek  laataand daar by die robot stop, maak ek dubbeld seker my kar se vensters is toe en die deure gesluit (want ek sou waaragtig misdaad oorweeg het as ek hy was).
   Ek voel jammer vir hom, maar ken nie eers sy naam nie. Het darem al in die verlede ’n muntstuk of twee vir hom gegee - was eintlik vies vir myself, wil nie die ou se bedelgewoontes aanhelp nie, hy sal soos die res van ons moet leer om ook te werk vir 'n lewe! In my agterkop vang ek my dat ek hoop hy is meer skelm as wat dit lyk, dat hy tóg iewers 'n warmding wegsteek, dat hierdie vodde klere nie sy enigste is nie, want dis bewolk en die wind waai al sterker, dit lyk of dit gaan reën.
   ’n Mens kan nie almal help nie, troos ek myself.
   Maar ek ís 'n Christen, só ek bid darem gereeld vir hierdie mense in die verbyry. Ek bid dat God hulle sal seën, dat Hy hulle sal raaksien en tog genadig sal wees en ingryp.
   Hoe Hy dit gaan doen, is ek nie seker nie, want ek het nog nooit gehoor van iemand vir wie ʼn kombers, ʼn toebroodjie of 'n werk uit die hemel uit gebeam is nie.
   Moeder Teresa moes dikwels aanhoor hoe mense met ingewikkelde teologiese vrae worstel, vrae soos, waarom 'n God van liefde toelaat dat die armes so swaarkry. Haar antwoord was: As jy 'n arm kind op straat sien en jy sou dit waag om vir God te vra waarom die kind dan honger is - en jy sou stil word en mooi luister - sou jy Hom kon hoor fluister: ‘Die kind is honger, want jy gee hom niks om te eet nie’.
   As jy 'n volgeling van Jesus is en jy wonder hoe lyk God se plan vir hierdie stukkende wêreld, neem 'n selfie.

 

Jaco Strydom

(Beeldrubriek)

 

 

 

 

starssry_nigjhht_sky_by_barbarapavlic-d72ad89_2.jpg

 

 

 

 Die KGB idee 
In reaksie op Solidariteit se #geeREG reaksie op my bogenoemde artikel in Beeld die week. Ek stem saam dat mense mooi moet dink hoe hulle gee, ek is self by 'n hulporganisasie (glo my, dit sou lekker wees om net te sê ja stuur die geld, laat Echo hulle help) maar persoonlike betrokkenheid kan op die ou einde 'n groot verskil maak - in die ou in nood se leween in die een wat probeer help . . . 


In ons Echo-gemeenskap kies ons doelbewus om saam met mense in nood leef eerder as om net van 'n afstand af uit te ryk en uit te deel (Community vs Charity). Die vraag bly egter wat maak ek met die hawelose ou op straat, of ander mense in nood by wie ek verbyry?
    Dit is belangrik dat ons saam met ander op meer georganiseerde maniere betrokke is in hierdie wêreld, maar dit hef nie ons persoonlike verantwoordelikheid op nie. Te veel mense troos hulleself dat hulle 'n paar rand of blikkieskos vir 'n organisasie stuur (lees: Liefdadigheid is nie genoeg nie).
    Ek het op ʼn stadium met ʼn skok besef dat ek self eintlik besig is om te skuil agter wat ons Echo-gemeenskap doen. Die vraag wat my begin pla het was, wat doen ek in my eie persoonlike hoedanigheid, veral daar waar niemand anders sien nie?
    Praat ʼn mens oor die nood is baie mense se eerste reaksie: “Maar ek kan nie almal help nie! Moet ek nou vir elke bedelaar ʼn muntstuk gooi?” Moeder Teresa se antwoord was: “If you can’t help a hundred, then help one”
    Dis waar dat ons nie almal kan help nie, maar dit beteken nie dat ons niemand kan help nie.
    Dink jou in wat sou gebeur as elkeen wat hom/haarself ʼn Christen noem, behalwe vir  ondersteuning aan hulp-organisasies, 'n langtermyn verhouding sou bou en belê in die lewe van een persoon in nood. Nie net elke dag 'n muntstuk vir hom/haar gee nie, maar tyd vat om die persoon werklik te leer ken.
    Shane Claiborne het gesê "The problem is not that we don't care about the poor, the problem is that we don't know the poor." Die probleem in ons kerke is dat ons eerder oor armoede praat, as met armes praat.
    Sê nou jy sou ʼn langtermyn verhouding bou met byvoorbeeld daai straatkind wat elke dag staan en bedel op die hoek van Duncan- en Kerkstraat hier in Pretoria. Sê nou jy sou tyd neem om die waarheid omtrent die outjie se storie te leer ken. Jy sou moeite doen om dit op te volg deur te gaan kyk waar die kind vandaan kom. Sê nou jy sou weekliks kontak maak, nou en dan saam met hom daar op die straathoek gaan sit en 'n toebroodjie eet, sy vriend word en bereid wees om ook by hom te leer? Jy sou oor maande sy vertroue begin wen en saam met hom begin droom en nuwe planne uitdink? Sê nou jy sou die link wees na professionele hulp, of 'n moontlike organisasie wat kan help - en nie dan net weer verdwyn nie.
    

