• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

NOEM DIT SOMMER HOOGMOED OF SNOBISME

(Beeld 15/02/2013)

(Gavin, ʼn pasiënt in die maksimum sekeriteitseenheid by Weskoppies sê rassisme is amper geen issue daar nie. Toe ons uitstap kom groet 'n paar van sy swart pêlle. 'n Voorbeeld vir die res van die land!)

 

Snobisme is ʼn vreeslike ding. Rykes wat neerkyk op armes, gesondes op siekes, heiliges op sondaars . . . die sogenaamde sterkes op die sogenaamde swakkes.

 

Wanneer ons daarvan lees in sprokies, maak dit ons kwaad. Hoe kon Aspoestertjie se susters so hoogmoedig wees? Almal stem saam, Kardinaal Richelieu in die verhaal van die drie musketiers was ʼn wrede man. Robin Hood is ʼn held, want hy kyk nie soos die ander neer op die verdruktes nie, hy staan op vir die wat suffer onder die snobistiese rykes.

 

In al hierdie stories is daar ʼn onderliggende boodskap dat snobs boos is. Vra jy enigiemand wat sy opinie is oor hoogmoed en snobisme, hoor jy dadelik ʼn baie sterk afkeer daarin - selfs by grootmense. Niemand wil ʼn snob wees nie!

 

Ook in die Bybel kry ons ʼn sterk afkeer in hoogmoed en snobisme. Dink maar aan 1Petrus5:5 “God weerstaan die hoogmoediges, maar die nederiges gee Hy genade”.

 

Tog is daar wêreldwyd ʼn tipe snobisme wat toenemend aanvaarbaar is, ook hier in Suid-Afrika: Rassisme.

Ek weet jy is al oormoeg vir die woordjie, want deesdae word dit vir amper enige verskoning gebruik, maar hoor my uit.

 

Wit Afrikaners voel vandag vir die eerste keer sedert die Engelse besetting, hoe dit is om aan die ontvangkant van rassisme te wees. Ek het onlangs te doen gehad met twee meisies wat in enige ander land medies sou kon gaan swot, maar hier in Suid-Afrika - waar ons eintlik ʼn groot tekort aan dokters het - kry hulle eenvoudig nie keuring nie, want hulle is te wit. Dit is onregverdig en uiteindelik tot nadeel van die hele land. Is ons nou minderwaardig, of minder nodig, omdat ons wit is?

 

Rassisme is ʼn ekstreme vorm van hoogmoed, dit sê letterlik: my lewe is belangriker as joune. Omdat ek binne ʼn sekere kultuur gebore is, het my lewe meer waarde en moet ek beter voordele geniet as jy.

Julius Malema se blatante rassistiese opmerkings ontstel ons erg. Hoe durf hy maak of alles wat verkeerd loop in die land die witman se skuld is (deesdae is hy darem ook kwaad vir Zuma). Baie mense, veral jongmense voel verontreg. Hulle het dan lank na apartheid eers opgedaag en nou word hulle sommer oor dieselfde kam geskeer.

Maar dit is hoe rassisme werk. Jy word nie beoordeel op meriete nie, maar op grond van die bevolkingsgroep waaraan jy behoort. Julius dink hy is beter as ons en die hele land behoort aan hom, want hy is swart. Wit mense is volgens hom ʼn bietjie minderwaardig in hierdie land.

 

Die probleem is dat rassisme nie so sleg lyk, wanneer jy aan die bevoordeelde kant staan nie. Solank jy nie aan die ontvang kant is nie, kan dit eintlik ʼn baie aangename oefening wees.

Dit vereenvoudig dinge.

Jy kan maklik oordeel - en die oomblik as jy iets slegs van iemand anders sê, sê jy mos eintlik daarmee ook iets moois van jouself.

 

Dit is vir my altyd interessant hoe van die mees uitgesproke Malema-haters self ook uitgesproke rassiste is. Hulle haat dit dat hy die witman vir alles blameer, maar self huiwer hulle nie om die swartman vir alles te blameer nie.

 

En sê jy hierdie argument vir hulle, antwoord hulle - met volle geloofsoortuiging - dat die groot verskil die "feit is", dat die swartman in werklikheid meer droog maak. Totaal onbewus dat hulle besig is om presies soos Malema te redeneer.

