• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Nou die nag op straat . . .

Elke nou en dan besluit 'n paar mense in ons Echo gemeenskap om 'n nag op straat deur te bring, in solidariteit met die haweloses. 'n Paar jaar gelede kry hulle die idee dat ons ook, “soos straatkinders”, onder karton bokse moet slaap, geen slaapsakke, geen komberse, en dit was in die middel van die winter. 

Laat die aand is ek saam met 'n groep van hulle Sunnyside toe vir 'n koue nag op straat. Ironies genoeg was ons groepie die enigste mense wat daardie aand onder bokse geslaap het, die straatmense het almal matrasse en komberse gehad - en hulle het ons nie eers jammer gekry nie! 

Ek sou sekerlik niks goeds kon onthou, was dit nie vir die  eienaardige man wat ek ontmoet het nie. Iemand het by iemand anders gehoor van dié vreemde ou en op 'n manier 'n boodskap by hom uitgekry om by ons te kom “inloer”.

Hy het soos 'n tipiese boemelaar gelyk. Toe ons hom uitvra, vertel hy ons sy storie: Hy was 'n lidmaat by 'n ryk gemeente in die Ooste van Pretoria toe hy op 'n dag diep in homself 'n passie ontdek vir die haweloses van Sunnyside. Die ding wou hom nie los nie. Sy selgroep het saam begin bid. Op 'n dag het hy 'n vreemde gevoel in sy hart gekry. Die idee het by hom opgekom dat as hy regtig die haweloses wil help, hy self op straat moet gaan bly. En dit is presies wat hy toe gedoen het. Daardie aand toe ons hom ontmoet het, was hy alreeds maande op straat. Hy het vertel hoe oop en ontvanklik die straatmense was, van die wonderlike vriende wat hy gemaak het.

Ek het besef ek het baie om by dié ou te leer en heel aand saam met hom rondgeloop. Op 'n stadium vra ek hom wat die grootste les is wat hy besig was om te leer. Hy het gestop en eers na 'n paar oomblikke van stilte geantwoord: “Ek het nog altyd gedink 'n mens moet ryk wees as jy armes te help, maar ek begin nou wonder of dít nie is waar ons die groot fout maak nie. Miskien moet 'n mens arm wees as jy die armes wil help.”

Sy opmerking was te gelyk beautiful en ontstellend. 

Ontstellend, omdat ek skuldig gevoel het dat ek dit nie ook doen nie. 

Beautiful, want dit het my herinner aan wat Jesus vir my gedoen het - sekerlik die mooiste vertaling van die Evangelie in ons konteks vandag wat ek nog ooit teëgekom het.

'n Mens sou kon opmerk dat wat dié man doen 'n onpraktiese uitsondering is, onmoontlik vir meeste kerkmense, maar jy moet ook erken, die wêreld sou 'n beter plek wees as meer mense die Evangelie soos hy verstaan!

Is die Evangelie nie maar nog altyd die beste gekommunikeer vanuit 'n posisie van weerloosheid nie? Mense glo eenvoudig nie 'n boodskap van liefde, wanneer dit van 'n veilige afstand af geskree word nie. Dis tog hoekom Jesus “afgekom het aarde toe”. 

Ek wonder soms of ons manier van kerkwees vandag nie net té netjies, té veilig en té smart is vir 'n stukkende wêreld nie.

Een van die goed wat my destyds, toe ek in vir 'n tyd lank in Indië gewoon het, die meeste ontstel het, was die baie kinders wat saam met hulle ouers op straat woon, met niks. Tog, soveel as wat ek ontsteld was, was ek ook altyd verbaas oor hulle vreugde (Calcutta byvoorbeeld, word nie verniet “The City of Joy” genoem nie). Die woorde van die vreemde man op straat het my herinner aan 'n droom wat ek een keer gehad het:

Dit was oor een van daai vrolike Indiese kinders in die vuil strate van Varanasi. 

Sy het uit 'n donker stegie verskyn - soos ʼn engel - nader gestap en vreemd na my gekyk. Iets het haar duidelik ontstel. Eers toe sy naby genoeg was, kon ek sien dat sy MY jammer kry. Sy wou huil. Dit het gelyk asof sy iets wou sê. Haar oë het gehuiwer.

Die kind wou my help, besef ek met 'n skok, maar sy weet duidelik nie waar om te begin nie.    

Dit was asof sy geweet het dat ek nooit gelukkig sou wees sonder 'n klomp materiële goed nie. Haar eenvoudige blydskap, in daai vuil stegie, was onmoontlik vir iemand soos ek.

Toe glimlag sy maar net vriendelik vir my - en ek glimlag terug, in 'n swak poging om my verleentheid weg te steek.