• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Mag Christene opgewonde raak oor Mandela?


'n Klomp vroom Christene is behoorlik op hulle perdjie omdat daar so 'n ophef van Mandela gemaak word.

“Ons moenie mense vereer nie,” het die soveelste ou my die week probeer reghelp na ek sélf iets moois van Madiba gesê het - en my gewys op al die foute wat hy in sy lewe gemaak het.

Die ironie is natuurlik dat Mandela hierdie vroom volgelinge van Jesus waarskynlik sou vergewe en hulle steeds met liefde sou behandel, al sê hulle sulke lelike goed van hom.

Die ouens worry eintlik heeltemal verniet oor my. Ek aanbid nog steeds vir Jesus. Juis daarom wil ek die mooi in ander probeer raaksien.

Die hele idee dat wanneer ons iets mooi van iemand sê, ons hom skielik in die plek van God stel, is soos om te sê ons moet opgewonde wees oor Jesus, maar nie doen wat Hy gesê nie.

Dit is tog belangrik om nie net 'n passie VIR Jesus te hê nie, maar ook die passie VAN Jesus . . . en Jesus se passie was mense (hy't sy lewe vir hulle gegee).
As 'n boom dan aan haar vrugte geken word, is dit sekerlik net so belangrik om te leef sóós Jesus, as om te praat oor Jesus?

Christene moet waardering hê wanneer iemand in selfopofferende liefde optree, of dit nou Moeder Teresa, Mahatma Gandhi, Nelson Mandela of die boemelaar onder in die straat is. Die definisie van liefde vra dit.

Of word Christene net geroep om lief te wees vir Christene?
Te veel kerkmense sien hulleself as God se speedcops, mense wat geroep is om die sondaars in die wêreld uit te vang - mense met 'n oog vir foute. Terwyl ons dalk juis eerder díé mense in die samelewing moet wees wat die mooi goed in die wêreld kan uitwys, wat 'n oog het vir lig, selfs al is dit ook hoe donker.

Dis Paulus wat gesê het: “ . . . alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is - watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees - daarop moet julle julle gedagtes rig!” (Fil 4:8).

Mandela was nie uniek omdat hy foutloos was nie, maar omdat hy lief was vir sy vyande. Dis sy nederigheid, vergifnis en selfopoffering wat die wêreld fassineer - en ek hoop dit gaan nog baie lank so wees.

Wat Mandela gedoen het is nie veronderstel om so uniek te wees in 'n wêreld met soveel Christene nie, maar dit is!

(Beeld  15/12/2013)