• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

BINNE-BREEKAFSTAND-TEOLOGIE

 

 

 

Ons het al dikwels in ons gemeenskap gebid: "Here, breek my hart met die dinge wat U hart breek . . . " dan gesels oor ons die week se stories in die nuus en word een of ander statistiek aangehaal.

 

Die een oggend was anders. Ek was saam met ʼn klompie jongmense en studente in die kindersaal van ʼn tipies vervalle Afrika hospitaal. Elkeen van ons het ʼn baba of ʼn kleuter vasgehou of by die bed van een of ander siek kind gesit. Die een baba se been was gespalk met ʼn stokkie. ʼn Entjie verder het 'n kleuter met erge brandwonde saggies gelê en kreun. ʼn Ander seuntjie het sonder ophou gehuil. “Die ma is gister dood,” verduidelik die suster.

 

ʼn Hopelose situasie. Nie een van ons kon praat nie; nie ʼn enkele woord nie. Maar ek kon letterlik sien (en voel) hoe die jongmense saam met my se harte breek. Baie van hulle is vandag nog besig om iewers te probeer help.

 

ʼn Paar jaar gelede was ek saam met ʼn groepie mense van Pen op ʼn studietoer in Indië, ons wou onder andere gaan kyk hoe Moeder Theresa se Susters of Mercy vandag funksioneer. Die plan was om vir ʼn dag of wat as vrywilligers by ʼn tipe hospice vir straatmense te help, met die hoop om ʼn kykie te kry “van binne af”.

 

Op pad daarheen was daar duidelik ʼn groeiende spanning in ons taxi - elke nou en dan sou een van ons die atmosfeer probeer lig met ʼn grappie of ʼn niksseggende opmerking oor “die strate wat vanoggend darem weer baie besig is”, of so iets.

 

Niemand wou dit hardop sê nie, maar ons was bang. Ons, die gesonde, ryk toeriste van Pretoria was bang vir die totaal weerlose sterwendes van Calcutta!

 

Op die ou einde het die hele storie goed uitgewerk - vir ons in elk geval.

 

Die pasiënte van, Khalighat House for the dying, het ons met baie deernis en begrip ontvang. Hulle kon duidelik aanvoel die hele ding was nuut vir ons, en hulle was besonder geduldig met ons onhandigheid.

 

Selfs wanneer ons een van hulle per ongeluk sou seermaak, het die persoon dadelik vriendelik met die hand beduie: “moenie sleg voel nie, ek verstaan”. Dít, meer as enige iets anders, het ons harte gebreek. En ons het dit só nodig gehad.

 

Aan hierdie tipe weerloosheid voor die pyn van die wêreld is ons teologie, na my mening, ʼn bietjie arm. Ons kort meer blootstelling. Die Klaskamer, studeerkamer en kerkgebou is eenvoudig te veilig, te gemaklik, te ver.

 

Koerante en nuusberigte, selfs goeie missionale boeke, is op hulle beste maar soos die elektriese vensters in ʼn motor met lugreëling. Wat ons deur die vensters sien, vul dalk ons harte met jammerte, maar jy kan nie regtig lief wees vir ʼn statistiek of die karakter in ʼn storie nie. Marinda Van Niekerk het een keer gesê: “There is a difference between reading their stats and seeing their faces - up close.”

 

Selfs goeie teologie is leeg sonder empatie. Die twee is nie veronderstel om sonder mekaar te bestaan nie, maar dit doen.

 

My probleem met baie bedienaars van die Woord vandag is nie hulle gebrek aan teologie nie (hulle sê al die regte goed), maar hulle gebrek aan empatie (hulle loer op ʼn afstand en praat deur die glas).

 

In ons manier van kerkwees vandag, is dit heeltemal moontlik om teologies te floreer, sonder dat jou voete die grond raak, sonder dat jy ooit in die plakkerskamp of middestad kom - waar meeste Suid Afrikaners leef. Dit moet verander.

 

Jesus het afgekom aarde toe, dalk moet ʼn paar van sy gesante dit ook probeer.

 

25/02/2013 Kerkbode/Nuwe Hart