• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Tieners met Probleemouers

 

indeaax.jpg

 

Washouts, dropouts, droogmakers, probleemkinders... Dit is maar van die name wat ons samelewing vir kinders met gedragsprobleme gee. Amper daagliks kry ek te doen met ouers wat hulp soek vir een of ander "probleemkind" - en ek erken, daar is baie jongmense met reuse gedrags- en gesindheidsprobleme - wat my egter meer ontstel is die aantal jongmense met wie ek te doen kry wat sit met "probleemouers".

Wanneer daar oor morele verval in ons samelewing gepraat word is dit dikwels met verwysing na “die toestand van ons jeug”. Wat van die toestand van ons ouers?

Vergewe my as dinge hier 'n bietjie kras raak, ek is waarskynlik nie baie objektief nie en het ietwat van 'n skewe beeld (mense kom klop nou nie eintlik by ECHO aan om te “brag” oor hoe wonderlik ouers na hulle kinders kyk nie . .  .) Ek besef ek is sekerlik besig om erg te veralgemeen, maar iewers moet hierdie ding aangespreek word. Daar is al so baie gepraat en geskryf oor gedragsprobleme onder jongmense, vandag is dit die ouers se beurt.

Ons kan nie aanhou om jongmense met gedragsprobleme te oordeel terwyl baie van hulle bloot die voorbeeld van hulle ouers volg nie. Baie ouerhuise funksioneer as niks anders as opneuk-opleiding-fasiliteite nie. Die kreatiwiteit waarmee van hierdie ouers droogmaak is verbysterend...

Hier is ’n paar van die grootste droogmakers:

 

Ouers wat nie ore het nie

Hierdie is ’n groot probleem by baie ouers: hulle wil net nie hoor nie!

Hulle skreeu, preek en kerm die hele dag. As ouers oor alles skree en raas switch kinders af en dink solank aan wat vanaand op die TV wys. Die Here het ons twee ore en een mond gegee, sodat ons twee keer meer sal luister as praat.

Vra ek jongmense wat uitkom met een of ander diep geheim of worsteling, waarom hulle nie met hulle ouers hieroor praat nie, antwoord hulle diwels: "Dit help nie, want hulle hoor my nie."

Jou kinders sal dalk glo dat jy omgee, as jy wys dat jy belangstel, deur 'n bietjie minder te praat en meer te luister.

 

Ouers wat nie groot word nie

Tipies die ma van vyf en veertig wat elke tweede aand ’n ander ou by 'n karaoke bar optel, terwyl haar kinders maar na hulleself moet kyk.  Of die pa wat elke keer al sy speelgoed uit sy kot gooi as hy nie sy sin kry nie. Ons kom toenemend by gesinne waar die pa nie wil werk nie en heeldag sit en rekenaarspelletjies speel.

Sommige pa’s en ma’s het vasgehaak by een of ander stadium in hulle kinderjare en is dikwels te selfgesentreerd om dit raak te sien.

Baie van hierdie ouers was lank gelede kinders van sulke "kinders". Hulle is bang vir grootword. Hulle soek verlore aandag.

Onselfsugtigheid is die duidelikste teken van volwassenheid - en selfgesentreerdheid van onvolwassenheid.

As jy wil hê jou kinders moet groot word, wys hulle hoe!

 

Skynheilige ouers

’n Pa bel my oor sy sewentienjarige tiener seun wat rook.

“Rook jy?” vra ek.

“Ja,” sê die pa.

“As jy regtig wil hê hy moet dit los sal jy mos saam met hom ophou?” vra ek.

Sy reaksie hierop is dat hy eintlik net wou vra of ek “bietjie mooi met sy laaitie sal praat”.

“So ek moet mooi vir hom sê dat hy nie die selfde lelike dinge as sy pa moet doen nie?”

Ek kon uit die res van die kort gesprek aflei dat die pa nou net so teleurgesteld in my is, as in sy seun. Ek het ook geweet dat die laaste een wat die “laaitie” sal motiveer om op te hou rook sy pa is. Want sy pa is mos eintlik 'n bietjie skynheilig? Hy vra iets wat hy self nie bereid is om te doen nie?

Ek kry gereeld te doen met ouers wat ongelukkig is omdat hulle kinders hulle voorbeeld volg.

 

Ouers wat bank

’n Mens het tyd vir die dinge wat vir jou belangrik is. Hierdie is 'n eenvoudige woordsom wat amper elke jongmens kan maak.

