• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Belhar? (sug)

 

Die mense met wie ek te doen kry voel min vir denominasionalisme, kerkreg en belydenisskrifte. Hulle weet eintlik nie eens wat die woorde beteken nie (en van hulle is dominees se kinders!). Hulle motivering om die dinge te doen wat Belhar sê, kry hulle sommer by die bergpredikasie self.

Dit sal baie meer beteken - vir hierdie wêreld - as ons die energie wat ons insit om Belhar ingestem te kry, sou gebruik om te doen wat die belydenisskrifte sê (dan sou dit ook sommer makliker ingestem word). Die wêreld het die demonstrasie daarvan meer nodig as die kerkpolitiek daar rondom.

Verbeel jou 'n paartjie met erge verhoudingsprobleme wil hê ek moet hulle trou en ek sou sê: "Kom ons handel net eers die formaliteite af en dan werk ons weer aan die eintlike redes waarom julle nie oor die weg kom nie!"?

Jy sal sê, Jaco jy is 'n horrible huweliksberader! (En ek sou sê: ja, en dis waarom ek eerder met wilde tieners werk)

Dis belangrik dat ons eerlik kyk na die redes waarom dit tot op hede (dis al 2014) so sukkel om ingestem te word: Aan die een kant, die redelike groot groep van ons NG kerkmense wat nie sterk voel oor eenheid met ander kulture nie - die ironie dat eenheid, verdeeldheid kan veroorsaak. Aan die ander kant die feit dat die nood in Suid-Afrika in praktyk lae prioriteit is (“in praktyk” soos in “op gemeentes se begrotings en kalenders” teenoor “in teologie”, die meeste dominees lees tog die regte boeke en gebruik woorde soos “missionaal”). Nie 'n lekker gedagte nie, maar baie van ons eie kerkmense is na 'n leeftyd se prediking en Bybellees steeds meer materialisties en rassisties as wat ons wil erken. Bitterheid oor die verlede en Mammon self, speel 'n groot rol aan beide kante van die gesprek.

As dit vir die sinode belangrik is dat ons nader aan die VGK beweeg (as wat Belhar sê régtig belangrik is), moedig dan gemeentes aan om saam eredienste te hou, saam uit te reik na die gemeenskap, gereeld saam te eet - saam wyn te drink! Kondig 'n maand af waarin die hele NG Kerk teen hoogmoed en rassisme preek (en die VGK). Skep geleenthede waar bruin en wit kinderkranskinders saam inkleur. Motiveer die vrouediens om tee te drink anderkant die draad. Ons sal meer moet kuier as ons wil hê díé ding moet werk!

Dis belangrik dat ons strukture tot bekering kom, maar 'n ware bekering van strukture sal iets sê van 'n dieper bewuswording en groei.

My vrees is, dat sou Belhar ingestem word, die NG Kerk bloot die volgende dag internasionaal beter sou lyk, sonder om beter te wees. Dat werklike eenheid met ons broers en susters van nie-wit-kerke soos 'n teoretiese droom iewers in 'n dokument bly lê.

Een van die goeie dinge van die hele Belhar gesprek is dat dit rassistiese gemeentes help om eerlik te wees. Kanse is goed dat 'n oom iewers op 'n kerkraad sy mond verbypraat. En dis goed, want ons kan doen met meer waarheid en minder window-dressing. Daar is 'n verskil tussen people pleasing/politieke korrektheid en LIEFDE.

As ons in die begin 90’s vir Belhar kon stem sou ek meer opgewonde gewees het (en baie van die mense wat sou wegloop APK toe, sou teen hierdie tyd al weer terug gekom het).

Ek hou van Belhar - sal vir haar stem by die verkiesing - maar die kerkpolitiek daar rondom (ook van die VGK se kant af) laat soms 'n effense naar gevoel.

Ek het onlangs 'n mooi ding gesien by die NG Gemeente in Prieska. Hulle het die betrokke Sondagoggend hulle kerk se deure gesluit en saam met ander gemeentes 'n multikulturele erediens gehou op 'n rugbyveld in die informele woongebied. Dit was deel van die “Prieska onder konstruksie” inisiatief, waar kerke van verskillende denominasies saam fokus op uitdagings soos armoede, dwelmmisbruik en gesinsverbrokkeling. Dit gee mens hoop! As dit moontlik is op Prieska, is dit moontlik op ander plekke.

Wat die Belhar belydenis vir my so aantreklik maak is dat dit ons daarop wys dat die nood in die gemeenskap díé ontmoetingsplek kan wees waar ons nuwe eenheid met mekaar en God ontdek.

As ons gaan wag dat dit ingestem word, doen ons presies die teendeel van dit wat die belydenisskrif sê.

Die Belhar gesprek is soms 'n bietjie top heavy. 'n Bietjie soos 'n “gereelde troue” (arranged marriage). Dalk moet ons meer moeite doen dat die tweetjies mekaar beter leer ken voor die troue. Dalk word hulle so verlief op mekaar dat 'n klomp dinge sommer vanself begin gebeur!

