• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Wanneer voëls vryheid vrees

Louisa-Crispin-Feather-I.jpg

 

 

Dit was 'n tragiese dag . . .
   Ek kan nie meer mooi onthou waar ek destyds aan die idee gekom het om juis volstruise te kry om ons paar skape op my pa se plasie naby Frankfort op te pas nie. Maar een Vrydag kom ek af op ʼn advertensie in die Landouweekblad en bel sommer dadelik die boer. Die volgende dag leen ek 'n bakkie - met ʼn lang bak en ʼn canopy - en vat die pad Vrystaat toe om die volstruise te gaan oplaai.

   My pa het my vertel dat hy by iemand gehoor het dat 'n mens 'n volstruis maklik op 'n bakkie met 'n canopy laai. Dit werk so: Jy vang die volstruis en sit ʼn kous oor sy kop, dan reverse jy hom glo tot teen die oop bak, waar hy dan veronderstel is om self op sy hurke te gaan sit en dan skuif jy hom boude eerste terug en maak die klap toe. So maklik soos dit!
   By die boer aangekom, vertel ek hom die plan. Hy is duidelik skepties - my lang hare en Gauteng nommerplaat het waarskynlik nie gehelp nie, maar hy was 'n gawe man en het my seker jammer gekry omdat ek al die pad van Pretoria af gery het. Hy het gesê ek moet agter hom aanry.
   Daar was 'n houtkraal met 'n drukgang. Binne-in was twee uitgegroeide verskrikte volstruise - groter en wilder as wat ek my ooit kon voorstel. Om alles te kroon vertel die boer my dat dit die eerste keer ooit sou wees dat hulle vervoer word.
   Ek en die plaaswerker is versigtig die kraal in. Ons jaag en klap hande en vlug teen die houtheining op. Dinge het nie goed gelyk nie. Nie een van ons het geweet hoe maak 'n mens met volstruise nie - en ons was bang - maar minder as ʼn halfuur later het albei volstruise kouse oor die koppe en reverse ons hulle een-een tot teen die bakkie. Die mannetjie eerste. Hy gaan sit op sy hurke op die klap (soos hy veronderstel is om te doen) en ons skuif hom in. Dieselfde met die wyfie. Ek maak die klap toe. Alles werk net soos die ou my pa beduie het.
   Die boer was selfs meer verbaas as ek. “Van nou af gaan ek almal vertel, dís hoe jy ʼn volstruis laai!” sê hy en skud my hand.
   Op pad plaas toe high-five ek myself. Ek kon nie glo ek is nou die eienaar van twee reuse voëls nie. Ek hou die twee kouse wat soos handpoppe heen een weer wieg in die spieëltjie dop. Beautiful.
   Op die dorp stop ek vir petrol, en daar begin die tragedie. ʼn Taxi stop langs my. Van die mense klim uit, hulle raas en loer vir my volstruise deur die venster. Hulle geniet nie die aandag nie. Ek sê die petroljoggie moet gou maak. Binne minute jaag ons weg van die geraas af. Oomblikke later hoor ek ʼn harde klopgeluid en sien in die spieëltjie hoe die wyfie se kous sak.
   Ek stop. Klim uit. Voel haar pols. Morsdood.
   Ek kon dit nie glo nie!
   Tien kilometer verder sien ek die mannetjie se kop begin sak. Sy einde kom met minder geweld. Ek stop weer - net om seker te maak - voel sy pols, niks, morsdood.
   My pa was op die plaas besig om die kamp waar die twee sou loop se hek reg te maak. Dit was ʼn wonderlike kamp, baie beter as die kampie waar hulle vandaan kom - baie beter as daai kraal met die drukgang! Ons kamp grens aan ʼn spruit en het selfs 'n dammetjie. Daar was groot ooptes, maar ook ʼn populierbos en ʼn klompie bloekombome. ʼn Volstruishemel! Hulle sou vryer as ooit wees. Die plek was soos die paradys teenoor dit waaraan hulle gewoond was.
   Ek bel my pa en sê hy moet maar die stukkende hekkie so los, “dié volstruise gaan nêrens heen nie”.
   Toe ek later terugry Pretoria toe, sukkel ek om te fokus. Ek is vies vir die twee voëls wat hulleself letterlik dood gestres het op pad na die vryheid wat ek en my pa vir hulle beplan het. As hulle net kon weet hoe goed my bedoelings met hulle was.
   Daardie aand het ek 'n nagmerrie. Ek droom ék is ʼn verskrikte voël en God ʼn lelike ou met lang hare uit Pretoria.
   Die laaste tyd dink ek baie aan daardie tragiese dag, aan hoe dikwels ek net soos daai twee voëls in my verhouding met God is.
   Hierteenoor het die vroeë kerk die gawe gehad om voortdurend vas te hou aan die gedagte dat God met ons op pad is na 'n beter, vryer plek, al voel die hede ook hoe onseker en ongemaklik. 'n Belangrike beginsel ook vir  ons wat probeer kerkwees hier in Suid-Afrika vandag.
   Vryheid kan jou bangmaak as jy gewoond is aan 'n hok. Die pad na vryheid is soms erg ongemaklik - geboortes is dikwels pynlik. As daar iets is om te vrees is dit dalk eerder die vrees self. Lets face it, dát ons vrees bedreig dikwels ons vryheid meer as wát ons vrees.


 

(Kerbode rubriek 9/8/2015)

 

Jaco Strydom

 

Louisa-Crispin-Feather-I.jpg

 

 

As die rykes moan, wat moet die armes doen? (Maroel Media)  

Groeiende vryheid in die kerk doen meer goed as kwaad (Beeld)

Vredeslesse by Vreemde wesens (Kerkbode)