• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Wanneer om te rebelleer en wanneer om dit . . . . kort te knip

 
 
 

Soms moet jy jou maar laat besny?  :- \

 

 

 

 

 

Nog nooit in die geskiedenis was die kerk so ryk aan eiendom, mannekrag, geld, vaardighede, ervaring, kommunikasiemiddele en inligting nie. Veral hier in Suid-Afrika. Tog lyk dit nie of dit beter gaan op die plekke met die meeste kerke nie. Jy kan nie glo dat daar byvoorbeeld in ʼn land met soveel vredemakers so min vrede is nie. Ek was nou die dag op ʼn dorp met meer kerke as straatkinders - en steeds is die kinders op straat. Dit maak nie sin nie. Is elke Christen se huis nie veronderstel om ʼn plek van hoop te wees nie? Alles is nie reg nie en ons mag nie stilbly daaroor nie. Ons moet rebelleer!

Die hele reformasie was in ʼn sekere sin ʼn rebellie. Dinge in die kerk moes eenvoudig verander. Dalk is dit weer sulke tyd?!

Die laaste tyd het ek egter bewus geword van ʼn vreemde balans in die Nuwe Testament.

Deel van ons profetiese roeping as Christene is om dapper op te staan en ons uit te spreek teen dinge wat verkeerd is, al maak dit ons ongewild.

Jesus het die godsdienstige leiers dikwels sommer in die openbaar aangevat. Hy het openlik gerebelleer teen byvoorbeeld handel dryf by die tempel en die liefdeloosheid van die Fariseërs. Dit lyk of Jesus selfs ʼn groter probleem gehad het met die godsdienstige leiers as met die tollenaars, losbandiges, dronkaards en ander “sondaars” van sy tyd. Dit het Hom met tye uiters ongewild gemaak.

Ook by Paulus kry ons hierdie tipe vreeslose onverskrokkenheid. In sy briewe skroom hy nie om uitgesproke te wees wanneer dinge nie reg loop nie. Van die godsdienstiges wat daarop aangedring het dat nuwe gelowiges hulle moet laat besny sê hy op ʼn stadium: “Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (Galasiers 5:12). Nie baie sensitief nie.

Ons word nie geroep om people pleasers te wees nie.

Tog doen Paulus op ʼn ander keer ʼn baie vreemde ding. Wanneer hy vir Timoteus saamvat om met ʼn klomp moeilike Joodse kerkooms te gaan praat, laat hy die (arme) jongman hom eers besny. Hoekom? Waarskynlik sodat die moeilike ooms vir eens en vir altyd tog net sal hoor wat hy te sê het. Paulus het geweet die besnydenis was so ʼn groot storie vir die Joodse Christene dat hulle Timoteus nooit sou hoor as hulle nie geweet het dat hy die pynlike oefeningtjie eers deur is nie.

Het Paulus nou skielik in die besnydenis van heidense bekeerlinge begin glo? Nee, maar dit was vir hom belangriker om gehoor te word. Hy moes eenvoudig hulle taal praat om sy boodskap oor te kry.

Ek loop deesdae oral passievolle jong rebelle raak wat ontsteld is oor die regte goed. Hulle beweeg egter dikwels so ver van die hoof stroom godsdienstige bewegings af, dat hulle stemme eenvoudig nooit gehoor word nie.

Elke keer as ek byvoorbeeld hoor van ʼn teologie student wat wil ophou swot en die kerk verlaat, dikwels met goeie motiewe en legitieme frustrasies, kry ek ʼn oorweldigende gevoel van: “Die kerk het juis hierdie ouens nodig”.

Miskien is dit ons grootste uitdaging wanneer ons vandag met 'n kerk gekonfronteer word wat soms lyk of sy eerder vir Donald Trump (hy doen ook liefdadigheid?!) as Jesus Christus volg: Om dapper op te staan, maar om dit so te doen dat die boodskap darem gehoor word. ʼn Fyn balans.

As jy dink dis ʼn tawwe job, wees bly die tyd van die besnydenis is verby!

 

 

Jaco Strydom

 

 

 

starry_nigjhht_sky_by_barbarapavlic-d72ad89.jpg