• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Die Kerk en Konflik

Een van die kerk se grootste uitdagings in die poging om 'n vredemaker te wees, is om konflik te akkomodeer. As ons regtig wil luister (en hoor) sal ons moet leer om nie bloot spanning te probeer oplos nie, maar ook om spanning te verdra. 

Ek en Marina is dalk albei dominees, maar moenie laat ons jou bluf nie, ons baklei nie soos dominees nie. Alles behalwe, as ons baklei doen ons dit ordentlik! En ons kan, want as 'n mens besluit het om “aan te gaan met mekaar maak nie saak wat nie”, is konflik nie noodwendig iets wat die eenheid bedreig nie - dan het dit selfs die potensiaal om eenheid te bevorder. Konflik kan maak dat mens mekaar weer hoor.

Werklike eenheid kan net bestaan waar ons werklik eerlik kan wees met mekaar. Waar ons eerlik luister én eerlik praat. Waarheid bring diepte in 'n verhouding. 

Wat is die alternatief? 

Ek is nie seker wat die ergste is nie, wanneer ons nie na mekaar luister nie, of wanneer ons net vir mekaar sê wat die ander een graag wil hoor. Dan het ons bloot 'n tipe skyn eenheid wat M Scott Peck “Psedo Community” noem - verhoudings wat gebaseer is op voorgee.

Dít is waar van alle gemeenskappe, ook die kerk. Veral met betrekking tot haar verhouding met die wêreld. Sy kan net 'n plek van versoening wees, veral in 'n samelewing met soveel diversiteit, as sy konflik kan akkomodeer.

As mense nie eerlik kan wees by die kerk nie, waar dan? - en waarheid lei amper altyd tot konflik.

Die uitdaging is om te streef na verhoudings wat uiteenlopende interpretasies en opinies oor die waarheid kan hanteer. Verhoudings waarin mense aanmoedig word om hardop te wonder; te sê wat diep in hulle aangaan.

Dis tog juis die vrees vir konflik wat maak dat ons ons eerder op 'n afstand hou, wat ons weerhou daarvan om betrokke te raak. 

Verhoudings gaan ten diepste oor intimiteit - oor die uitwissing van afstand. 

Om werklik eerlik te wees en werklik na mekaar te luister, kom nie vir meeste van ons natuurlik nie, dis 'n groot uitdaging wat selfopoffering en dissipline vra. 

Dis een ding om na iemand te luister as hy/sy sê wat jy graag wil hoor, of selfs na jou vrou as sy kwaad is vir jou, maar Jesus roep ons om ook lief te wees vir ons vyande - ook te luister na die wat die verste van ons verwyderd is.

Meeste Linkses is net oop vir almal lings van hulle - en Regses net vir die regs van hulle.

Om te luister is om te soek na empatie.

Ons as kerkmense het nogal die reputasie dat ons “preekmense” is (kyk net hoe prekerig raak ek hier), maar sê nou dit kan verander en ons kan eerder bekend staan as “luistermense”.

    Luistermense het groot harte, maar ook dik velle! Hulle soek nie net die op wat sê wat hulle graag wil hoor nie. Hulle besef hulle het dalk die meeste om te leer, juis by díé wat die meeste van hulle verskil.