• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Die Kunstenaar en sy mense

 

Vir baie Christene is God die "Groot Wetenskaplike", sy kinders is die mense wat geroep word alles te verduidelik en verklaar aan die hand van die Bybel, sy wetenskaphandboek wat alles uitspel. Vir ander is Hy weer die "Groot Towenaar" en die Bybel sy toorboek. As jy net die regte woorde “spreek” dan gebeur daar allerhande bonatuurlike goed (ek noem dit sommer "Christian Magic"). As jy hierdie ouens hoor praat - of bid - kry jy soms die idee, hulle beweeg Hom, nie Hy vir hulle nie.

Geen beeld is voldoende nie, maar as ek God dan met ʼn beeld kon beskryf, sou ek eerder sê Hy is ʼn kunstenaar.

ʼn Kunstenaar wat sy volgelinge die kuns van die lewe leer, die kuns van liefhê, die kuns van vredemaak, die kuns van droom.

Kunstenaars het die vermoë om die potensiaal in goed raak te sien. Hulle kan nog droom. My vrou skilder. Gee haar ʼn paar dooie buisies verf, ʼn kwas en ʼn leë lap gespan oor ʼn eenvoudige houtraam en netnou-netnou lewe daar ʼn droom op daardie doek.

Die kuns van die lewe het te doen met hierdie misterieuse potensiaal van dinge: dat iets wonderliks gedroom kan word uit ʼn paar dooie goedjies; nuwe lewe uit 'n hopelose situasie; iets ongeloofliks uit niks.

Kunswerke het die vermoë om mense wat net kyk, weer te laat sien. Dit betrap jou dikwels onverhoeds, amper soos 'n wip of 'n strik. Kuns kan jou vasvang. Dit laat jou onverwags nuut kyk na ou goed. Dit kan jou in die nag laat rondrol, nuwe drome laat droom. Kuns sê goed oor God wat nie met woorde gesê kan word nie.

CS Lewis se apologetiese boeke het ʼn klomp mense geraak, maar later in sy lewe het hy hom al meer op die skryf van fiksie begin toespits. Baie meen hy het uiteindelik met sy verbeelding reggekry, wat hy met sy logiese rede nooit kon doen nie.

Lewis se bekering het juis gebeur na hy een aand saam met sy vriend Tolkien gaan stap het . . . Vreemde goed gebeur wanneer kunstenaars connect!

Miskien moet ons almal die lewe bietjie meer soos kunstenaars benader? Leonard Sweet sê die lewe moet dalk eerder gespeel as gewerk word. Soos 'n viool, sê hy, jy werk nie 'n viool nie, jy speel hom. Albei, “werk” en “speel”, mag dalk in hierdie konteks moeite, dissipline en toewyding vra, maar "speel" sê iets belangriks: ons is geroep, nie net om die wêreld 'n BETER plek te maak nie, maar ook 'n MOOIER plek - en om dit te geniet.

Te dikwels word dinge in ons wêreld bloot ekonomies-polities of klinies-wetenskaplik benader.

Iemand het byvoorbeeld eenkeer gesê, "Oorlog is vir mense met ʼn tekort aan kreatiwiteit". Nou dís kuns-taal!

Miskien moet iets soos "vrede-maak" meer soos ʼn kunsvorm benader word? Dalk moet die Amerikaners volgende keer eerder die kunstenaars (die digters, skilders, liedjieskrywers, dansers, komponiste . . . ) instuur om ʼn paar kreatiewe idees uit te dink voor hulle die generaals kry om 'n plek plat te skiet?!

Die heel eerste ding wat ons van God leer is dat Hy kreatief besig is, Hy is die Skepper, die Kunstenaar.

Ook Jesus was kreatief besig (en ek glo Hy is steeds!). Hy het byvoorbeeld die godsdienstiges van sy tyd se teologiese argumente beantwoord met kreatiewe stories - wat ons gelykenisse noem.

Die hele Bybel is vol gedigte, stories en sketse van historiese gebeure, lewenslesse, drome . . .

Vandat ek die Bybel begin lees as ʼn boek vol kunswerke maak dit baie meer sin. Moenie ʼn fout maak nie, ek verstaan nog maar bitter min, maar juis die misterie daarvan is al meer b e a u t i f u l !

Die kunswerk (en die kunstenaar), vra nie in die eerste plek dat ons net sal VERSTAAN of VERKLAAR nie, maar dat ons onsself sal VERWONDER. Dat ons sal sê, "wow!" (en dan stil bly).

God is 'n vreemde Kuntsenaar. Hy skilder skilderye, wat ook kan skilder. Genesis sê ons is volgens sy beeld geskape. Deur elke kunswerk nooi die Kunstenaar ons om saam met Hom te droom. En saam met Hom te skep! Kyk maar na die Bybel, dis vol kunswerke wat deur mense geskilder is.

Maar wat van die van ons wat nie “kunstig” is nie, vra jy.

 Piccaso gesê: Elke kind is 'n kunstenaar, die geheim is om een te bly as jy groot word.

 Dis nogal 'n ontdekking om te maak om te besef dat ek ook geroep word om te droom en te skep. Om te

begin dieper kyk en die potensiaal in dinge te begin raaksien. Om die wêreld te sien nie net soos sy is nie,

maar ook soos sy kan wees.

Hierdie ontdekking is 'n baie subjektiewe ervaring, baie uniek vir elkeen van ons. Mense verskil.

Ek het byvoorbeeld 'n swak geheue, maar 'n goeie verbeelding - 'n gevaarlike kombinasie ek weet!

Die vraag waarmee ek soms worstel is, waar pas geloof in?

Wat is die verhouding tussen geloof en kreatiwiteit?

