• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Dalk moet ons kerkstrukture ook meer soos Jesus lyk . . .

 

 

'n Kunstenaar was besig om met ʼn bytel en hamer aan ʼn groot rots te kap. Sy vriend kom verby en vra, wat kap jy so? Hy verduidelik dat hy besig is om ʼn standbeeld van ʼn perd te maak. Waarop sy vriend opmerk dat dit sekerlik ʼn baie moeilike taak moet wees. Nee, antwoord die kunstenaar, dit is eintlik heel maklik, jy kap net alles af wat nie soos ʼn perd lyk nie!

    As ek dissipelskap reg verstaan gaan dit daaroor dat ons God vra om alles af te kap wat nie soos Jesus lyk nie.

    Dis ʼn moeilike proses, pynlik om die minste te sê, so wat doen ons dikwels? Ons kap eerder vir ons ʼn Jesus wat meer soos ons lyk. ʼn Gemaklike veilige Jesus wat saam met ons gaan, wat in pas by ons drome. In die woorde van Mark Twain: "God created man in his own image. And man, being a gentleman, returned the favor."

    Die kerk is gedurig besig met een van twee dinge. Of om meer soos Jesus te word of om Jesus meer soos ons te maak.

    Ek was by 'n konferensie waar die aanbieder gevra het wat die eerste gedagtes is wat by ons opkom as ons die woord, Kerk, hoor. Heelwat later in sy aanbieding vra hy op 'n stadium wat die eerste gedagtes is wat by ons opkom as ons die woord, Jesus, hoor. Ek het my verstom oor hoe ons gedagtes oor die kerk verskil van ons gedagtes oor Jesus.

    Jesus was vry en dapper en weerloos en naby . . . Dis jammer dat dít dikwels die laaste woorde is wat opkom as jy iemand vra om die kerk van vandag te beskryf.

    Dit is belangrik dat ons as individue gereeld tot bekering kom - toelaat dat God ons verander om meer soos Jesus te lyk. Maar dalk is dít ook nodig vir die manier waarop ons onsself organiseer. Dalk moet kerkstrukture ook meer soos Jesus lyk?

    En moenie 'n fout maak nie, vreemde goed het al tot bekering gekom! Ons Echo-trok was 'n ou weermag trok wat destyds gebruik is om oorlog te maak, tot drie van God se mense hom tot bekering gelei het", vandag maak hy vrede en bring hy hoop.

    Dalk moet kerkgeboue ook bekeer word? Deur byvoorbeeld oop (en weerloos) te wees gedurende die week. Jesus het gesê: Kom na my toe almal wat moeg en oorlaai is. Meeste kerkgeboue het deesdae vurkieheinings wat eintlik sê: Bly weg - tot Sondae 09h00.

    Ons kan preek wat ons wil op Sondae, maar as ons strukture die res van die week iets anders sê, maak dit die wêreld net meer skepties oor ons boodskap.

    Eintlik moet elke kerk 'n groot bord na die straat hê wat sê: Dwelmverslaafdes, prostitute, misdadigers, gomsnuiwers, losbandiges, rassiste, dobbelaars, haweloses, daggarokers, vlugtelinge, kwaadpraters, skynheiliges, ateïste, materialiste, straatkinders, werkloses, moeilikheidmakers, moedeloses . . . sondaars, eensames, siekes, verdruktes Welkom!

    Kerkstrukture mag nie selfsugtig wees en net gaan oor kerkmense nie. Dit moet eerder uitstuur as bewaar, eerder die wêreld innooi as probeer uithou.

    Die wêreld is so min die vyand van die kerk as wat die see die vyand is van 'n visserman. Jesus het van sy grootste weerstand gekry as gevolg van die tipe mense met wie hy uitgehang het - die wat nie welkom was by die tempel nie.

    Dalk het ons hele manier van kerkwees 'n bekering nodig, terug na die vryheid, die selfloosheid, die eenvoud, en die toeganklikheid van die lewe van Jesus.

    God se plan vir die wêreld is eenvoudig dit: 'n Kerk wat soos Jesus lyk - nie 'n kerk wat net onthou wie Jesus was nie.

 

(Beeld 16/04/2014)

 

Jaco Strydom