• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Liefde vra meer as liefdadigheid

indsex.jpg

 

Sy is ʼn enkelma met twee kinders. Elke oggend staan sy vyfuur op om die bus te haal. In die aande kom sy eers na ses by die huis. Geen mediesefonds - sy vrees die dag dat een van haar kinders ernstig siek word. Daar is nie geld vir mooi maak en ontspan nie. Alles vir die kinders. Sy is ʼn wonderlike ma, ʼn eensame vrou en ʼn engel - maar meeste mense sien net 'n ousie.
   Ek het vanoggend weer Comfortably numb van Pink Floyd geluister en gewonder, besef ons nog dat straatkinders kinders is?

   Ons sal moet naderkom om beter te kan sien.

   Dit is nie dat kerkmense oor die algemeen niks voel nie, inteendeel, ons is dikwels net te ver om te verstaan.

   Om om te gee beteken tog presies dit: om - te - gee. En as ek die evangelie reg verstaan beteken dit nie in die eerste plek net om iets te gee nie, maar om jouself te gee. Om die maaltyd waarmee jy geseën is te deel en nie net die krummels te gooi vir die armes nie.

  Ons grootste uitdaging in hierdie land (met van die grootse gapings tussen ryk en arm) is nie net om kos te gee vir die wat in nood is nie, maar om saam kos te maak en saam te eet. “Community” eerder as “charity”. Liefde vra meer as net liefdadigheid.

   Liefdadigheid is nie uniek aan die kerk nie. Almal doen deesdae ʼn bietjie liefdadigheid op die kantlyn - selfs die rolbalklub hier onder in die straat gee ʼn persentasie van hulle inkomste en samel nou en dan ʼn bietjie kos en komberse in.

   ʼn Tyd gelede praat ek op “Vigs Sondag” by ʼn gemeente. Die mense is duidelik geraak deur die stories en statistieke van die grootskaalse pyn en dood. ʼn Paar tannies pik selfs ʼn traan. Tog, toe ek aan die einde van die diens vra wie ken iemand met HIV of Vigs was daar niemand nie. Die stilte was nie ongemaklik genoeg nie.

   Dit in Suid-Afrika, die land met die hoogste Vigs sterfte syfer in die wêreld en miljoene weeskinders a.g.v. die siekte.

   Elke nou en dan bel ʼn dominee en vertel dat sy gemeente ʼn klomp blikkieskos ingesamel het. Hy wil hoor of ons dalk vir hom armes het aan wie hulle dit kan uitdeel - dit is vir hom belangrik dat die mense dit self kom gee, sodat hulle kan kontak maak en “ʼn bietjie voel hoe dit is” (en dalk ʼn paar fotos neem vir die sendingdiens). Ons kan doen met al die blikkieskos en komberse wat ons kan kry, so ek probeer maar altyd vriendelik wees, maar laat ek vir eenkeer sê hoe ek regtig voel. Hulle is kerk vir hoeveel jaar?! En dit in Suid-Afrika, van alle plekke, die land met reuse armoede en werkloosheid, en steeds na al die jare het hulle geen langtermyn verhouding met mense in nood nie?! Wat doen ʼn gemeente wat nie besig is om om te gee nie heeldag?

   As omgee na buite bloot die stokperdjie of vakansieprogram van die kerk is, wat is dan die kernbesigheid?

   Jesus het nooit gesê, Ek was honger en julle het vir my gepreek, dors julle en julle het vir my gebid, ʼn vreemdeling en julle het ʼn debat gehou oor Zenophobia nie (Matt 25:31-46).

   Shane Claiborne het gesê die probleem is nie soseer dat ons nie omgee vir die armes nie, maar dat ons hulle nie ken nie.

   Dit is natuurlik nie verkeerd om komberse en blikkieskos in te samel nie (dit is eintlik baie nodig), maar die langtermyn doelwit van enige gemeente moet tog langtemyn verhoudings met mense in nood wees - dalk sal hulle glo dat God in hulle belangstel as sy liggaam in hulle belangstel?

   Liefdadigheid sonder werklike omgee gemeenskap het dikwels ʼn ontmagtigende effek op ʼn gemeenskap. Dit maak net die armes meer afhanklik – en die rykes meer tevrede.

   Dit is jammer dat so min gemeentes dit regkry om die byeenkomste van die kerk te omskep in ontmoetingsplekke waar mense van die uiterstes van ons samelewing mekaar beter kan leer verstaan. Suid-Afrika is seker die land met die meeste vredemakers en die minste vrede.

   Die kerk het die potensiaal om dié plek van versoening in die gemeenskap te wees.

   Nou hoor ek al die dominee sê, die probleem is ligging en demografie, ons gemeente is eenvoudig te ver van die nood af. Wel dominee, dan sal julle moet beweeg! Sendingwetenskap 101: As jy jou liggie wil laat skyn, soek ʼn donker plekkie.

   God het nie die wêreld na die kerk toe gestuur nie, hy het die kerk na die wêreld toe gestuur.

   Die probleem met blote liefdadigheid is dat dit ons op ʼn afstand hou. Dit maak dat ons kyk, maar nie mooi kan sien nie. ʼn Mens kan op ʼn afstand jammer wees, maar dit is wanneer jy naby kom dat empatie in jou hart begin groei en jy regtig begin omgee – en waar jy agterkom dat jy eintlik ook “arm” is en baie het om te leer.

   Die armes het nie net die kerk nodig nie, die kerk het ook die armes nodig.

   Dit is nie genoeg dat ons net praat oor wat Jesus gedoen het nie. Ons sal dit moet waag om te doen wat Hy gedoen het. God het nie net vir ons iets gestuur om ons gemors hier onder uit te sort nie, Hy het vir ons iemand gestuur om saam met ons te wees. Presence makes the difference.

   Na my mening is die groot vraag waarmee kerkleiers vandag moet besig wees: “Hoe moet ʼn kerk lyk wat skatryk is aan eiendom, mannekrag, vaardighede en kommunikasiemiddele in ʼn land met die hoogste HIV syfer in die wêreld, reuse werkloosheid en massas weeskinders?”

   Ek is nie seker wat die antwoord is nie, maar ek dink dit sal baie help as ons kan leer om kerk te wees saam met die wat HIV positief is, die werkloses en die weeskinders – en nie net uitreik na hulle nie.

(Beeld 03/08/2012)

 

Jaco Strydom