• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

In SA rattle die bus al erger...

Artikel en kommentaar in Beeld

Dit is nou, amper twintig jaar gelede dat ek daai wille bekering beleef het. Ons was op 'n jeugkamp en vir die eerste keer het ek besef: God is rêrig. Terug by die huis by die huis, het my ma gedink ek is siek, my sussie ek is verlief en die meeste ander mense ek is mal. Dae lank sou ek my onttrek en in my kamer sit en Bybel lees en bid. Ek het al my wêrelde tapes verbrand en net gospel musiek begin luister, net geestelike boeke gelees en net met my nuwe Christen buddies uitgehang. 'n Wonderlike wêreld weg van alles af. Binnekort het 'n snaakse beeld van Christenwees in my kop begin groei: die idee van DIE GOSPEL BUS.

Dit het so gewerk: Wanneer iemand tot bekering kom, haal God hom van sy vuil wêreldse bus af en sit hom op DIE GOSPEL BUS. 'n Pragtige blink bus met 'n "Real men follow Jesus" sticker op die boud. In my verbeelding ek hom gesien: pers fluweel interieur, leersitplekke - met veiligheidsgordels, vrolike gospelmusiek oor 'n duur klankstelsel, lugversorging en om alles te kroon, 'n vriendelike busbestuurder  in 'n wit pak met 'n goue ketting om sy nek en 'n direkte lyn na God - wat in die opskamer sit en kyk dat alles glad verloop. Die insittendes, almal babbelende begeeste

rdes met Jesus pette, WWJD armbande, "Jesus is Lord" skoenveters en ander kledingstukke wat wys hulle is koningskinders.

DIE GOSPEL BUS was nie net veilig en netjies nie, maar ook 'n bus met 'n missie: "Om die evangelie te bring aan 'n verlore wêreld". Die strategie was om wêreldse busse op te spoor, langs hulle te stop en dan vir die arme drommels  traktaatjies deur die venster aan te gee of  te skree: "Jesus loves you!".  Die teken dat iemand "bereik is", sou wees dat die persoon sy onveilige, vuil, stowwerige bus verlaat en oorkom na ons bus toe - en saam "Kumbaya my lord" sing . . .

Weird idee nie waar nie? Nou ja dalk nie heeltemal so vreemd soos die idee dat die kerk 'n ronde gebou met 'n toring is nie, maar steeds ietwat vreemd aan die Nuwe Testament.

Op 'n dag bevind ek myself toe op 'n regte bus en net daar verander die storie in my kop. Dit het so gebeur:

Ek was op pad na 'n plek in Noord Indië, weggesteek tussen die ondenkbare hoë pieke van die Himalayas. Die grootste verskrikking was egter die bus self: 'n Stokou, vuil, siwwe Indiese bus, sonder vensters met stukkende sitplekke, wat woes rattle en om alles te kroon, 'n haastige busbestuurder, met 'n mal kyk in sy oë en skynbaar geen vrees vir afgronde of potholes nie.

Almal op die bus was moeg en geïrriteerd. `n Moslemvrou het `n lap teen haar gesig gehou om die stof te keer, twee jonggetroudes het verskrik aan mekaar vasgehou en op die agterste bank het `n Hindoe man geïrriteerd rondgerol.

Die volgende oomblik laai die bus drie kindertjies op. En het hulle die trippie geniet! Hulle het gelag en te kere gegaan asof ons op `n roller costar is. Die stof het hulle blykbaar nie gepla nie en wanneer ons deur `n dippie gaan, het hulle hulle armpies in die lug gegooi en geskree: "Hihaaa!".

Skielik was die busrit vir almal beter. Ek het selfs `n paar keer hardop gelag. Mense het weer begin gesels, die vrou voor my het die lap voor haar gesig weggevat en na die natuurskoon begin kyk. Die kindertjies het die busrit vir almal beter gemaak.

Net daar besef ek, die lewe is dalk meer soos díe busrit. Almal deel hierdie stukkende wêreld en gaan deur tye van swaarkry, siekte en dood. As jy God dien haal Hy jou nie af en gee jou "special treatment" nie.  Soos daardie kinders moet ons op die bus 'n verskil te maak.

Die hele "weg van alles", "bless me club" idee van kerkwees is eintlik baie vreemd aan die evangelie. Jesus het nie van buite geskree nie, Hy het deel geword van ons vuil, stukkende wêreld.

Kan jy sê jy het God se liefde in jou, maar jy hou jou op 'n afstand?

Hier in Suid-Afrika rattle die bus al erger en het die bestuurder skynbaar 'n gawe om potholes raak te ry. Ons durf egter nie wegbeweeg van die realiteit van pyn en swaarkry nie. 'n Lig is mos nodig daar waar dit donker is?

O, moenie 'n fout maak nie, daar word baie in kerkkringe gepraat oor goed soos armoede en sosiale betrokkenheid, maar dikwels net vanuit die veiligheid en luuksheid van netjiese kerkgeboue en studeerkamers.

Daar word te veel gepraat oor armoede en te min gekuier saam met armes.

Ons probleem in Suid-Afrika is nie dat daar te min Christene is of dat gemeentes te min geld, geboue of materiële hulpmiddels het nie, maar eerder dat te veel van ons onsself op gemaklike eilande bevind - in 'n see van nood.

Die veilige en gemaklike "eiland evangelie" mag dalk vandag baie gewild wees, maar dit is nie die evangelie van Jesus Christus nie.

 

Jaco Strydom 01/02/2011