• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Die vryheid van die nonne van Kalkutta

 

 

Ek het in 1995/96 vir 'n tyd lank in Indië gewoon. Nou die dag kry ek die kans om die wonderlike land weer te besoek, die keer saam met 'n klompie mense van ons Echo Community. Hier is ietsie wat ek laat een aand geskryf het na 'n baie interessante dag in Kalkutta:

 

Greta en David is verlief, elke nou en dan verdwyn een van hulle om op ons goedkoop hotelletjie se Wifi te probeer facebook. Veral David, wat onlangs die meisie van sy drome ontmoet het. Sané en Annuchka is iewers besig om die tipe herinneringe op te bou wat mens later in jou lewe oor en oor vertel, herinneringe van "die dae toe ons nog jonk en vry was". Van die ander slaap al. Bushy is nog wakker, hy drink elke oomblik in. Die backpack-travel-ding het hom nou finaal gegryp - hy sit en droom - hy is "as good as they come", een van die slimste, fluksste, eerlikste mense wat ek ken, 'n amazing ou.

    Dis ongelooflik om saam met die klomp in Indië te wees. My helde. Die mense wat die lewe leef waaroor ek maar net kan preek. Ons ken mekaar goed, soos familie wat mekaar aangeneem het (nie omdat ons moes nie, maar omdat ons wou!). Wonderlik om die enigma van Indië deur hulle oë te beleef. Hulle grootste gawe is dat hulle ‘n way het met mense, veral mense wat swaarkry. Meeste bly saam met ons jongmense in een van ons Echo-huise in Pretoria, een of twee is op ander maniere betrokke.

    By "Kalighat - house for the dying" in Kalkutta, kon ek sien hoe 'n Indiese non genaamd Caroon, onmiddelik met Sané connect. Sy het binne minute haar eie hart gedeel sonder om vir 'n oomblik oogkontak te verloor met die vreemdeling uit 'n ander wêreld. Oor en oor, het sy oor twee goed gepraat: haar liefde vir God en die eensaamheid en weerloosheid van die sterwende mense in Kalkutta. Ons het baie vrae gehad. Baie om te leer.

 Na sy geduldig al ons vrae probeer antwoord het, vra David of ons vir haar kan bid, hy stop in die middel van sy sin, verander sy vraag en en vra of sy nie eerder vir óns sal bid nie - ons was duidelik die mense daar wat gebed die nodigste het! Sal sy so gaaf wees om te bid dat ons God se hart meer soos sy verstaan?

Nee,” verras haar antwoord ons. As ons gebed nodig het sal ons self moet gaan kniel en bid in die kapel (ʼn gebedskamer reg bokant die twee vertrekke waar sterwende straatmense en melaatses versorg word). God self sal ons bedien, sê sy en haar oë blink - asof sy ʼn geheim ken.

Ons het vir 'n rukkie almal stil bo in die kapel - waar Moeder Teresa so dikwels gekniel het - op ons knieë gaan sit. Ek het doelbewus weer Sister Caroon se woorde in my kop rondgedraai, bang dat ek dit sou vergeet - en gebid vir my eie selfsugtige siel. Terwyl ons elkeen in stilte probeer besig raak met God, kom nog nonne in en kniel in stilte.

Na 'n rukkie stap ek uit en skep vars lug op 'n balkon wat uitkyk oor 'n tipiese Kalkutta aandtoneel. Van oorkant een van die besige strate vang 'n vreemde beweging my oog. 'n Stokou Indiese vroutjie met 'n dikkerige stok vir 'n kierie in haar hand skuifel sukkel sukkel oor 'n baie besige kruising - karre, tuk-tuk's, busse, fietse, schooters, honde, voetgangers, koeie . . .

Met 'n skok besef ek, sy is blind!

Ek kon my niks erger voorstel nie. Om blind en alleen te moet wees in dié verskriklike chaos, in dié vuil stad.

Maar tot my verbasing weet sy duidelik waarheen sy op pad is. Aan my kant van die straat was 'n tipe polisie versperring. Toe sy dit bereik gly sy haar een hand oor die bokant en skuifel al met die reëling langs tot by die trappe van Susters of Mercy. Die deur waaraan sy klop was skuins onder my waar ek op die balkon van die kapel staan. Die deur gaan oop en ek sien hoe iemand haar na binne nooi. ʼn Heilige oomblik.

Eers sag en toe al harder kom die klanke van 'n baie ou lied uit die kapel. Die evening-prayerhet begin. Ek gaan terug en kniel saam met die ander en die nonne - sommige uit Oos-Asië, ander uit Europa, een uit Afrika en 'n hele paar vroue uit Indië.

Vir die volgende uur bid en sing ons saam met die nonne en voel iets van hoe God se hart hier in die teenwoordigheid van sy liggaam klop.

Net daar op my knieë begin ek wonder: hoe sou die wêreld lyk as elke Christen die evangelie soos Moeder Teresa en hierdie nonne sou verstaan? Miskien was die idee nooit dat hulle hierdie wonderlike "wow-uitsonderings" van die Christen-wêreld moes wees nie. Sê nou dít was maar net "hoe Christene is". Onselfsugtige mense. Mense wat iets groter as materiële rykdom - iets groter as hulleself - ontdek het om voor te lewe. Sê nou almal sou, soos hierdie nonne, kies om hulle lewens te gee vir 'n stukkende wêreld (soos Jesus?).

Dalk is dit die nabyheid van die blindes wat hulle help om te kan sien.

 

 

 

 

Jaco Strydom