• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Hier red hulle net lewens as die geld reg is

Servaas, een van ons jeugwerkers, jaag met die bebloede seun na die naaste hospitaal. Daar aangekom het hy reeds sy bewussyn verloor.

Het hy ʼn mediese fonds, meneer?” vra die vrou by die toonbank - baie vriendelik.

Hy het nie eers ouers nie,” hyg Servaas.

Het u R3000 kontant meneer?”

Nee?!”

Dan kan ons hom ongelukkig nie help nie,” sê sy heel ordentlik en begin weer tik op die rekenaar voor haar. Sy doen net haar werk - by dié hospitaal red hulle net lewens as dit winsgewend is!

Ek is seker, sou ons by die naaste kroeg sou instorm met die kind, dat almal sou probeer help. “As julle 'n sterwende kind net sal help as die geld reg is, is hierdie plek meer oneties as Teazers,” skryf ek later vir die hoof van die hospitaal.

In ʼn korporatiewe opset kry ʼn mens dikwels ʼn unieke vorm van immoraliteit. Niemand is verantwoordelik nie. Die vrou by die toonbank voer net haar opdragte uit, dieselfde met die dokters aan diens en haar baas, die hoof van die hospitaal - selfs die direkteure van die maatskappy sal pleit dat die besluite lankal geneem is en dat dit maar is hoe besigheid hier gedoen word. So word bose sisteme in stand gehou.

Kry jy enige een van hierdie mense by ʼn braai stem hulle natuurlik heelhartig saam dat ʼn mens se lewe meer werd is as geld, en dat geen moeite ooit ontsien mag word om ʼn lewe te red nie. Die vrou by die toonbank sou waarskynlik heeltemal anders opgetree het as iemand met ʼn bloeiende kind by haar huis opgedaag het.

Mense is in staat tot groter wreedhede wanneer hulle deel is van sekere groepe.

ʼn Ander voorbeeld hiervan is die Waterkloof-Vier. Dit is onwaarskynlik dat enige van die seuns heeltemal op hulle eie die bepaalde aand sou rondry en ʼn onskuldige man sou aanrand. Alleen is hulle gewone stoute seuns, maar sit hulle in ʼn sekere groep en gooi ʼn bietjie alkohol by, en skielik is daar ʼn ander bose dinamiek aan die werk.

Die bekende sielkundige en skrywer Scott M Peck gebruik in sy boek, People of the Lie, die term “group evil” om hierdie verskynsel te beskryf na aanleiding van die My Lai slagting in 1968 waar ʼn groep Amerikaanse soldate honderde onskuldige vrouens, kinders en bejaardes doodgeskiet het in ʼn Viëtnamese dorpie.

Ek het in die vroeë negentigs na die beeldsendings van halsnoermoorde gekyk en gewonder wie die wrede omstanders is wanneer hulle alleen is. ʼn Mens het die idee gekry dat die groep ʼn waansin met ʼn momentum van sy eie ontwikkel wat omstanders intrek en wreedheid aanblaas. Amper soos ʼn veldbrand wat op ʼn stadium so warm begin brand dat hy sy eie opwaartse wind veroorsaak en dan vinniger versprei.

Hierdie groepe absorbeer dikwels die identiteite van hulle lede in ʼn nuwe oorheersende groepidentiteit – en soos ons weet het identiteit ʼn reuse invloed op moraliteit.

Een van die vernaamste eienskappe van korporatiewe immoraliteit is die weggee van persoonlike verantwoordelikheid.

Daar is verskeie redes waarom mense minder persoonlike verantwoordelikheid neem in groepe, hier is drie:

1.Hulle is lui. Dit is makliker om die groep namens jou te laat dink of in ʼn nuwe situasie te hou by wat vroeër ooreengekom is.

2.In groepe wil mense mekaar dikwels beïndruk. Groepsdruk maak dat mense eerder konformeer, maar dit het ook dikwels die effek op sekere individue om tot buitengewone lengtes te gaan om ander lede van die groep te probeer beïndruk.

3. Die lading van die groep. Binne groepe bestaan daar ʼn bepaalde atmosfeer wat soos ʼn battery gelaai word – of soos ʼn dam waarvan die morele wal later swig onder langtermyn druk.

Natuurlik is mense ook dikwels tot groter goedheid in staat in sekere groepe en die kerk moet sekerlik probeer om dié alternatiewe groep in die samelewing wees wat juis dit stimuleer. Positiewe groepsdruk kan maak dat mense juis meer onselfsugtig en met ʼn dieper verantwoordelikheidsin leef.

Vryheid en die vermoë om verantwoordelikheid te neem loop saam. Juis hierdie vryheid is ons grootste getuienis en moet ons laat uitstaan in groepe. Veral by die meer aanvaarbare immorele groepe in ons samelewing, soos Privaat Hospitale, wat biljoene maak uit ryk mense se nood en tog wyer om ʼn arm kind te help (in teorie is hulle natuurlik wetlik verplig, maar in praktyk is hulle ʼn glibberige lot met allerhande ontwykende toertjies), en die baie Christene wat dit verdedig, so asof ʼn ryk man se lewe meer werd is as die van ʼn arm kind!

Evil conquers when good men do nothing!

 

 

 

Jaco Strydom