• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Wat 'n nagmerrie - oor Jesus . . .

Jesus in my nagmerrie

Ek het nou die dag 'n nagmerrie gehad oor Jesus . . .

Ek droom ek sit op die grond voor 'n reuse flat-screen televisie en kyk na die lewendige uitsending van een of ander prediker op DSTV. Hy was geklee in 'n baie duur snyerspak, 'n blink das en krokodilleer stewels. Aan sy vinger was 'n goue ring en in sy regterhand 'n swaar leer Bybel.
“God het die oplossing vir al die mens se finansiële probleme!” roep hy en maak dit duidelik dat 'n mens alleen sal maai wat jy saai. Elke nou en dan beweeg die kamera oor 'n skare mense wat op gemaklike teaterstoele sit en “Amen!”, “Preach it brother!” en “Halleluja!”, terwyl hulle aantekeninge maak.
Onder op die TVskerm flits daar 'n nommer wat jy kan bel as jy geld wil “pledge” op die “blessings line”.

Die evangelis raak al meer vurig. Hy hamer daarop dat mense nie moet wag nie, maar dadelik moet reageer. Om sy punt te staaf vertel hy van 'n man wat 'n vorige keer eers na die tyd gekom het vir gebed, maar dit was eintlik te laat, want die salwing wat gedurende die diens gevloei het was reeds verby. Hy vertel die mooiste goed oor die Bybel, die kragtige werking van die Heilige Gees en veral oor Jesus.

Net toe ek begin dink die hele storie is 'n bietjie boring (en baie fake), gebeur daar iets ongeloofliks.
Die evangelis begin passievol bid. Hy bid vir ontvanklike harte, 'n groot oes en dat God deur Jesus sy teenwoordigheid daar tussen hulle bekend sal maak.
Skielik is sy oë groot - stokstyf van die skrik. Die kamera bly vir 'n oomblik op hom, maar 'n mens kan aan die skare hoor daar is iets agter in die kerk aan die gang. Dan draai die kamera weg van die glas preekstoel af opsoek na die aksie.

Totale chaos!

Mense hardloop, ou tannies word flou en almal is wit van die vrees. Geen “hallelujas” en “amens” nie, net 'n mal geraas van gille en goed wat breek.

En toe word alles skielik stil.

Van agter tussen die mense, kom Jesus aangestap. Díe naby hom gee vinnig pad. Hy gooi die tafel met die offergawe mandjies uit sy pad. Toe Hy voor kom kap Hy met een hou die glas preekstoel in stukke. Hy doen die perfekte round-kick en tref ʼn reuse pers blompot met ʼn massiewe blommerangskikking reg in die middel - blomme, blare, stukke glas, vuil water… whoop-whoop-bang!

Sweep in die hand stap hy reguit op die prediker af. Mense snak na hulle asems. Iewers begin 'n vrou saggies huil.

Die evangelis gooi sy Bybel eenkant en probeer by 'n deur agter die kansel uitvlug, maar dis gesluit. Verskrik hardloop hy tussen die mense deur en probeer in ʼn laaste poging soos 'n bang kleuter agter een van die groter ouderlinge skuil. Een vir een begin die mense die kerk verlaat.

Jesus bly alleen agter.

Hy lyk klein in die groot vertrek. Ek sien nou eers sy kaal voete, sy wilde oë. Hy stap tot reg voor die kamera, druk sy neus teen die lens, kyk my vir 'n oomblik stip aan, en sê dan met 'n kwaai stem: “Dit is tyd dat julle wakker word!” Half outomaties verander ek die kanaal op die TV. Daar's 'n advertensie. Ek sug. Die spanning is onmiddelik minder.

Ek dink ek het iets gehoor, want my oë het skielik oopgaan. Vir 'n hele ruk lank het ek net daar op my rug op die bed bly lê, nat gesweet, terwyl die besef tot my begin deurdring dat dit net 'n droom was. Wat 'n verligting.

Van daardie dag af droom ek om wakker te wees.