Een van hierdie tipiese "probleemouers" is pa’s uit gebroke huwelike wat belowe om te kom kuier en dit nie doen nie.

’n Ander is die enkelma wat so opgaan in haar “boyfriend” (of “boyfriends), dat sy haar kinders afskeep. Dit beteken natuurlik net een ding: die” boyfriend” is belangriker.

Dan is daar die ryk besigheidsman wat tyd het vir vergaderings, werksfuksies en golfspeel maar selde tyd het vir sy eie kinders.

As jy regtig omgee, sal jy mos tyd maak?

 

Ouers met liegprobleme

Baie ouers lieg vir hulle kinders. Hulle sê byvoorbeeld: “As jy dit weer doen gaan ek jou so en so straf,” maar hulle doen dit nie - werk dan eerder met minder reëls en kry ’n kleiner straf wat jy kan toepas. Ouers sal ook dikwels die waarheid met betrekking tot 'n bepaalde krissis of toekomstige planne van tieners weerhou in 'n poging om hulle te beskerm - wat 'n mens kan verstaan - maar op die ou einde vind tieners amper altyd self die waarheid uit.

Die boustene van alle verhoudings is vertroue en vertroue se belangrikste element is waarheid

Ons neem tog die mense wat die minste vir ons lieg die ernstigste op. Moenie jou kind se vermoë om die waarheid te hanteer onderskat nie.

 

Moeilikheidmakers wat vuilspeel

Een van die wreedste goed wat ons dikwels by "probleemouers"  sien, is waar 'n pa en 'n ma wat geskei is hulle die kinders gebruik om mekaar terug te kry. Die ma doen byvoorbeeld alles in haar vermoeë om te sorg dat die pa nie gereelde kontak met die kinders kan hê nie, net omdat hy haar seer gemaak het. Sy weet waar om hom die seerste te slaan.

Baie geskeide ouers praat nie meer met mekaar nie, die kinders word nou gebruik as boodskappers van griewe.

Dit is wreed.

 

Lelik stout

 Geen ouer is perfek nie. Ons maak almal foute (vra my kinders!), maar party is lelik stout.

Hier praat ek nie net van pa’s en ma’s wat vloek, kroek of nou en dan 'n bietjie lieg nie, maar van “ouer-kriminele”. Waar meeste misdadigers van ander mense steel, steel hierdie mense by hulle eie kinders.

Ouers wat so drink dat daar nie geld is vir kos of skoolboeke nie. Wrede mense wat hulle eie kinders fisies aanrand, molesteer of afdreig met selfmoord.

Meer as een tiener het al vir my vertel dat sy ma gereeld sê sy wens sy het eerder gegaan vir ’n aborsie, want hy maak haar lewe hel. ’n Meisie vertel dat haar ma vir jare geweet het dat haar pa haar molesteer maar niks wou doen nie.

Die mense wat naaste aan jou is maak die seerste en ouers vervul dikwels daardie rol. “Dit is asof daar iets in jou dood gaan wanneer die mense wat jou moes beskerm en liefhê so iets aan jou doen,” sê 'n meisie in graad nege.

Soos under-cover kriminele ry hierdie ouers dikwels duur karre en sit met heilige smiles voor in die kerk.

Alle ouers van jongmense met erge gedragsprobleme is nie "probleemouers" nie. Daar is regtig goeie, onselfsugtige ouers wat eerlik is, moeite doen en omgee, en tog ruk hulle kinders heeltemal hande uit. Om vandag 'n ouer te wees is geen maklike saak nie!

Iemand sê nou die dag: “As elkeen net begin by homself sal die hele wêreld ’n beter plek wees”. Beter kan ek dit nie sê nie. Die beste ding wat jy vir jou kind kan doen is om te sorg dat dit geestelik goed gaan met jou en jou huwelik.

Ruk jouself reg! Gaan soek hulp as dit nodig is. Maar moenie verwag dat jou tiener verantwoordelikheid gaan vat vir sy/haar lewe as jy nie verantwoordelikheid vat vir jou lewe nie.

Die feit bly staan: baie ouers maak op ’n groter skaal droog as wat hulle kinders ooit hoop om te doen - tot húlle eendag groot genoeg is om kinders van hulle eie te hê . . .

 

 

 

Jaco Strydom