 

Die grootste gevaar wat rassisme inhou, is dat dit ons blind maak vir ons eie hoogmoed. Die rassis is in sy eie oë goed. Hy is totaal blind vir die moontlikheid dat hy geword het wie hy haat. Die verdrukte word deur die eeue heen dikwels die verdrukker presies om hierdie rede. ʼn Klomp ANC leiers redeneer deesdae meer soos PW Botha as soos Nelson Mandela.

Hulle weet dit natuurlik nie, want rassisme maak ʼn mens blind vir jou eie foute.

 

Iemand sê nou die dag as jy die swartes wil aanvaar, moet jy die rassiste ook aanvaar. Wat natuurlik ʼn uiters beledigende uitspraak teenoor swartmense is. Met ander woorde om aan ʼn sekere bevolkingsgroep te behoort is net so oneties as om hoogmoedig of snobisties te wees. Die persoon kon net sowel gesê het: "Dit is ʼn sonde om swart te wees."

 

Sê ek ons moet rassiste haat? Nee. Ons moet rassisme haat - veral in onsself. Ons sal hierdie tipe hoogmoed doelbewus in ons eie harte moet beveg.

 

Rassisme kan 'n mens letterlik dom-arrogant maak. Soos die ou wat probeer bewys dat hy nie te rassisties is nie, want hy ken twee swartes van wie hy hou. Hulle is dalk swart aan die buitekant, sê hy, maar praat jy met hulle kom jy agter hulle is so wit soos ons aan die binnekant - soos 'n coconut.

Iemand van 'n ander kultuur is dus heel aanvaarbaar net solank sy binnekant soos my buitekant lyk.

 

Daar is vandag toenemend mense wat met trots erken dat hulle rassiste is. My vraag is, watter goeie uitkoms sien jy vir hierdie land as ons die pad sou stap van groeiende wit en swart verdagmakery? Help dit enigsins?

 

Ek praat baie met jongmense. Die meeste van hulle is in goeie skole, hulle ouers ry mooi karre, hulle braai elke naweek en hulle gaan jaarliks op vakansie. Die lewe is goed vir hulle hier in sonnige Afrika. Tog het hulle nie ʼn goeie woord te sê oor die land nie. Baie kan nie wag om te immigreer nie.

 

Vra jy hulle wat het gebeur, het hulle nie regtig ʼn antwoord nie. Niks vreesliks het met hulle gebeur nie. Hulle is negatief, want hulle lees goed in die koerant en luister wat die ooms om die braaivleisvure sê.

Rassisme kan maak dat mense wat eintlik baie het om voor dankbaar te wees, geen hoop sien nie. Dit kan maak dat ons ʼn klomp mooi goed mis.

 

Natuurlik het ek simpatie met mense wat seergekry het deur misdaad. Maar ons kan nie maak of almal sleg en wreed is, net omdat ʼn paar so is nie. Almal is tog nie misdadigers nie.

Dit maak ons mos ook vies wanneer alle witmense nou skielik afgemaak word as bose mense, net omdat een of ander wit ou iets stupids gedoen het. Almal is nie so nie, sal ons vinnig sê. Ook oor apartheid vertel mense gou dat daar ʼn klomp boere was wat hulle mense met respek behandel het. ʼn Hele bevolkingsgroep kan nie voor die voet as boos geklassifiseer word, net omdat ʼn paar individue drooggemaak het nie. Kan jy vir die onbekende swart vrou wat langs die straat loop kwaad wees oor iets wat Zuma gesê het? Is dit regverdig? Of vir jou nuwe swart buurman in Pretoria, oor 'n plaasmoord in die Vrystaat?

 

As dit dan sleg is aan die ontvangkant van rassisme, moet ons nie ook help uitdeel nie. Ons moet ons eie kant probeer skoon hou.

 

'n Ou sê nou die dag: “As ʼn mens lief is vir mense van ander kulture is Suid-Afrika eintlik ʼn wonderlike plek om in te woon!” Die ander kant is natuurlik ook waar. As jy 'n rassis is, is hierdie land sekerlik 'n verskriklike plek om in te woon!

Lets face it, niemand gaan van kleur verander nie, jy gaan van gesindheid moet verander - of vrede maak met die feit dat jy vir altyd ongelukkig gaan wees.

 

In ʼn land waar die meerderheid van die bevolking hulleself Christene noem, moet daar dalk weer gekyk word na Paulus se woorde in Kolossense 3:11 “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal”.