• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

BEELD: Proust Vrae aan Jaco Strydom

Screen_Shot_2015-11-17_at_8.06.01_AM.png

BEELD Saterdag 18 Mei 2013 00:28

Proust Herbesoek Jaco Strydom

 
 
 

Wat behels aardse geluk?

Liefde. Jesus het gesê om te gee maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.

Wat is die diepste put van ellende?

Ware eensaamheid.

Wat is jou grootste tekortkoming?

Ek is lui.

Wat is vir jou snaaks?

Politici, klein kindertjies en babadiere.

Wie is jou helde?

Jesus – en die vrou wat elke oggend 4:30 opstaan om die bus te haal na ’n werk wat R2 600 ’n maand betaal, alles ter wille van haar kinders.

Wie is jou gunsteling-fiksiekarakters?

Kupido Kakkerlak in André P. Brink se roman Bidsprinkaan – al is hy gegrond op ’n historiese persoon.

Wanneer en waar was jy op jou gelukkigste?

Afgesien van saamwees met die mense wat ek lief het, is my happy place op ’n kajak agter die branders of op ’n rivier. ’n Paar van ons het laas jaar een aand bo-op die dak van ’n gebou reg langs die Ganges in Varanasi onder die sterre geslaap. 

Dit was so ’n mooi aand dat ek nie aan die slaap kon raak nie. Ek was ook al ’n keer of wat bevoorreg om ’n tyd alleen weg te raak op werklik afgeleë plekke, soos die Andaman-eilande of die Karakoramberge in Noord-Pakistan. As jy alleen is, kan jy jou oorgee aan die grootsheid van als en dan is jy skielik gelukkig. My ander konsekwente happy place is langs die Wilgerivier in die Vrystaat.

Wat verveel jou?

Kerkvergaderings.

Wat is jou kenmerkendste eienskappe?

Lang hare en skewe tande?

Waaroor is jy spyt?

Oor al die kere wat ek onnodig kwaad geword het; dat ek Moeder Teresa nooit persoonlik ontmoet het destyds toe ek in Indië gewoon het nie (ek het gedink sy was te ver uit my pad!); dat ek nie meer gelees het toe ek jonger was nie; dat ek nie meer moeite gedoen het met my ma voor haar dood nie; oor die baie jong mense wat deur die jare by ons kom aanklop het om hulp wat ons nie kon help nie; dat ek Damien Rice en Bruce Cockburn nou eers ontdek het en Tolstoi en Kierkegaard . . . en nog ’n klomp goed.

Wat sou jy anders gedoen het as jy jou lewe kon oorhê?

Ek sou die goed waaroor ek spyt is wou regmaak en eerder kuns en geskiedenis op skool wou neem as wiskunde en wetenskap, asook enigiets in die plek van bedryfsekonomie. Ek sou ook wou leer kite surf terwyl ek nog jonk en maer was.

Wie is jou gunsteling-skrywers?

Henri Nouwen, Leo Tolstoi, André P. Brink, Fransi Phillips, Jean Vanier, Albert Nolan, Rian Malan, Koos Kombuis, Shane Claiborne, M. Scott Peck, Rodney Stark.

Wat is jou gunsteling-versreël?

“When the woman showed her love for the children that were not her own, and wept over them, I saw in her the living God, and understood  What men live by.” (Leo Tolstoi)

Wat is jou gunsteling-voël?

Ek hou eintlik van alle voëltjies en selfs van vlermuise, tog moet ek erken ek is nie vreeslik mal oor kraaie en budjies nie.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Ek is ’n ekspert met vakansiehou.

Wat is of was jou grootste prestasie?

Dat Marina bereid was om met my te trou en dat Katinka en Mathilda meer na hul ma as na hul pa lyk (maar dit was dalk eerder genade as ’n prestasie).

Wat dink jy gebeur ná die dood?

Dan gaan ons hemel toe, natuurlik.

 

(BEELD BY Saterdag 18 Mei 2013)

 

 

Jaco Strydom

12193790_10153717623573767_645918271038561043_n.jpg