• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

N MINDER VERVELIGE SONDAG

 

 

Die son is al op en ek knyp my oë teen die lig. Buite hoor ek die eienaardigste geluid. Dit het geklink soos iets agter in die erf. Ek loop eers ʼn draai en stap by die agterdeur uit om te gaan kyk.

Die paadjie wat na die kleinerige grasperk lei is amper toegegroei deur ʼn paar hoë struike, nog nat van die vorige nag se dou. Heel agter in die hoek van die tuin sien ek hom. Voor die sinkhuise, op sy knieë, staan Moses - en maak sulke snaakse tjankgeluidjies. Elke nou en dan krap hy met sy voorpote in die grond en gee dan ʼn sagte blaffie.

Daar's iets in daai huisie, dink ek hardop. Miskien is dit ʼn kat, maar sê nou dis ʼn skelm? Graaf in die hand stap ek nader. Versigtig stoot ek die deur oop. Dit neem my oë ʼn paar oomblikke om gewoond te raak aan die donker.

ʼn Besem!? Nie ʼn gewone een nie, ʼn grasbesem soos Liewe Heksie s’n, en hy sweef so wraggies ʼn paar sentimeters bokant die grond!

Ek word amper flou. Die volgende oomblik pyl die ding reg op my af. Ek klap en spring agtertoe. Die besem kom stadig tot stilstand. Nou, slegs ʼn halfmeter van my af, sê iets vir my ek moet hom vat. Ek byt op my tande en met bewerige hande gryp ek hom aan die steel. Met eens is hy net ʼn gewone besem. ʼn Hout stok met ʼn bos droë gras vir ʼn kop. Morsdood. Ek skud die ding, gooi hom ʼn ent, tel hom weer op en laat hom val. Niks.

Besem in die hand stap ek huis toe. Dis laat en ek moet regmaak. Die kerk begin nege uur en ek kry gewoonlik die kerkraad ʼn paar minute voor die tyd in die konsistorie. Ek sit die besem langs die kombuisdeur teen die muur en stap dan die huis in. My vrou gaan dink ek is mal as sy dié storie hoor.

Gesuit-en-getie stap ek by die kombuisdeur uit op pad kerk toe. Dis twintig voor nege, ek is laat. Die ou omies gaan moeilik wees. My oog vang die besem langs die deur. Op die ingewing van die oomblik gryp ek hom en klim sommer op soos die Hekse altyd in die sprokies doen. My kop tref amper die kant van die afdak. Ek koes vir 'n boom en skielik is ons - ek en die besem - tussen die voëls in die lug. Ek vlieg! "Jiiihaai!" skreeu ek, want ons is nou te hoog dat enigeen my sal hoor, die mense hier rond kyk in elk geval selde op.

Ek verstaan glad nie hoe die besem presies werk nie, maar ek kry hom beheer (baie soos my afstandbeheer, selfoon, rekenaar en ander interessante plug-en-play-goed waarvan ek nie 'n idee het hoe hulle regtig werk nie). As ek links wil draai gooi ek my gewig links. Gewig agtertoe is stadiger en gewig vorentoe, vinniger. Presies hoe ek dit regkry om hoër en laer te vlieg kan ek nie lekker verduidelik nie, maar dit werk.

"Vandag vlieg ek met die ding kerk toe!" besluit ek net daar hardop. ʼn Mens kan mos nie iets so ongeloofliks ontdek en dit nie met die gemeente deel nie? Dit sal tog sonde wees! Teen hierdie tyd weet ek in elke geval nie meer of ek my oorspronklike preek sal kan preek nie.

Net voor nege duik ek op die kerk af. ʼn Klompie ouderlinge en ander omies wag geïrriteerd buite die konsistorie. Omdat hulle selde opkyk en dit belangrik is dat hulle verstaan hoekom ek laat is, maak ek ʼn wye draai om die parkeerterrein en kom dan laag in oor die karre.

Die eerste omie wat my sien aankom, is die hoofouderling. Hy word spierwit. "Satan!" skreeu hy en hardloop vir sy kar. Jy sien net ou mense spartel. Tannie Saartjie, die saakgelastigde, kom uitgehardloop om te sien waaroor die kabaal is.

"Wat dink jy doen jy?!" gil sy "Dis óns kerk die! Wie gee jou die reg?!" met dié val haar hoed van haar kop af. Toe sy buk om hom op te tel, hardloop die voorsitter van die diensverhoudinge kommissie haar van agter af onderstebo. Hulle val in die bedding langs die gedenkmuur tussen die varkore.

Hier gaan ek nie inkom nie, besef ek, en dit gaan veel erger wees as die gemeente die storie hoor, as wanneer hulle dit vir hulleself sien. Ek vlieg om die kerk by die hoofingang in, deur die portaal en dan al met die paadjie af. So ver ek vlieg raak mense flou. Dit lyk soos ʼn omgekeerde mexican-wave. Die orrel hou op speel. Ek land op die kansel – nie agter die kansel nie, bo-op die kansel langs die groot Bybel en die glas water.

Besem in die hand, klim ek stadig af en kyk na die arme gemeente hier onder my. Met vrees in hulle oë staar die broers en susters my aan. Niemand slaap nie (behalwe oom Bert). Iewers huil ʼn kind.

"Wat ʼn inleiding!" dink ek en besef ek het nie eintlik meer ʼn preek nie. "Die ding vlieg," sê ek sag en daar volg ʼn onheilige stilte. Hulle weet seker nie meer wat om te glo nie.

Die volgende oomblik gebeur alles gelyk. Die hoofouderling kom met ʼn haelgeweer by die kantdeur in gebars. Soos ʼn klomp terroriste storm hulle op my af, twee diakens skuins van voor, die saakgelastigde skuins van agter. Sy probeer my gillend met haar hoed slaan. Toe ek weer sien is Bettie, die koster, bo op die preekstoel met ʼn blik Doom. Meteens klap daar ʼn skoot. Oom Bert word wakker. Goed val uit die dak. Ek besef dis tyd om te gaan, maar skielik wil die besem nie werk nie. Allerhande goed tref my: Skoene, handsakke, peppermente, kieries, agendas en notules, selfs Bybels! Hulle sak op my toe soos ʼn klomp vampiere. Net toe ek my bewussyn verloor, word ek wakker.

"Waar in die Bybel staan daar ʼn dominee mag nie op ʼn besem vlieg nie?" wonder ek hardop. My vrou kyk my snaaks aan.

“Jy moet opstaan, jy gaan laat wees vir kerk," sê sy. Ek is nou glad nie lus vir die gemeente nie.

Later die oggend by die kerk, kry ek een van die moeilike ou tannies waar sy die konsistorie uitvee met ʼn grasbesem. Ek wil haar eers met iets gooi, maar groet eerder net vriendelik en maak asof niks fout is nie. Wie is ék nou eintlik om te dink sý is ʼn heks?