• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Wie werk nou eintlik vir wie?

 

Nou die dag by ʼn partytjie, loop ek ʼn ou raak met ʼn baie interessante storie oor die krag van gebed. Ek kan nie sy naam onthou nie, kom ons noem hom sommer Piet.

  Piet was glo destyds in die spesmagte en het eers later in sy lewe tot bekering gekom. Radikaal! Ek kon duidelik sien die ou doen niks half nie. In sy oë was hy nou deel van God se spesmagte; ʼn recce vir Jesus.

  Die tipe ou wat almal in ʼn hysbak sou stil maak en iets sê soos: “Die hysbak gaan nou op. Maar sê nou die kabel breek en die hysbak gaan skielik af . . . gaan jy op of af?” En dan nooi hy almal om hulle saak met die Here net daar reg te maak. ʼn Vreemde ou.

   Maar hy het iets van die koninkryk verstaan. Hy vertel my die volgende storie.

  ʼn Groep Christen sakemanne het elke Woensdagaand saam gebid. Een aand nooi hulle vir Piet om ʼn boodskap te bring en hulle te lei in gebed. Na hy uit die Bybel gelees het, gee hy ʼn kort boodskap en vra toe of daar enige gebedsversoeke is. Die een sakeman staan dadelik op en sê hulle moet asseblief vir Saartjie bid. Die ander stem saam, almal het gehoor wat met haar gebeur het.

  Saartjie was ʼn maatskaplike werker wat letterlik haar hele lewe gegee het om mense in hulle nood by te staan - ʼn ware sendeling in die gemeenskap. Sy het ʼn nederige lewe geleef; gewoon in ʼn klein woonstelletjie en jare lank dieselfde ou Volla gery. En nou is daai einste Volla gesteel en sy het nie versekering nie.

  Hulle moet asseblief nie vergeet om vir Saartjie te bid nie, sê die sakemanne.

  Piet sê hy het die storie só gekyk en al meer ongemaklik begin voel.

  “Waarvoor moet ons nou eintlik  vir Saartjie bid?” vra hy. “Moet ons bid dat God vir haar ʼn kar uit die hemel uit beam?”

  Die manne het hulle koppe geskud, nou verstaan hulle nie mooi nie.

  Piet sê hy sal verduidelik, maar eers moet elkeen sê hoeveel karre hy besit. Tussen die groepie sakemanne was daar meer as veertig karre, vertel Piet ontsteld. Hy het, in sy eie woorde, amper self ʼn gasket geblaas toe hy dit hoor, maar homself op 'n manier ingehou gekry en probeer verduidelik soos hy beloof het.

  “Vanaand gaan ek julle ʼn spesiale soort gebed leer, en ek waarborg dat God dit gaan antwoord,” sê hy en haal die vers in Jakobus aan wat sê, hulle het nie gekry toe hulle bid nie, want hulle wou net hulle eie selfsugtige begeertes bevredig. “Vanaand gaan ons bid asof óns vir God werk, en nie Hy vir ons nie. Ons gaan aanmeld vir diens. En vir Hom vra wie van ons vir die Saartjie ʼn kar moet gee.”

  Die manne was skielik doodstil.

  Piet sê hulle het daai aand nie lank gebid nie, toe antwoord God hulle gebede - en gebeur daar ʼn wonderwerk in Saartjie se lewe.

  Sy was glo juis self besig om te bid in haar woonstel - ʼn klaaglied - toe daar skielik laat daardie aand ʼn klop aan haar voordeur is. ʼn Vreemde man wat sy nog nooit gesien het nie, het haar vriendelik gegroet en ʼn bossie sleutels in haar hand gesit. Het nie gevra of sy gou saam met hom ʼn fototjie sal neem vir die sendingblad nie - nie eers gesê wat sy naam is nie. Net gesê die kar is van God af, hy stuur die papiere, omgedraai en weggeloop.

  Saartjie se klaaglied het glo in 'n loflied verander. God het haar nood raakgesien, Hy het haar gebed verhoor, vertel sy die volgende dag vir almal wat sy tee kom.

  Iemand het eenkeer gesê, gebed is nie ʼn poging om God se wil te verander nie, maar om sy wil te leer ken. Iemand anders het gesê, om te bid is om aan te meld vir diens.

  Die Nuwe Testament leer ons dat die gunsteling instrument waardeur God sy wil op aarde wil laat geskied, sy liggaam, sy mense is. Suid Afrika kan 'n ander plek wees as God se mense, elke keer wanneer hulle bid, ook sommer aanmeld vir diens.

 

Jaco Strydom