• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Die illusie van “goeie teologie”

 

(Rapport 15/12/2013)

 

Dit gebeur dikwels dat ’n mens hoor hoe dosente en ampsdraers van veral die drie susterskerke met genoegdoening opmerk dat “ons gereformeerdes darem baie goeie teologie het”.

Lidmate en teologiestudente word geleer om versigtig te wees vir ander kerklike tradisies. My persoonlike kontak met ander kerktradisies het my egter ernstig laat wonder of ons binne die gereformeerde tradisie nie soms té veel klem plaas op die “regte teologie” en te min op liefde nie. Anders gestel: Selfs die beste teologie is leeg sonder empatie. Die twee is natuurlik nie veronderstel om sonder mekaar te bestaan nie, maar dikwels doen dit.

Dis heeltemal moontlik om ­teologies te floreer in ’n kerkgebou, ’n lesingslokaal of studeerkamer sonder dat jou voete ooit die spreekwoordelike grond raak, sonder dat jy ooit in ’n plakkerskamp of die middestad kom en sien hoe swaar mense régtig kry.

Lelike goed het al gebeur in die naam van sogenaamde “goeie teologie” en dit kan weer! Wie het nog nie die NG-grappie uit die apartheidsjare gehoor nie: Die dominee kom af op Jonas waar hy op sy knieë voor die preekstoel hurk. “Wat dink jy doen jy?” vra die dominee ontsteld. “Ek maak die vloer skoon my baas,” antwoord Jonas. “O,” sê die dominee verlig, “ek dog jy bid!”

Miskien moet ons onsself herinner dat hierdie tot redelik onlangs nie net ’n grappie was nie, dit was ook “goeie teologie” (en is vandag steeds so in sekere kerkkringe, soos die APK).

Daar is baie ironieë in die stryd oor wie reg is oor God. Soos byvoorbeeld die Gereformeerde dominees se sterk teenkanting teen die charismatiese idee dat dit die Here is wat Sy kinders met rykdom en geld seën - die sogenaamde “voorspoedsteologie”, dat God wil hê ons moet ryk wees…

Krap ’n mens egter net bietjie onder die oppervlakte vind jy dat baie gereformeerde predikante en gemeentes eintlik presies dit leef. Charismatiese pastore en Ng-dominees lees dalk die Bybel verskillend, preek verskillend en bid verskillend, maar uiteindelik kom hulle vanuit twee totaal uiteenlopende teologiese strominge by presies dieselfde lewensstyl uit. En hier praat ek nie van buitengewoon skatryk televisie predikers nie, maar gewonde dominees en pastore - soos ek! Ons teologie verskil baie, maar, lets face it, ons lewens lyk eintlik maar dieselfde. Ons kan net so wel ophou stry!

Die Franciskaanse priester ­Richard Rohr waarsku dat die teologie maklik net nóg ’n magspel binne ’n magsbehepte samelewing kan word.

Miskien is die probleem dat ons “goeie teologie” net op papier of in preke soek, in plaas daarvan om te besef dat ’n boom ook aan sy vrugte geken word.

My eie grootste teologiese ontnugtering het gekom vanuit twee uiters uiteenlopende kerklike tradisies: die Katolieke en Charismatiese. Oor die jare is my gereformeerde denke erg verrinneweer deur besoeke aan moeder Teresa se Susters van Barmhartigheid in Kolkatta in Indië en onlangs selfs méér so deur ’n besoek aan die charis­matiese Heidi Baker in Pemba in die noorde van Mosambiek.

Wat my die meeste gefassineer het is hoe baie dieselfde Baker en Moeder Teresa se teologiese uitkyk is.

Almal wat al van Baker se boeke gelees het sal weet dat sy Moeder Teresa as haar grootste menslike rolmodel beskou – al is sy ’n Katoliek! Toe ek Heidi hieroor uitvra, was haar antwoord dat hulle ­teologie “eintlik dieselfde is”. En as ’n teologiese boom aan haar vrugte geken word, is dié uitspraak sekerlik waar.

Heidi se bediening, Iris, gee daagliks kos vir meer as 10 000 armes in Mosambiek. Hulle bedryf honderde kinderhuise, skole en klinieke in Mosambiek, een van dié armste lande ter wêreld.

Haar hele wese skree liefde en eenvoud. Jy sien haar bykans nooit sonder ’n kind op die arm of onder ’n boom besig om in Portugees te gesels met iemand oor hul probleme nie. Die hele “Village of Joy” in Pemba wemel van “haar kinders”. Hulle noem haar “Mamma Aida”. Baie van die jongmense wat vandag leiersposisies in dié gemeenskap bekleë, het jare gelede daar aangekom as honger en verwaarloosde baba’s of kleuters.

Wat my die meeste opval van die teologie van Moeder Teresa, Heidi Baker en ander soos hulle, is die eenvoud daarvan. En hoe verbasend baie hulle regkry met bitter min teologie.

Hulle teologie is liefde. So eenvoudig en so moeilik soos dit. Dit is asof hulle hele wese sê: “Jy kan nie jou lewe vir Jesus gee sonder om jou lewe ook vir die wêreld te gee nie!”

Ná my besoeke aan Indië en Mosambiek vra ek myself al hoe meer af of ek eerder in ’n wêreld wil leef waar die meeste Christene soos my teologie­professors dink, klink en leef – of soos Moeder Teresa en Heidi Baker?

Ek het uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat goeie teologie en liefde veronderstel is om saam te loop. Maar as daar spanning kom tussen die twee, kies liefde!

 

 

 

Jaco Strydom