• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Die Jesus van wie die Sondagskooltannie my nie vertel het nie

 

In my eie kop was daar nie ʼn gelukkiger ou as die man wat aan die kruis langs Jesus tot bekering gekom het nie. Hy kon sy hele lewe geniet en toe, net voor hy doodgaan, ontmoet hy vir Jesus. "What a bargain!" het ek gedink, die ou het niks uitgemis nie en nog steeds gaan hy hemel toe.  

  Ek het begin hoop dat ek ook eendag so gelukkig sou wees. In my geestesoog het ek gesien hoe ek as ʼn bewerige ou man op my sterfbed gou my sondes bely en dan skielik saggies sterf.

  Die skuld vir díe skewe gedagte lê by die tannie wat vir my sondagskool gegee het.

  Moenie ʼn fout maak nie, sy was ʼn baie netjiese en ordentlike kerkmens. Maar sy was ook ʼn dwaalleraar. Volgens haar weergawe was Jesus een van die minder opwindende karakters in die Bybel - en om Hom te volg amper so opwindend as om te kyk hoe ʼn potplant groei.

  Haar Liewe Jesus was ʼn passielose ou met ʼn lang wit kleed wie se hartjie bly was as ons soet is en ontsteld was as ons stout is. Omdat Hy glo glad nie van die stoute kinders gehou het nie, het ek die idee gekry dat ek ook nie veronderstel was om van stoute kinders te hou nie - wat my natuurlik met ietwat van ʼn identiteitskrisis gelaat het. Eers jare later sou ek uitvind dat Jesus eintlik mal was oor soute kinders.

  Ek kon my niks meer vervelig indink as om hierdie vervelige Jesus te volg nie.

  Haar Jesus het geklink soos iemand wat ons die hele tyd wil kalmeer as ons lekker speel. Hy was ʼn spoil sport, wat waarsku en terug hou en saggies raas.

  Ek neem haar kwalik dat sy ons nooit prentjies laat inkleur het van ʼn Jesus wat byvoorbeeld saam met die tollenaars partytjie hou, water in wyn verander, waar Hy die godsdienstiges by die tempel pakslae gee of ʼn prentjie van sy dissipels wat koring pluk op die Sabbat nie.

  Ook haar idee van die hemel, veral die gedagte aan hemelse kore wat heeldag sing, het meer na ʼn nagmerrie as ʼn droom geklink. Ek het op daardie stadium een keer na ʼn koor kompetisie van my sussie gaan luister en gedink, as dit is hoe die hemel is, is die hel sekerlik ʼn verskriklike plek.

  Wat kan pynliker wees as om jou vir ʼn ewigheid lank stadig dood te verveel? Sy het die hemel soos een laaang Sondag middag laat klink. Ek het die idee gekry dat as die hel ʼn warm plek was, dan was die hemel ʼn koue plek. Dit was ʼn bietjie soos om te kies tussen uitskryfwerk en om gehok te wees - soos om te kies tussen Britney Spears en Christina Aguilera (of Bles Bridges en Gerrie Pretorius?!).

  Die probleem is natuurlik dat die Jesus van die Nuwe Testament alles was wat die Sondagskooltannie nie was nie. Hulle was soos twee teenorgestelde pole in die heelal.

  Sy was vas en Hy was vry.

  Sy het tee gedrink saam met die smart mense van die bodorp en Hy het uitgehang saam met die onbelangrike mense van die onderdorp.

  Die kerk is vandag, met toenemende uitsonderings, te veel soos my Sondagskooltannie (ordelik, netjies, veilig, vervelig, subtiel, gemaklik . . .) en te min soos die Jesus van die Nuwe Testament.

  Die skrywers van die Nuwe Testament skets Jesus as ʼn dapper passievolle man wat lig gereis het, opgestaan het teen ongeregtigheid en ʼn revolusionêre boodskap van ʼn opwindende nuwe koninkryk verkondig het. Hy het op water geloop, buite geslaap, saam met melaatses geëet, veertig dae gevas sonder om te kroek en partytjie gehou saam met die sondaars.

  Laat niemand sê Jesus was net ʼn bietjie vreemd nie, Hy was super weird en sy boodskap iets uit ʼn ander wêreld. Die lewensstyl wat hy verkondig het was eerder gevaarlik as vervelig.

  Jesus het ʼn groter probleem gehad met rykdom as met armoede, godsdienstiges was vir Hom ʼn  groter frustrasie as sondaars en die grense van mense het Hom meer omgekrap as vryheid.

  Hiervan het die tannie my niks vertel nie.

  Ek sê nie ons moet haar op die brandstapel brand nie, maar ons sal die kinders teen haar moet waarsku. Die tannie is gevaarlik!

  Die kerk se grootste vyand was nog altyd binne haarself. Die sondagskooltannie en haar gemaklike Jesus waarsku ons net weer van die dreigende gevaar van self-destruction.

  Ons is gedurig besig met een van twee dinge. Of om meer soos Jesus te word of om Jesus meer soos ons te maak. Die wêreld het vir Jesus nodig. Nie ʼn Jesus wat soos ʼn kerk lyk nie, maar ʼn kerk wat soos Jesus lyk. Sy liggaam op aarde.

  Die uitdaging is om Jesus van vooraf te ontdek, maar dalk die keer met minder van die soet kerksousie?

 


- Die Sondagskooltannie is ʼn fiktiewe tannie en enige ooreenkomste met kerktannies vandag is bloot toevallig.

 

Beeld 30/08/2009

 

Jaco Strydom

 

 

 

32246-kids-running-field-1200.630w.tn.jpg