• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

So Wild soos die Waarheid

Wanneer Jesus sê dat ons nie moet bekommerd wees oor wat ons moet eet of aantrek nie, want God sorg dan vir die voëls en die lelies . . . is dit vir meeste van ons alles behalwe goeie nuus. Ons is vies wanneer ons dit lees. Ons wil só graag meer en meer goed hê om oor te bekommerd te wees! 

Vryheid maak ons bang.

Ek dink nie Jesus was besig om ons op 'n guilt-trip te sit oor ons besittings nie. Hy wou wys hoe min ons regtig nodig het om gelukkig te wees. Hoe eenvoudig dit eintlik is om te lewe. Hoe vry ons oorspronklik gemaak is om te wees. 

Liefde kan net bestaan waar daar vryheid is. Sonder vryheid is daar net afhanklikheid, nie liefde nie, sê M Scott Peck in sy boek, A Different Drum. 

'n Mens sou kon sê dis 'n misterie dat God daai “verbode boom” in die tuin van Eden gesit het, die groter misterie is egter dat ons kies om in die skadu van daai enkele boom te lewe. Die verbode boom was die klein uitsondering, die enkele oop deur - for just in case we wanted out.

Die skeppingsverhaal in Genesis 2 lees soos 'n gedig. Op 'n stadium sê die skrywer: “Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie”.

Toe ek dit nou weer lees, skree iets hier binne in my (en ek dink nie dit was net my hormone nie). Daar is iets in ons wat steeds verlang na die tuin van Eden. Wat weer vry wil wees. Wat wil kaal hardloop sonder om skaam te wees. Ons smag daarna, en as ons dit nie kan kry nie, vul ons die leegheid met allerhande goed, al kan dit daai knaende verlange selfs net tydelik verdoof.

Waarvoor is ons bang? 

Volgens Jean Vanier is ons grootste vrees “om werklik geken te word”. In 'n wêreld waar almal moet goed lyk - moet voorgee - is rou waarheid 'n skrikwekkende gedagte.

Toe ek 'n kind was, was die kerk alles behalwe 'n plek om geken te word. 

Ek onthou nog my ma se vermaning Sondae, dat ons “versigtig moet wees hoe ons onsself voor die kerkmense gedra” en hoe ons ons moes “mooi maak” vir kerk. By die kerk het jy net jou beste kant gewys. Jy sou moes wag tot jy weer by die huis of tussen jou vriende was, voor jy weer jouself kon wees.

Dinge het natuurlik baie verander, maar ek wonder soms of ons nie bloot formele byeenkomste verruil het vir informele byeenkomste nie. 

Kerkwees is veronderstel om oor meer te gaan as deelname aan geestelike byeenkomste. 

Ek gesels toenemend met kerkmense - dikwels dominees - met 'n diep verlange na community. Iewers diep binne ons almal is daar hierdie oer-behoefte om werklik geken te word, om werklik te ken, om te deel en saam te ontdek. Die mens is 'n tropdier.

'n Lewe van vryheid en eenvoud word moontlik in gemeenskap (wanneer almal alles deel, het elkeen van ons soveel minder nodig), maar daar is ook risiko’s. Hoe nader ons ander toelaat, hoe meer weerloos is ons en hoe seerder kan ons kry. 

n Mens kan egter slegs werklik veilig wees teen hierdie tipe seerkry, as jy jouself isoleer. Die alternatief vir intimiteit is eensaamheid. 

Wanneer mense kies om naby aan mekaar leef en al meer te begin deel, begin verdedigingsmeganismes en maskers val en word die rou waarheid blootgelê. 

Waarheid skep amper altyd 'n mate van konflik (voorgee is dikwels 'n poging om konflik te vermy).

Ek het al dikwels gesien hoe mense wat ons Echo gemeenskap besoek aanvanklik heel beïndruk is, maar gou 'n mate van ontnugtering beleef as hulle ons eers beter leer ken. Daar is dalk liefde en selfopoffering, maar daar ook baie chaos en konflik. Ek wonder soms, wat het hulle verwag? St Franciscus se happy band of brothers? I wish!

Van nature streef ons as mense daarna om goed te lyk en goed te voel, eerder as om goed te wees - meeste van ons energie gaan dan daarin om te beïndruk of te verdoof, eerder as om te groei.

Die idee dat community “'n plek van aanvaarding is”, is net die helfte van die waarheid. Mense wat omgee vir mekaar, aanvaar mekaar nie sommer maar net nie. Hulle glo ook in mekaar se potensiaal. Hulle daag mekaar ook uit om te groei. Dis wat liefde doen.

Persoonlik hou ek ook nie daarvan dat mense aan my karring nie, dis ongemaklik om mense so naby aan jou te hê (veral as jy 'n dominee is), maar ek kom agter dat ek eerlike spieëls in my lewe nodig het. 

Die uitdaging is om nie vir die spieëls kwaad te wees as ek dinge sien wat ek nie van hou nie. 

Om “vry te wees” is om nie te moet stop nie, maar aan te hou beweeg na wie ek gemaak is om te wees. Richard Rohr sê: “Sin happens whenever we refuse to keep growing.”

Ons vrees vir kaal-wees weerhou ons daarvan om die tuin van Eden in ons tyd te ontdek - om uit te vind hoe min ons eintlik nodig het om gelukkig te wees.