Omgee word gespel: M O E I T E.
    Selfs die hardste mens begin op een of ander stadium glo dat iemand werklik omgee, wanneer daardie persoon aanhou moeite doen - meer doen as wat van hom/haar verwag word. (Onthou net, die moeilikheid kom dikwels ʼn lang pad, kanse is groot dat die herstel en groei ook lank kan vat!)
    Ons het in ons Echo-gemeenskap op ʼn stadium ʼn projek begin wat ons noem die “KGB projek”. 

    Die idee is dat jy ʼn langtermyn verbintenis maak met ten minste een persoon in nood. Jy kry 'n swart bandjie om jou te herinner aan drie minimum commitments, die “K,G en die B” sê elk iets van hierdie verbintenis:
    K - Maak weekliks KONTAK. Eet byvoorbeeld een keer ʼn week ʼn toebroodjie saam met hom/haar (sommer daar op die straathoek). Ontmoet die persoon waar hy is. Leer hom ken. Word sy vriend.
    G - Raak fisies betrokke deur te GEE. Help hom of haar om ʼn ID dokument te bekom, om blyplek te kry by 'n skuiling of hulp-organisasie, om by ʼn program in te skakel, of dalk om te gaan vir rehabilitasie, om ʼn CV op te stel, om ʼn werk of ʼn bestuurders lisensie te kry . . . Dit gaan baie afhang van of dit ʼn straatkind of ʼn bejaarde persoon of dalk ʼn enkel ma is wat in nood is.
    B - Bid daagliks vir die persoon (en meld aan vir diens!). 


Die idee is dat, in plaas daarvan dat ons verlam word deur die reuse omvang van die nood, elkeen van ons met ten minste een persoon ʼn pad begin stap.
    Hulporganisasies wat daagliks sopkombuise bedryf, huisvesting gee of op een of ander manier by die bemagtiging van mense in nood betrokke is, kan dien as wonderlike platforms vanwaar hierdie langtermyn verhoudings aangeknoop kan word.
    Moet egter nie dat ek jou hier bluf nie! Om met party van hierdie mense “die lang pad te stap” is geen eenvoudige saak nie. Jy gaan hardkoppig moet wees soos nooit te vore nie (een van die geheime van die lewe is mos om hardkoppig te wees oor die régte goed!). Jy gaan al die hulp nodig hê wat jy kan kry. En jy gaan veral bereid moet wees om sélf te leer en te groei.
    Nou die dag word ek gevra om met die grootkoppe van ʼn finansiële maatskappy te praat. Ek het ʼn vreemde gevoel gehad dat ek dié keer nie moes vra vir finansies nie, maar vir hulle tyd en teenwoordigheid in ons kinders se lewens. Ek vra toe of van die direkteure nie sou kans sien om een keer ʼn week vir 'n uur lank van ons tieners wil leer bestuur, en dan vat vir koffie nie - net dit. Dit was te veel gevra. Nie een van hulle het tyd gehad nie. (Ek was na die tyd jammer ek het nie eerder vir geld gevra nie!)
    Kan jy dink watter impak 'n langtermyn verhouding met 'n direkteur of een of ander professionele persoon op 'n weerlose kind se lewe kan hê (daar is goeie voorbeelde hiervan - al is hulle min).
    Weerlose mense het, meer as enige iets anders, die teenwoordigheid van iemand wat regtig belangstel en omgee in hulle lewens nodig. by Echo sê ons, “it's easier to grab opportunity, when you're in community”.
    Hulporganisasies soos ons het skenkings en finansiële bystand broodnodig, maar lets face it, mense in nood kort meer as programme, kos, geleenthede en strukture. Hulle het iemand nodig. Iemand wat werklik belangstel en bereid is om die lang pad van die lewe saam te stap. Die diepste vorm van armoede is eensaamheid, die afwesigheid van betekenisvolle verhoudings. Niks is meer verlammend as dit nie.
    Elkeen kan iemand
wees vir iemand in nood .

Die hele “swart-bandjie-KGB idee” is nie almal se cup of tea nie, ek weet. Daar is sekerlik baie ander maniere. Vergeet daarvan as dit jou pla. Maar gaan dink ten minste oor die beginsel - dit kan jóú lewe verander!

lees meer: From Charity to Community . . . 


 

 Jaco Strydom