Dalk is geloof my manier van hoop dat dit God is wat my verbeelding gebruik - en nie andersom nie.

Ek het al die agnostisisme ernstig oorweeg; om af te sien van die hele idee van ʼn persoonlike kenbare God.

Om egter totaal af te sien van die idee van ʼn godlike teenwoordigheid was nog altyd - vir my in elkgeval - heeltemal onmoontlik, buite my bereik. Self al probeer ek baie hard, dink ek nie ek sal kan nie (en ek het al). Die misterie van alles is net te groot. Om die misterie weg te redeneer sou te paradoksaal wees, want ʼn klomp dooie materie wat per ongeluk saam geskommel is, is nie veronderstel om hieroor te redeneer nie.

Dat ontelbare ondenkbare klein energiewolkies en dooie balletjies só in balans tot mekaar rondsweef dat ons vandag daaroor kan wonder, is eenvoudig ʼn wonder. Bill Bryson sê fisika is eintlik maar atome se manier om na te dink oor atome.

Jy moet baie aspris wees om die misterie daarvan te ontken.

Dat ons dooie atmosfeer - wat so dun soos die vernis op ʼn hout-aardbol oor ons lê - seisoene het, met winde wat op sekere maniere waai en wolke, en dat dit ons selfs beskerm teen die radioaktiewe strale van die son . . .

Dat die see - wat eintlik net ʼn massa water is - byvoorbeeld net die regte seestrome het, op net die regte plekke, op die regte tye . . .

Dat daai hemelse gevoel bestaan wat ek gevoel het toe ek en Marina die eerste keer hande vasgehou het (om nie te praat van toe ons die eerste keer gesoen het nie!).

Dat ons die sterre kan sien . . .

Dat ʼn lelike groen wurm op ʼn dag ʼn harde dop groei en dan binne in, eers verander in ʼn vloeistof(!), voor hy verander in ʼn skoenlapper, met ses lang pote en reuse vlerke - dikwels selfs met kolle wat lyk soos die skoenlapper se vyand se vyand oë - en dat hy binne oomblikke weet hoe om te vlieg en waar om nou kos te kry . . .

Dat ek my gedagtes nou hier op 'n dooie ding kan neersit sodat jy dit weer met jou oë kan optel . . . en rond draai in jou eie kop - en dink wat ek dink.

Dit alles kan eintlik maar net beskryf word as ʼn wonder (of dan ten minste as ʼn wonderlike misterie).

Die kunswerke sê daar is ʼn kunstenaar.

Maar die eintlike rede waarom ek glo dat God nie net ʼn onkenbare misterieuse mag is nie, maar 'n persoonlike God - dat daar agter die kunswerk ʼn Kunstenaar is met wie ons in ʼn verhouding kan staan - lê op heel ʼn ander vlak.

Die rede waarom ek in ʼn persoonlike God glo is persoonlik.

Ek glo dit nie bloot omdat daar wonders daar buite is nie, maar omdat Hy my lewe verander het, en dit op ʼn manier wat ek as volwassene moeilik kan beskryf. Die misterie daarvan is van so ʼn aard dat ek dit dalk beter as kind sou kon verstaan en verduidelik. Dit dwing my om nie meer en meer ingewikkeld te redeneer nie maar meer eenvoudig - nie tot groter redenasies nie, maar kleiner. Eerder op die vlak van belewenisse as bewyse.

Die persoonlike God word beter beskryf in ʼn getuienis as in ʼn teorie. In ʼn erkentenis van my eie subjektiwiteit eerder as in my (onmoontlike) poging tot objektiwiteit.

Op die ou einde, as ek moet eerlik wees, glo ek eintlik maar die laaste 23 jaar in ʼn persoonlike God vanuit my ontdekking van Jesus, die vryste wese wat al ooit hier rondgeloop het. As Hy sê God is ʼn persoonlike God, wie is ek om te stry?

Die agnostikus wonder bloot wanneer hy die bewegings in die natuur sien; die fundamentalis wil die bewegings in wette vasvang en verklaar; die Charismaat wil die een wat die bewegings maak probeer beweeg . . .

Miskien is ons grootste uitdaging om te poog om eerder saam te beweeg?

Om toe te laat dat die stroom ons vat!

Nie om soos toeskouers ons bloot afstand te hou of soos towenaars te probeer manipuleer nie, maar om ons deur die Kunstenaar en sy kunswerke te laat meevoer en hopelik te ontdek dat ons ook kan skilder.

Die see is sekerlik een van die mooiste wesens op aarde. Sommige mense staan egter bloot net altyd op ʼn afstand en wonder oor haar. Aan die ander kant is die blote gedagte dat ek en jy kan háár kan beweeg belaglik.

Maar daar is nog ʼn alternatief: Om nader te gaan en haar te geniet. Om in te spring! Om haar branders te ry, om in haar dieptes te duik en haar geheime te ontdek. En selfs kinders kan dit doen (hulle is eintlik beter hiermee as ons).

Een van ons grootste roepings as kerk is om mense weer deel te laat voel van die misterie. Om mekaar uit te daag om in te duik.

Ons hoef nie net altyd te beloer of te beredeneer nie, ons kan deel voel. Maar om die skepping te waardeer vir die groot kunswerk wie sy is, in wie iets van die hart van die kunstenaar self te vinde is, moet ons dalk net eers weer die kunstenaar in onsself ontdek. Dalk werk dit weerskante toe. Alles is tog verweef. 

God se kreatiewe Gees is altyd oral aan die werk. Sy is die lewe self. En as ons dit nie sien nie, is dit dalk omdat ons nie stop om te kyk nie.

Paula D’Arcy het gesê: “God comes to us disguised as our life”.

 

 

Jaco Strydom