 

"Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal . . ." Kol3:11

(Kerkbode rubriek 29/09/2014)

Jaco Strydom

 

 

 Lees ook:

Die skoolhoof se vreemde woorde

'n Mens moan nie met 'n mond vol kos nie 

 

 

 

Belydenisskrifte is nie skuilings nie 

(Jaco Strydom - Kerkbode rubriek 04/10/2015)

Daar was heelwat stemme in die Artikel 1 gesprek wat daarop gewys het dat die wroegings teen Artikel 1 nie so seer gaan oor die inhoud van Belhar, as oor die aard van belydenisskrifte en of Belhar daarby inpas nie. Vir hulle lê die probleem op die gebied van die kerkreg. Belydenisskrifte is net té belangrik, sê hulle. My vriend, Francois Smit, het my nou die dag hierop gewys en opgemerk hoe jammer dit is dat die hele Artikel 1 proses vir 'n klomp Ng-mense die geleentheid gegee het om agter praatjies oor kerkreg te skuil terwyl die hart van kerkwees in Afrika ter sprake was.
  Lelike dinge het al gebeur te midde van goeie-teologie-praatjies, stewige kerkstruture en mooi belydenisse.
  Meer as helfte van die Nazi’s wat hulle broers en susters in Europa aangeval, gemartel en vermoor het, het 'n paar jaar van te vore belydenis van geloof afgelê, jy kan mos net 'n belydende lidmaat van 'n Gereformeerde kerk wees as jou belydenis “reg” is - en moenie ’n fout maak nie, die kerk het seker gemaak daai Duitsers se belydenisse was reg.
So te sê al die Engelse soldate wat in die boereoorlog plaashuise afgebrand en meer as 26000 vroue en kinders in konsentrasiekampe laat sterf het, was belydende Christene. Hulle eie mense by die huis in Engeland het elke Sondag in die kerk gebid dat die Here hulle sal seën en beskerm - in die naam van Jesus.
  Apartheid is gedryf deur mense wat Sondag vir Sondag bely het dat hulle grootste lojaliteit by Christus lê, dat jy die Here jou God bo alles moet liefhê, “en die tweede wat hiermee gelyk staan, jou naaste soos jouself”.
Ons groot probleem is nie 'n tekort aan mooi belydenisse nie, maar die uitlewing van die mees basiese beginsels van die Evangelie.
  Die wêreld buite die kerk sukkel om te sien waaroor ons so aangaan - in die artikel 1 / Belhar gesprek. Ek moet erken ek vind dit pynlik om die hele kabaal aan iemand buite die kerk (of van ander denominasies) te probeer verduidelik. Hulle verstaan niks van ons kerkreg nie (en nou moet ek maak of ék doen), die hele idee maak glad nie vir hulle sin nie, hulle verwag bloot van 'n kerk om te practice wat sy preach.
  Dis nog altyd vir my interessant om te sien hoe die sekulêre wêreld nie die kerk beoordeel op sekulêre waardes nie, maar op grond van haar eie waardes, haar eie boodskap. Die een ding wat hulle die meeste laat kopkrap is wanneer 'n kerk nie liefhet, genade bewys of omhels nie.
  Ek sê nie belydenisse het geen plek nie, maar dit is belangrik om daarop te let dat Jesus, volgens die Evangelieskrywers, baie meer gepraat het oor hoe ons moet lewe, as oor “wat ons moet bely”. Hy waarsku aan die einde van Mattheus 7 dat 'n godsdienstige die regte belydenis kan hê en steeds God se hart heeltemal mis. Jesus “het met gesag gepraat, en nie soos die skrifgeleerdes nie”, want Hy het gedemonstreer en nie net bely nie. (Juis om hierdie rede het ek gevoel dat die Belhar belydenis met haar klem op die praktyk van kerkwees in Suid-Afrika vandag, ons ten minste 'n bietjie sou kon help)
  Dis jammer Artikel 1 is uit. Die wat dit uitgestem het sê uiteindelik nie net dat hulle nie Belhar wil aanvaar nie, maar dat hulle nie eers dié wil aanvaar, wat dit wel wil doen nie. Hulle aanvaar met ander woorde slegs die wat bely “soos hulle bely” as hulle broers en susters? Al bely daai mense ook Jesus as die opgestane Here?
Sjo! Is dit waarvoor Jesus in Johannes 17 gebid het?
  Dis baie lelik van hulle, maar aan die ander kant, lets face it: belydenisskrifte waarborg op die ou einde niks nie. In praktyk lyk gemeentes wat vir Belhar is, en wat daarteen is, op Sondaeoggende ontstellend baie dieselfde.
Niks staan in enige gemeente se pad om te DOEN wat Belhar sê nie, jy het nie die toestemming van 'n belydenisskrif of 'n sinode daarvoor nodig nie - ons het die vier Evangelies!

 

Jaco Strydom

(Kerkbode rubriek 04/10/2015)

 

 

 

Lees ook:

Die kerk en mag - in die tyd van Zuma

Dalk moet ons kerkstrukture ook meer soos Jesus lyk . . .

Groeiende vryheid in die kerk doen meer goed as kwaad