• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Mag n Christen 'n Tattoo kry?

tattoo 

 

 

Ons weet wat sê jou ouma, maar wat sê die Bybel?

In Levitikus 19:26-28 word tatoeëermerke verbied, maar voor jy te vinnig op die "tatoeëermerke is sonde" wa spring, lees net ook die res van Levitikus 19. Die afsny van die hare voor jou ore (sidies) en jou wangbaard word ook in dieselfde vers verbied en in vers 19, die dra van 'n kledingstuk wat uit meer as een soort materiaal gemaak is. Jy kan mos nie die gedeelte van die tatoeëermerke ernstig opneem en nie die res nie? Dit is belangrik om te onthou dat Levitikus 19 teen die spesifieke heidense gebruike van daardie tyd was.

Galasiërs 5:1 sê dat Jesus gekom het om ons vry te maak om werklik vry te wees en dat ons ons nie weer onder 'n slawe juk moet in dwing nie. Paulus skryf dit juis in reaksie op 'n klomp moeilike Joodse kerkooms wat van mening was dat as jy Jesus volg, jy nog steeds 'n klomp wettiese reëls in die Ou Testament moet gehoorsaam - soos die besnydenis! (So, as jy Levitikus 19:26 letterlik op volgelinge van Jesus vandag van toepassing wil maak moet jy konsekwent wees en jou laat besny - eina!  Maak my nogal bly dat Jesus ons vrygemaak het van wettiese godsdiens...)

Nog argumente teen tatoeëermerke is dat ek en jy 'n tempel van die Heilige Gees is. Ander ouens gebruik weer juis hierdie Bybelse beeld om tatoeëering te regverdig. Daar is tog niks fout met 'n tempel vol simbole nie?! Baie mense laat vandag Christelike simbole op hulle tatoeëer... Ons moet egter onthou dat die gedeelte (1Kor. 6:19) spesifiek gaan oor sekseule losbandigheid en nie so maklik hier van toepassing gemaak kan word nie. Natuurlik is ook ons liggame vir God baie belangrik en moet ons dit mooi opas, maar is tatoeëering op die langtermyn noodwendig meer skadelik as braaivleis (of Mc Donald's!?).

Jy mag vir of teen tatoeëering wees, maar wees tog asseblief versigtig om nie die Bybel te gebruik om jou standpunt te laat buikspreek nie!

Dit is jammer dat so baie mense vandag so obsessief oor hulle voorkoms is. Ons moet onthou dat Jesus nie veel gesê het oor kleredrag en die mens se fisiese voorkoms nie - net dat ons ons nie moet bekommer oor wat ons aantrek nie. Klaarblyklik is dit net nie so belangrik nie. Hieruit kan ons aflei dat iets tatoeëermerke ook nie hierdie reuse issue vir jou moet wees nie.

'n Paar beginsels om te onthou:

  • As jy nie OK is sonder 'n toeëermerk nie gaan jy nie skielik OK wees met een nie. Daar is  niks so uncool soos 'n ou of meisie wat te hard probeer om cool te wees nie. Die Bybel leer ons dat wat in ons harte aangaan die belangrikste is. 'n Mens verander van binne af buitentoe. Dit is jammer dat so baie mense die leuen glo van "die vere maak die voël".
  • Toeëermerke is permanent (jy kan dit deesdae met baie geld, baie pyn en moeite afhaal, maar...).  Dink mooi voor jy een kry. As jy byvoorbeeld "I love Suzy" op jou linkerboud tatoeëer en sy los jou na 'n paar jaar kan dit groot ongemak in jou toekoms veroorsaak, om net een moontlike scenario te skets. Die lewe verander, jy verander en jy moet oppas, want tatoeëermerke kan jou permanent lable.
  • Bly weg van okkultiese en anti-Christelike simbole. As jy sê jy is volgeling van Jesus en die tatoo sê iets anders is jy mos skynheilig?!
  • Respekteer jou ouers se opinie. Dit is 'n Bybelse beginsel om jou ouers te gehoorsaam. Wag maar tot jy eendag uit die huis is, as hulle dit verbied.
  • Kom oor jouself. Laat God jou vry maak van jou beheptheid met jou image. Jy is eintlik veronderstel om jouself te kruisig!
  • Moenie oordeel nie. Aanvaar mense met tatoeëermerke. Ons is nie geroep deur God om stuck-up te wees nie! Jesus het 'n groot probleem met hoogmoedige mense gehad.

Be free!

 

Jaco Strydom